ATKV-DigiProjekte is hier!
Die teaters is stil waar tieners gewoonlik die gehoor met ATKV-Tienertoneel meegevoer het.
Geen ATKV-Jeugberaadgangers baljaar in die ATKV-oorde se swembaddens nie. Die klaskamers is verlate waar leerders gewoonlik vurig en met passie hulle toesprake vir ATKV-Redenaars gelewer het. Die lewe soos ons dit geken het, het handomkeer verander.
Maar die ATKV beskou die staat van inperking as ’n uitdaging om met nuwe ywer en innoverende projekte deelnemers te stimuleer.
“Die ATKV se projekte het vir baie jare gefokus op sosiale interaksie, opleidingskursusse en gesonde wedywering onder mekaar. Die Covid-19-pandemie het dié model in sy spore gestuit. Dit het ons genoodsaak om ons projekaanbod aan te pas om nog steeds relevant te bly,” sê Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof: taal en kultuur.
’n Verskeidenheid van splinternuwe projekte gaan deur die ATKV aanlyn aangebied word en is ook vir die eerste keer toeganklik vir dié wat oorsee bly en passievol oor Afrikaans is.
“Oor die afgelope 90 jaar het die ATKV gehalteprojekte vir jonk en oud aangebied, ons gaan nie nou stop nie,” sê Gerrie.
“Deelnemers kan vanjaar uitsien na opwindende, innoverende aanlyn projekte wat individue se skeppende vaardighede op ’n kreatiewe wyse gaan stimuleer.”
Die ATKV stel op 1 Junie ’n reeks DigiProjekte bekend.
Dié projekte sluit in ATKV-DigiSpel waar deelnemers aanlyn aan ’n spelkompetisie kan deelneem; ATKV-DigiTaal waar taalboffins aanlyn hulle kennis oor die Afrikaanse taal kan toets, ATKV-DigiGroei is ’n reeks webinare deur topsprekers in die politiek, ekonomie, onderwys en tegnologie.
Vir die kunssinniges en skrywers is daar ATKV-DigiSkryf en ATKV-DigiKuns, ’n platform waar jy jou gunsteling- Afrikaanse gedig kan kies – of jou eie gedig – en ’n visuele interpretasie daarvan in die vorm van ’n oorspronklike kunswerk kan skep.
ATKV-DigiKaptein gaan leerlinge in leierskaprolle die gereedskap gee om die beste van hulle leierskapjaar te maak. ATKV-DigiPraat en ATKV-DigiSpanpraat gaan deelnemers die geleentheid gee om te redeneer en saam te gesels oor die wêreld en hoe om sy probleme aan te pak.
ATKV-Entrepreneurs, ATKV-KomposisieKompetisie en ATKV-Tienertoneel word steeds in 2020 aangebied, maar het aanpassings binne die projek gemaak om aanlyn aangebied te word.
“Tans beleef ons ’n wêreldkrisis wat almal raak,” sê Gerrie.
“Die ATKV sien die Covid-19-pandemie as ’n potensiële geleentheid om op ’n konstruktiewe wyse hulp aan ons deelnemers te verleen. Deur ATKV-projekte wil ons elke deelnemer help om emosioneel te groei en te ontwikkel.”