Skip to the content

ATKV wil eenheid in diversiteit vier by Woordfees

Ons praat dalk almal Afrikaans, maar ons is beslis nie identies nie. Dink maar aan die loslit Afrikaans van Kaaps of die kleurryke Afrikaans van die Weskus.

Maar hoe kweek jy eenheid in diversiteit en is dit moontlik?

Die ATKV wil vanjaar by die TOYOTA US-Woordfees op Stellenbosch dié moontlikheid ondersoek met sy gesprekspaneel, Kô ons gesels.

“Ons wil krities na hierdie onderwerp kyk en oor al daardie olifante in die kamer praat. Ons praat soms so maklik oor diversiteit en inklusiwiteit, maar hoe beoefen ons dit?” sê Karien Brits, bestuurder: taal by die ATKV.

Karien gaan die gespreksleier by die diskoers wees en uiteenlopende stemme gaan aan die debat deelneem, insluitend: die digter Jolyn Phillips, die ATKV-MSW se besturende direkteur, Sonél Brits, Chareldine van der Merwe, projekbestuurder van die Vriende van Afrikaans, die jong taalaktivis William Sezoe, Marni Bonthuys, redakteur van die Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, en die stamhoof van die Witbooi Nama-stam, kaptein John Witbooi.

“Taal moet nie verdeel nie, dit moet ons almal laat deel,” sê Karien.  

“Daar is so baie om te deel ten spyte van ons verskille. Ons moet ons nie laat polariseer nie en ons kan dit deur gesprekke met mekaar teenwerk.”

Volgens Karien moet die debat oor taal nie net aan universiteite oorgelaat word nie.

“Ons gebruik taal om ons behoeftes uit te druk en as ons nie gemaklik is in die taal of variëteit wat ons dit moet doen nie, word ons uitgesluit. 

“Taal verseker jou toegang tot opvoeding, opleiding, mediese dienste, en die reg. As ons nie oor taal praat en dink nie, sal dit ook ons ander basiese regte beïnvloed.”

Karien sê die kundiges wat aan die paneelgesprek gaan deelneem, beskik nie net oor teoretiese kennis nie, maar is ook mense wat weet wat op grondvlak aangaan en hoe taal mense elke dag raak.

“Daar is akademici, kunstenaars en gemeenskapsleiers. Dit is egter nie net die paneel wat gaan gesels nie, almal kan ’n bydrae kom lewer.”

Kô ons gesels vind 13 Maart om 12:30 in die Drostdy Teater plaas. Toegang is gratis.