Skip to the content

ATKV-tak wil HOOP bring met gedigtekompetisie

Nie eens die hoogs aansteeklike en gevreesde koronavirus kan lede van die ATKV-tak Sonneblom in Despatch keer om taal en die kunste te bevorder nie.

“Tydens ons jaarlikse beplanning vir 2020 het ons besluit om ’n gedigtekompetisie te hou,” vertel Anette Becker, takvoorsitter. 

“Ons tak is baie maatskaplik georiënteerd, maar ons is ook baie lief vir Afrikaans en die kunste. Daarom het ons besluit om steeds met die maatskaplike fokus voort te gaan, maar ook iets ter uitbreiding van ons pragtige taal te doen.”

Anette sê hulle wil as tak aan elkeen ’n geleentheid gee om kreatief te wees met Afrikaans en terselfdertyd mense bemoedig. Die digkompetisie se tema is immers Hoop.

“Ons het op die onderwerp besluit omdat daar juis baie mense is wat in hierdie tyd hoop verloor het.

“Mense se kinders is in die greep van dwelms vasgevang en hulle het nie meer hoop vir hulle nie. Huwelike word verpletter, mense is werkloos en so kan ons baie hopelose situasies opnoem.

“Niemand het besef wat 2020 vir ons gaan inhou nie. Met die grendeltyd het niemand geweet hoe ons met ons planne vir hierdie jaar sal kan voortgaan nie.

“Ons het besef dat ons nou meer as ooit aktief kan wees op ’n ander manier.”

Die kompetisie bestaan uit verskillende kategorieë.

Kategorieë vir laerskoolleerders is graad 1-3, graad 4-5 en graad 6-7. Hoërskoolleerders kan ook hulle slag wys en sal meeding in die graad 8-10- en graad 11-12-kategorieë. Volwassenes word ook uitgenooi om die pen nader te trek en te dig.

Die wenner van elke kategorie sal drie Lapa-boeke en ’n ATKV-geskenkpakkie ontvang. Die twee naaswennners in elke kategorie sal ook elkeen ’n ATKV-geskenkpakkie ontvang.

Deelnemers kan hulle inskryf deur ’n gedig te skryf van nie meer as 200 woorde nie. Dit moet in digvorm wees met ’n duidelike titel waarin die woord “hoop” voorkom. Slegs een inskrywing per deelnemer is toelaatbaar.

Die werk moet oorspronklik wees en niemand mag namens iemand anders of anoniem inskryf nie. Dit moet iets nuut wees wat nog nie elders, soos op sosiale media, verskyn het nie.

Met die inskrywing gee die persoon ook die ATKV die reg om die gedigte op enige van sy platforms te gebruik of te publiseer.

Sluitingsdatum vir inskrywings is 30 September.

Vir meer inligting kontak Anette Becker by anettebecker@polka.co.za.

Sien volledige inskrywingsvorm hier.