Skip to the content

Groot drama vir klein lyfies

Dit is nooit te vroeg om ’n liefde vir toneel by kinders te kweek nie. Daarom het die ATKV in 2019 ’n nuwe kompetisie van stapel gestuur sodat laerskole ook hul slag op die verhoog kan wys ...

Die planke kreun en kraak onder hul voetjies. Die rakkers is verdiep in die karakters wat hulle vertolk. Ouers, maar ook Jan Publiek, hang aan hul lippe. Dit is nie ’n Broadway-produksie nie, maar die kleinspan gee hulle als en stel nie teleur nie. ’n Mens sou nie sê dié teatergeselskap is blote laerskoolkinders is nie.

Dít was die algemene gevoel tydens 2019 se heel eerste ATKV-Tjokkertoneelkompetisie. Streekfeeste is in Krugersdorp, Stellenbosch, Bloemfontein en Port Elizabeth gehou en daar was 30 optredes: 16 mini-toneelopvoerings, ses junior spreekkore en agt senior spreekkore (sien kassie vir die wenners).

“Ons is dankbaar vir die gesindheid waarmee dié projek deur skole, afrigters en ouers ontvang is,” sê Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof: taal en kultuur by die ATKV.
“Die items was almal kindervriendelik en gehoorlede het met ’n gevoel van hoop weggestap – hoop vir die kunste en hoop vir ons land se toekoms.”

Soveel voordele
In ATKV-Tjokkertoneel word laerskole aangemoedig om kinders deur mini-toneelstukke en spreekkore aan teaterkuns en drama bloot te stel.

Nie net kry die leerders se selfvertroue, kommunikasie- en luistervaardighede ’n hupstoot nie, maar ook hul woordeskat.

Volgens ’n onlangse studie deur die Instituut vir Opvoeding in Engeland se eenheid vir gemeenskapsnavorsing het kinders wat aan drama deelneem meer selfvertroue in die klaskamer én in ’n sosiale konteks.

Die navorsers het drie jaar lank laerskole vergelyk wat drama vir kinders tussen die ouderdom van sewe en agt jaar aanbied en skole wat dit nie doen nie. Hulle het bevind eersgenoemde leerders het beter luister- en kommunikasievaardighede getoon. Daardie leerders se akademiese prestasie was ook beduidend beter, hulle het die skoollewe meer geniet en die waarde van spanwerk besef om ’n doelwit te bereik.

“Drama is fantasties vir selfbeeld, kreatiwiteit, spontaneïteit en konsentrasie,” sê Rozanne Myburgh, ’n dramaterapeut by die Lefika La Phodiso-instituut in Johannesburg. “Dit is ’n proses en kuns waar jy jou hele menswees, lyf en gees gebruik om jouself uit te druk. Dit help ook met geletterdheid, lees, begrip en skryf.”

Volgens Rozanne bied Lefika La Phodiso ’n program om deur drama kinders se geletterdheid te verbeter. “Ons besef dat lees- en skryfvaardighede in Suid-Afrika ’n groot probleem is.” Volgens die Progress in International Reading Literacy Study (Pirls) is Suid-Afrika laaste onder 50 lande wat leesvaardighede en geletterdheid betref. Pirls het bevind tot agt uit tien gr. 4-leerders kan steeds nie met begrip lees nie. Dit staan in skrille kontras met Engeland, waar dié syfer maar 3% is.

Die sielkundige welstand van kinders in Suid-Afrika is net so skokkend. Volgens die Suid-Afri-kaanse Depressie-en-Angsgroep (Sadag) ly 17% aan angs en depressie. Rozanne is ook betrokke by ’n dramaklub vir tieners in die Johannesburg-middestad en sê sy kan die impak van drama op die kinders sien.

“Een van die seuns het vir my gesê dit is vir hom so lekker om vir eens iemand anders te speel, want dan kan hy vir ’n paar minute, of ’n uur, uit sy omstandighede ontsnap. Vir my spreek dit boekdele oor die impak wat drama kan hê. Ek vind dié kinders kan hulself beter uitdruk en het ’n ryk emosionele woordeskat.

“ ’n Kind wat drama neem, het die geleentheid om sy of haar verbeelding te gebruik, om kreatief te dink en om improvisasietegnieke te gebruik. Hulle leer ook hoe om metafore, simboliek en storievertelling te bemeester. Een van ons terapeutiese doelwitte is om kinders se kapasiteit vir empatie te vergroot. Dit is ’n lewensvaardigheid wat enige beroepskeuse kan verryk.”

Dis ook terapeuties
Welma de Beer, ook ’n dramaterapeut in Johannesburg, sê drama en veral dramaterapie bied die ideale geleentheid vir kinders om trauma te kan verwerk.

“In dramaterapie word daar altyd simboliek en metafore gebruik. Kinders hoef nie vir jou die hele storie te vertel nie, maar hulle kan hul ervarings in perspektief stel met die kuns van drama en storievertelling.”

Rozanne beaam dit, maar sê daar is ’n beduidende verskil tussen dramaklasse en dramaterapie. “Dramaterapie is die gebruik van drama- en of teatertegnieke met terapeutiese doelwitte. So, waar ’n dramaklas of teaterproduksie miskien terapeuties kan wees vir deelnemers en die gehoor, is die bedoeling nie terapie nie. Ons werk met individue en groepe, oud en jonk, en die verskil tussen dramaterapie en byvoorbeeld om ’n sielkundige te gaan sien, is dat ons ‘taal’ drama is.”

Dramaterapie bied ’n goeie alternatief vir die meer gebruiklike vorms van terapie. Enigeen kan ’n dramaterapeut gaan sien vir enigiets van ’n lae selfbeeld tot ’n groter sielkundige probleem. In Suid-Afrika word dit ook ingespan vir kinders met spesiale behoeftes en selfs in psigiatriese hospitale.

“Ek glo elke kind moet ten minste een keer in hul lewe vir dramaklasse gaan,” sê Rozanne.
“Hulle leer probleem-oplossingsvaardighede, kommunikasie- en taalvaardigheid en emosionele intelligensie.”

Hoewel ATKV-Tjokkertoneel nie soseer dramaterapie is nie, was dit duidelik dié debuutprojek het ’n groot impak op die kleinspan en die volwassenes gehad.

“Hierdie is baanbrekerswerk van die ATKV,” sê die dramaturg Pierre-André Viviers.

ATKV-Tjokkertoneel sal in 2020 plaasvind. Hou die ATKV se webwerf dop vir meer inligting.