Skip to the content

Kom ontmoet die akteurs en skeppers van die skreeusnaakse 'Hotel'

Die Fransen Hotel en sy personeel is sinoniem met die aweregse, die humoristiese en die absurde.

Vir die afgelope vier seisoene is die karakters en die skrywers van die mokumentêre reeks, Hotel, besig om sy kykers se lagspiere oortyd op kykNET (DStv-kanaal 144) te laat werk.

Dink maar aan die norse hoteleienaar, Ferdie Kruger (James Borthwick), die loskop en impulsiewe Danny Beyers (Schalk Bezuidenhout) of die sagmoedige tog effe vreemde Jaap (De Klerk Oelofse). Hulle almal laat kykers skater van die lag.

Nou kan jy by die ATKV se Inkstories self by die skeppers en die akteurs kom hoor hoe dié immergewilde en Safta-bekroonde komediereeks tot stand gekom het.

Die paneelgesprek vind 18 Maart om 18:00 vir 18:30 by Exclusive Books in Sandton City plaas.

“Aanhanger kan uitsien om te hoor hoe so ’n reeks tot stand kom en wat die inspirasie agter Hotel is. Hulle kan ook uitsien na ’n staaltjie of twee van wat agter die skerms gebeur,” sê Mandie Ehlers, projekorganiseerder by die ATKV.

Die skeppers, Bennie Fourie en Stiaan Smith, sowel as die akteurs, Beer Adriaanse, Mila Guy, Simoné Pretorius en die vervaardiger, Johan Cronjé, sal by die paneelbespreking wees.

“Die paneelbespreking sal alles insluit van die skryf en die skep van die reeks, die vervaardiging daarvan, asook hoogtepunte.”

Volgens Bennie sal aanhangers, wat nuuskierig is oor hoe so ’n program aanmekaar gesit word, die gesprek baie geniet.

“Ons gaan vir mense ’n omvattende kykie van Hotel gee. Dit is beslis ’n moet vir enigiemand wat die reeks geniet.”

Verversings sal bedien word. Om jou plek te verseker RSVP voor of op 9 Maart en stuur ’n e-pos aan Mandie Ehlers by mandiee@atkv.org.za. Vir meer inligting skakel 011 919 9018.