Skip to the content

Dr. Danny Titus deur Worcester vereer

Dr. Danny Titus lewer ’n toespraak kort nadat hy die Freedom of the Town ontvang het.

Dr. Danny Titus, uitvoerende hoof: korporatiewe aangeleenthede van die ATKV, het as deel van sy geboortedorp, Worcester, se 200ste bestaansjaarvieringe die Freedom of the Town ontvang.

“Dit is ’n besonderse eer om dié erkenning te ontvang,” sê hy.

As deel van Worcester se feesvieringe het die dorpenaars oud-inwoners vereer.

Die titel word deur die Breede Vallei-munisipaliteit gegee aan individue van die dorp wat ’n merkwaardige verskil in die dorp, landswyd of internasionaal gemaak het.

“Dit is vir my baie aangenaam. Jy leef jou lewe rustig en ander sien dit raak,” skerts Danny.

Hy sê die dorp en sy mense het ’n beduidende verskil in sy vormingsjare gemaak.

“Ons het tydens die ou politieke bestel verwyderd van die wêreld grootgeword. Ons het nie geweet wat om ons aangaan nie. As kind en as skolier was daar baie mense wat ’n invloed op my lewe gehad het, wat my aan letterkunde blootgestel het en wat my die groter prentjie laat raaksien het.”

Van die ander besondere mense wat diep spore in die dorp getrap het en die titel van Freedom of the Town ontvang het, sluit in: professor Raymond Parsons, David Kramer, Diana Ferrus en JM Coetzee.

“Dit is ’n besonderse voorreg om ’n titel saam met sulke groot reuse te deel. Ek sal altyd met heimwee terugdink aan my grootwordjare op Worcester.”

Danny verklap ook dat hy nie net sy neus in die boeke gehad het, maar ook ’n kranige atleet was.

“Ek het deelgeneem aan verspring en al die baanitems. Deesdae lê ek ’n bietjie slap,” lag hy.