Webinaar: Leer hoe om ’n monoloog te skryf
Dit sit nie in enigeen se broek om ’n boeiende monoloog te skryf nie, maar met die hulp van dr. André Gerber kan deelnemers en leergieriges genoegsame wenke kry om die ink te laat vloei vir die splinternuwe ATKV-Tienertoneelkompetisie.
Die ATKV daag vanjaar Tienertoneel-deelnemers onder meer uit om self hul monoloë te skryf wat hul moet opneem en as inskrywing teen 31 Julie oplaai vir die eerste ronde van die kompetisie.
André spesialiseer in regie, teaterskepping en kreatiewe skryfkuns en is ook op vanjaar se beoordelaarspaneel. Op 13 Junie om 10:00 kan jy by hom kom kers opsteek. ’n Geleentheid wat jy beslis nie moet misloop nie.
Aspekte wat aangespreek gaan word, sluit in: die ontwikkeling van ’n idee/tema, hoe om jou eie ervarings te gebruik om ’n toneelmatige monoloog te skryf, hoe om konflik te suggereer as daar net een spreker is, en die algemene slaggate om te vermy in jou skryfproses.
André gaan ook ’n bietjie gesels oor hoe die monoloog in die vervaardigde produksie tydens die finaal aangewend gaan word.
Deelnemers word aangemoedig om spesifieke vrae te stuur sodat hy dit óf kan beantwoord, óf kan inweef in sy lesing.
Hierdie vrae kan aan JJ van Niekerk gestuur word by jj@atkv.org.za.
Meer oor dr. Andre Gerber:
André neem al sedert sy skooldae deel aan die ATKV-Tienertoneelkompetisie.
In 2012 sluit hy hom by die Hoër Meisieskool Bloemhof aan en begin as teatermaker ook mee te ding in ATKV-Tienertoneel.
Dié skool het die kompetisie vier keer in die afgelope sewe jaar gewen, wat 2018 met, tot stof l tot stilte – ’n paniekreaksie, insluit.
In 2016 skryf hy die Hoërskool Durbanville se toneelteks, Fragment, in wat aangewys is as die algehele wenner van die kompetisie en waarvoor André in 2017 die ATKV-Tienertoneelteksprys ontvang het.
Hy skep produksies vir die professionele verhoog wat speelvakke geniet het by kunstefeeste soos die US Woordfees en die Klein Karoo Nasionale Kunstefees waarvan Die Sonkamer sy mees onlange werk was.
In 2016 word ’n doktorsgraad aan hom toegeken en hy begin aan die Universiteit Stellenbosch in die dramadepartement te doseer.
In 2018 inisieer en bestuur André die damadepartement se heel eerste Première Toneelfees. Die doel met hierdie fees is om die skep van nuwe teaterproduksies onder studente aan te moedig.
Hy is ’n ywerige teaterskrywer wat ander graag wil inspireer om ’n sterk eie stem binne hulle persoonlike skryfstyl te ontwikkel.
Andrè gaan ook vanjaar die tekssamestelling en regie behartig van die professioneel vervaardigde produksie tydens die finaal.
Die rolverdeling gaan bestaan uit die res van die beoordelaarspaneel bestaande uit beroepsakteurs en die top 20-finaliste.
WEBINAARBESONDERHEDE:
Die webinaar vind plaas op Saterdag 13 Junie om 10:00.
Die koste verbonde aan die webinaar is slegs R80.
Indien jy ’n deelnemer is en voor 13 Junie inskryf, is hierdie webinaar gratis.
Indien jy nie ’n deelnemer is nie, deponeer asseblief jou R80 in die ATKV se rekening met die korrekte verwysing en e-pos jou bewys van betaling na jj@atkv.org.za.
JJ sal dan vir jou ’n uitnodiging na die ZOOM-webinaar stuur.
Bankbesonderhede:
Bank: ABSA
Rekeningnaam: ATKV
Rekeningnommer: 0170166728, tjekrekening Takkode: 632005
Verwysing: TTWEB1 + Naam en Van