Skip to the content

Gesoek: ’n Reënboog met diep wortels

Fourie Rossouw se rubrieke verskyn in Taalgenoot. Onderstaande het in die Somer 2020-uitgawe verskyn.

Ek sit soggens op ’n houtkis in ons kombuis en mediteer. Van daar kan ek deur die skuifdeur uitkyk oor die stoep en op ’n vyeboom wat in die middel van ons agtertuin groei. Die boom het sommer net opgekom, het die oom vir my gesê toe ons die eerste keer na die huis gaan kyk het.

Daar was twee dinge van die huis waarvan ek onmiddellik gehou het: die kombuis en die vyeboom. ’n Ou huis met ’n mooi kombuis sal altyd ’n bekoring hê, en jy kan my enige dag met ’n ryp vy in ’n wip vang. Maar sedert ons ingetrek het, het ek nog nie een vy uit ons tuin geëet nie. Die boom lewer ’n allemintige oes, maar voordat die vye kan ryp word, gooi die boom hulle af.

Ek google dit toe. Vrugtebome is geneig om hul vrugte af te gooi, lees ek. Dit gebeur gewoonlik wanneer die boom “onder druk” is en daar is drie redes: water, grondvoeding en peste of plae. Ek het in die tussentyd gif gespuit, kompos ingewerk en meer gereeld met reënwater uit my plastiektenk natgelei. Nou wag ek in spanning om te kyk of die boom op al hierdie ekstra aandag gaan reageer.

Nou die dag let my vrou op die boom se blare lyk verlep. Ek verstaan dit nie, sê ek. Ek het dit die vorige dag nog goed natgelei; hoe kan dit dan sukkel in die somerson? Ek begin toe wonder oor die boom se plek in die tuin. Nie dat ek dink om hom uit te haal nie, maar eerder oor wáár hy groei. Voorheen was daar ’n swembad, wat deur die vorige eienaars toegegooi is. Die bogrond lyk heel goed, maar ek vermoed onder die oppervlak lyk dinge anders. Heel moontlik groei die boom se wortels tussen bakstene en bourommel.

Ek sal hom nie kan uitplant nie. Dis ironies, want al aard hy nie daar waar hy nou groei nie, sal hy nêrens anders aard nie. Sy “nuwe begin” is saam met sy wortels in sy brose verlede verstrengel. Die boom se enigste behoud is om sy wortels dieper te stoot; verby die bouklip en gebreekte sement en tot in die lewensaar van goeie grond.

Ek vat ’n slukkie koffie en maak my reg om ’n paar minute stil te word. Die res van die huis slaap nog en buite hoor ek die tarentale roep. Soos gewoonlik is die vyeboom my fokuspunt. Bo die grond lyk die boom sterk en gesond.

Sy blare is lowergroen en ryp van belofte. Deur die herfs, winter en lente is hy vol bravade, maar wanneer die toets van die somer kom, kwyn hy soos die vergeelde plakkate van die politieke partye lank nadat die kruisies getel is.

Voorheen het die vyeboom se gesukkel my ontstel, maar vanoggend sien ek myself daarin. Soos ’n labarint vir sommige, of gebedskrale vir ander, is die vyeboom my mandala op die weg na die binnekant van my siel. Ek kyk na die boom en wonder waar mý kompos vandaan kom. Blare lewer, is maklik; dit kom sommer saam met die aanbreek van ’n nuwe seisoen, maar dis moeiliker om vrugte te dra as jy groei waar jy nie hoort nie.

Soos Saggeus kyk ek af uit die takke, wagtende op Hom oor wie almal gons. Soos Jesus sien ek ook my komvandaan in die vyelose vyeboom. Want as jy mooi kyk, lyk ’n goed gesnoeide vyeboom effe soos ’n plek op ’n landkaart. Ná soveel jare groei ons steeds tussen die bourommel van afgebreekte skeidslyne en rolle doringdraad. Ons hou ’n reënboogbelofte in, maar gooi ons vrugte in die hitte van die stryd af.

Ons enigste behoud is om ons wortels dieper in hierdie plek te laat groei.