Skip to the content

Skryf nou in vir Renoster F-kalenderkompetisie

Abigail Cullen, ’n gr. 5-leerder aan die Cambridge Academy in Witbank, se kunswerk word vir Desember in die 2020-kalender gebruik.

Is jy al moedeloos om idees uit te dink om die kinders besig te hou te midde van die landwye inperking as gevolg van die Covid-19-pandemie?

Wel, dan bied die ATKV-tak Cum Laude se Renoster F-kalenderkompetisie die ideale oplossing. Nie net gaan dit vir Boet en Sus vir ’n wyle besig hou nie, maar hulle sommer op die koop toe bewus van maak van die lot van renosters.

Volgens Louis Reynders, voorsitter van dié Pretoriase tak, sal die verlies van renosters en ander wilde diere nie net ’n invloed op die omgewing hê nie, maar ook op die land se ekonomie en gemeenskappe.

“Lewende renosters is vir ons kinders, en hulle kinders, van meer waarde as renosters wat vir hulle slegs behoue sal bly as herinneringe op fotografiese afbeeldings.”

Leerders van graad 1 tot graad 12 kan hulle inskryf. Alle kunswerke moet ’n renoster op ’n A4-bladsy voorstel en kan in enige medium, bv. waterverf, potlood, ens. aangepak word. 

Die sluitingsdatum vir die kompetisie is 18 September. 

Leerders kan kies kom net vir die voorblad in te skryf en ’n kans staan om ’n Samsung Galaxy Tab S5e te wen. Inskrywings kos R100.

Inskrywingsfooie vir leerders wat net hul sketse in aanmerking wil bring vir een van die 12 kalenderblaaie is R60. 

Die Renoster F-kalenderkompetisie wat Louis en sy span in 2019 van stapel gestuur het, was ’n reuse-sukses en het ’n pragtige kalender opgelewer. Leerders van oor die land heen is genooi om kunswerke van renosters in te skryf.

“Ons het pragtige kunswerke ontvang en die beoordelaars moes behoorlik kopkrap om 12 te kies om elke maand te verteenwoordig,” sê Louis.

“In plaas van ’n week om te beoordeel het dit ’n maand gevat. Ons het 328 inskrywings van 28 skole ontvang. Daar het selfs ’n skool van Grootdrink in die Noord-Kaap ingeskryf.”

Belangstellendes kan Louis kontak by 060 944 4410 of renosterf@atkv-cumlaude.co.za.