Skip to the content

Maestrokomponis met ATKV-oorkonde vereer

Bridgitte Mathews, voorsitter van die ATKV-Direksie, oorhandig die ATKV-oorkonde aan dr. Lourens Faul.
Bridgitte Mathews, voorsitter van die ATKV-Direksie, oorhandig die ATKV-oorkonde aan dr. Lourens Faul.

Vir die laaste sewe dekades het dr. Lourens Faul (88), ’n veelsydige komponis, meer as 1000 komposisies neergepen en diep spore in die Afrikaanse musiekwêreld getrap.

Dié merkwaardige komponis is onlangs deur die ATKV-tak KZN Suidkus by die Margate-aftree-oord in KwaZulu-Natal met ’n ATKV-oorkonde vir sy groot bydrae vereer.

“Ek is oorstelp,” sê hy.

“Dit is wonderlik om erkenning te ontvang vir die werk en bydrae wat ek vir die laaste 70 jaar gelewer het.

“Dit het soms gevoel of ek nie die nodig erkenning kry wat my toekom nie, maar die oorkonde het bevestig dat ek wel my deel vir die kunslied gedoen het.”

Dr. Faul het gedurende sy loopbaan ’n groot verskeidenheid musiek gekomponeer, maar die musiekgenre waarop hy hom toegespits het, was veral die Afrikaanse kunslied of dan Afrikaanse liedere wat sinoniem met die Duitse kunslied is.

’n Kunslied is ’n komposisie van ’n bestaande gedig en dr. Faul het veral aanklank by Boerneef se gedigte gevind.

“Hy (Boerneef) se taalgebruik was van die landelike gemeenskap uit die vorige eeu en met my komposisies is hierdie soort taalgebruik verewig.

“Die kunslied verewig die gedig. Die kunslied vereis ’n spesiale gehoor. Dit is musiek vir die binnekamer van die hart. Dit verg ’n ander soort luister. Dit verg aandagtige luister en ’n begeerte om daardeur geestelik verryk te word.”

Sy ongekende passie vir die kunslied is aangewakker nadat sy paaie met die wêreldberoemde Erik Werba – een van die bekendste kenners en begeleiers van kunsliedere – gekruis het.

“Erik het my passie vir die kunslied aangewakker. Hy het sonder twyfel ’n groot invloed op my werk gehad.”

Dr. Faul is ook ’n sanger in eie reg.

“Dit is vir my ’n groot voorreg om nasionale erkenning te kry vir die werk wat ek doen en om steeds die wilskrag en energie te hê om in my taal te kan komponeer.”