ATKV-DigiPraat: 5 Wenke om jou aan die praat te kry
William Sezoe, taalaktivis en omroeper van sy eie radioprogram, wil graag hê jy moet vir ATKV-Digipraat inskryf. Hier is vyf wenke om jou op die wenpad te plaas.
William Sê “Zoe” – wenk 1:
Praat oor 'n onderwerp wat jy ken.
As dit nodig is, doen eers navorsing om meer kennis in te win waaroor jy wil praat.
Moenie laat iemand die toespraak vir jou skryf (of selfs koop!) nie. Doen die meerderheid of al die werk. Onthou: dit is nog ’n vaardigheid waarmee jy kan spog.
William Sê “Zoe” – Wenk 2:
Maak seker dat jy presies weet hoe die struktuur van die toespraak moet lyk.
As jy jou toespraak uitwerk, hou by die korrekte struktuur.
Pasop om net te skryf en te praat soos wat jou koorsige emosies jou lei.
Beplan daarom vooraf en deeglik.
Maak gebruik van ’n kopkaart/spinnekopdiagram/vloeidiagram/kernwoorde. Probeer om veral jou struktuur reg te kry met logiese en samehangende verband tussen sinne en paragrawe. Maak seker dat jou toespraak ’n eenheid vorm.
William Sê “Zoe” – Wenk 3:
Maak seker dat jy ’n aandagskop-inleiding het. Boei jou gehoor die oomblik wanneer jy jou mond oopmaak sodat hulle uitsien na die res van jou toespraak.
Hou jou taalgebruik eenvoudig, maar tog kreatief en mooi. Jy kan mooi atmosfeer skep deur die gebruik van byvoorbeeld jou woordkeuse, beelde en klanke, afwisseling van kort en lang sinne en suggesties.
William Sê “Zoe” – Wenk 4:
Daar is ’n groot verskil tussen ’n opstel en ’n toespraak. Maak seker dat wanneer jy dit skryf, jy deurentyd in gedagte hou dat jy met ’n gehoor gaan práát.
William Sê “Zoe” – Wenk 5:
Maak seker jou toespraak het ’n duidelike uitgangspunt en vat dit sommer saam in jou slot wanneer jy dit terugtrek na jou treffende inleiding.
Is jy nou gereed vir praat?
Besoek die webblad vir die deelnemersgids en om jou inskrywing op te laai.
Inskrywings sluit 1 Julie.
Kontak vir Melanie by MelanieM@atkv.org.za vir verdere navrae of hulp met jou inskrywing.