Skip to the content

ATKV-Tienertoneel: Aktrise wil by KKNK ander inspireer

Minke Marais as Nina in die Hoërskool Noordheuwel se Waterbrief. Foto: Nardus Engelbrecht

Die jong aktrise wat verlede jaar by die ATKV-Tienertoneelfinaal bekroon is vir haar spel in die wenproduksie, Waterbrief, wil ander met haar talente inspireer.

“Dit is vir my ’n ongelooflike eer om vanjaar by die KKNK op te tree, maar ek wil veral vir ander wys dat as jy hard werk en die wilskrag het, kan jy jou drome bereik,” sê Minke Marais.

Dié eerstejaardramastudent aan die Universiteit Stellenbosch is verlede jaar aangewys as die beste aktrise vir die rol van Nina in die Hoërskool Noordheuwel van Krugersdorp se produksie Waterbrief.

“Ek is besonders bevoorreg,” sê sy.

“Ek het die vorige jaar die titel gedeel. Ek is baie gelukkig om dit ’n tweede jaar agtereenvolgens te wen. Dit bevestig dat ek iets reg doen.”

Waterbrief was ook verlede jaar se wenproduksie by die ATKV-Tienertoneelfinaal en is vanjaar by die KKNK op Oudtshoorn te sien.

Dié stuk handel oor ’n waterbrief wat niemand kan hoor nie, bewoord in druppels in ’n taal wat net die dooies kan lees. Toegevou in wit en blou, in die teëls van die swembad waar sy duik. God breek ’n hart en dag ná dag is Nina vasgevang in ’n montage van haar familie wat sonder haar uitmekaar val. Sy word wakker in die mure van haar huis. Sy is orals en sy is nêrens nie, en sy aanskou haar gesin se kronkelpad-reise op soek na die droom van nuwe lewe wat begin.

“Ek is baie opgewonde om weer die rol van Nina te vertolk. Dis lekker om te weet ek hoef nog nie vir die karakter tot siens te sê nie.”

Volgens Minke was dit nog altyd haar droom om ’n aktrise te word.

“Dis lekker om te kan studeer wat jy as kind gedroom het jy gaan doen. Ek is verlief op teater, maar ek sien ook uit om my vaardighede so te ontwikkel dat ek eendag ook my buiging in die rolprent- en televisiebedryf kan maak.

“Ek het reeds groot hoogtes bereik, danksy die ATKV. Nie baie eerstejaarstudente kan sê hulle het by die KKNK opgetree nie.”

Die toneelstuk kan op 23, 24 en 25 Maart in die ATKV-Griesselsaal by die KKNK in Oudtshoorn gesien word.

Waterbrief is 35 minute lank en ouerbegeleiding word aanbeveel.

Kaartjies kan teen R95 by Computicket gekoop word. Kaartjies by die deure sal teen R110 verkoop word.