Skip to the content

Nou is die tyd vir die jeug om hulself te bemagtig

Die Covid-19-pandemie het ons lewe onherroeplik verander. Nie net is die wêreldekonomie op sy knieë nie, maar 2020 is ook vir die jeug ’n uitdaging.

Ter viering van Jeugdag gee die ATKV toe dat die inperking baie eise aan die jeug stel, maar ons glo dit is juis nou die tyd vir jongmense om aanpasbaar te wees en hulle vaardighede op te skerp.

“Hou jou oog op die toekoms en kyk verder as dié huidige, tydelike uitdaging. Jou toekoms is ná alles steeds in jou hande,” sê prof. Kobus Maree, opvoedkundige sielkundige verbonde aan die Universiteit van Pretoria se sielkundedepartement.

“Die keuse is joune. Jy kan kies of jy wil werk of nie. Deur jou skoolwerk ernstig te benader, hard te werk en produktief te wees, verbeter jy jou kanse op ’n suksesvolle en betekenisvolle lewe.”

Hy sê dit is belangrik vir leerders om te besef dat hulle nie alleen in hierdie krisistyd is nie.

“Almal word geraak. Herinner jouself maar gereeld aan die waarheid dat jou karakter nêrens beter gedemonstreer word as deur die wyse waarop jy uitdagings, pyn en hartseer hanteer nie.

“Hoe beter jy jou aanpas by verandering, hoe beter is jou kanse om die wêreld wat fundamenteel en al hoe vinniger verander, suksesvol tegemoet te gaan.

“Sien hierdie tydperk as ’n geleentheid om te groei, om aan jouself (meer as aan enigiemand of enigiets anders) te bewys van watter stoffasie jy gemaak is.”

Volgens Kobus is dit belangrik om in hierdie tyd net te fokus op die dinge wat jy kan beheer.

“Doen die basiese dinge reg soos om jou afstand te handhaaf, jou hande te was en te leer vir ’n toets.

“Ons sal die kurwe bereik en die virus sal wyk, maar jou harde werk en die tyd wat jy afstaan om jou vaardighede te verbeter, is vir ewig.”

Indien jy op soek is na ’n geleentheid om jou vaardighede op te skerp, oorweeg gerus een van die ATKV se splinternuwe DigiProjekte.

Laasgenoemde bestaan uit: ATKV-DigiSpel waar deelnemers aanlyn aan ’n spelkompetisie kan deelneem; ATKV-DigiTaal waar taalboffins hulle kennis oor Afrikaans aanlyn kan toets, ATKV-DigiSkryf, waar oud en jonk hul skryftalent ten toon kan stel; ATKV-DigiKuns, ’n kunskompetisie met ’n verskil; ATKV-DigiPraat waar jy jou sê met mening kan sê; en ATKV-DigiSpanpraat waar jong redenaars en families hulself (en hul redenasies) behoorlik kan toets.

ATKV-DigiGroei bestaan uit ’n reeks opwindende webinare waarvan die inhoud jou in staat sal stel om jou denke te vernuwe en jou horisonne te verbreed. ATKV-DigiKaptein is spesifiek gemik op jong leiers om hulle die geleentheid te gee om hul leierskapvaardighede op te skerp.

Vir meer inligting oor hierdie projekte besoek die ATKV se webtuiste by www.atkv.org.za.