Onthou die naam, Jodi Jantjies!
Die ATKV stel vandag op Jeugdag 2020 met trots Jodi se eerste enkelsnit bekend.
Hierdie is die volvoering van ’n vier jaar lange pad wat ATKV-Crescendo met Jodi stap sedert haar eerste oudisie in Maart 2016 as 15-jarige by die Cedar Sekondêre Skool in Mitchells Plain.
Gedurende die laaste vier jaar het Jodi ’n verskeidenheid werkswinkels, ’n mentorprogram en ’n finale slypskool bygewoon. Sy het ook die geleentheid gehad om op verhoë by die KKNK, Suidoosterfees, Gariepfees en Aardklop op te tree.
Tydens die #OnseFees in 2019 het die Rieldansfinaal geopen met die sing van die volkslied. Sy het hierdie geleenthede gedeel met mede-finaliste van ATKV-Crescendo, sowel as groot name soos HemelBesem, Anna Davel, Deon Meiring, Danie du Toit en Die Hooflig.
Jodi het ook as mentor tydens ATKV-Crescendo se mentorprogramme opgetree.
Hierdie eerste enkelsnit van die jong Kapenaar het sy geskryf tydens die Crescendo- finale slypskool en in die lied getiteld, “Dis my song”, vertel Jodi van haar ontwaking en bewuswording dat haar spraakgebrek nie haar menswees of waarde bepaal nie. Met lirieke soos “skares sal moet luister, dit is my song” sê sy dat sy steeds deur haar musiek kan praat.
Daar is al verskeie onderhoude met Jodi gevoer in sosiale media, sowel as vir TV en Jodi se selfvertroue en nederigheid is indrukwekkend en inspirerend.
Deur die bekendstelling van hierdie liedjie, wil die ATKV ’n boodskap van hoop uitdra aan jong mense. Ons wil vir jóú sê hier is ’n tuiste vir jou by die ATKV. Kom laat ons jou drome vlerke gee.
Volgens Gerrie Lemmer: uitvoerende hoof: kultuur by ATKV, gebruik Jodi haar sangtalent nie net om te vermaak nie, maar om haar boodskap wat ’n reuse-impak op my gehad het, oor te dra.
“Jodi het deur haar sangtalent ontpop in ’n ambassadeur, kampvegter, rolmodel en inspirasie vir baie jong mense wat nie die vrymoedigheid het om hul stem te laat hoor nie. Mag Jodi nog baie mense raak met haar stories en unieke klanke!”
Oor die bekendstelling van die liedjie en haar reis saam met ATKV-Crescendo, sê Jodi: “Die journey saam met ATKV-Crescendo het my lewe radikaal verander. Die mense wat betrokke is, is só amazing en hulle hart is soos wat ek nooit vantevore ervaar het nie.
“Dit maak die proses van die opneem van my liedjie so maklik. Om heeltyd met daai tipe positivity omring te wees is asemrowend. Ek is baie excited om my song daar buite te sit sodat mense kan ervaar wat ek ervaar, en dat mense kan waarlik sien dat ongeag jou tekortkominge, you can do anything you set your mind to.”
Die enkelsnit word deur ESL vervaardig en is die eerste van twee enkelsnitte wat saam met musiekvideo’s bekendgestel sal word. Jodi se album sal later in 2020 beskikbaar wees.
Die akoestiese weergawe van “Dis my song” wat Jodi saam met Danie du Toit van Spoegwolf opgeneem het, sal in Junie gevolg word deur ’n amptelike musiekvideo en die enkelsnit wat digitaal afgelaai kan word. Die tweede enkelsnit is ’n lied wat Jodi geskryf het en waarin Die Hooflig saam met haar optree.
Kyk gerus hier na onderhoude met en boodskappe van inspirasie deur Jodi. Lees ook Jodi se rubriek op Netwerk24: 'Ek dink nie meer aan apartheid as ek wit mans sien nie'