ATKV-Tienertoneel spog met nuwe formaat
Dit wil blyk of die teaterplanke weens die Covid-19-pandemie nog vir ’n wyle nie gaan kraak nie, maar die skeppende kunste kry altyd ’n manier om te seëvier.
“Die ontwikkeling van kuns en kultuur was nog nooit so noodsaaklik vir die mensdom, soos nou nie,” sê JJ van Niekerk, ATKV-Tienertoneelprojekorganiseerder.
Vanjaar het 217 produksies hul plek vir die ATKV-Tienertoneelkompetisie bespreek, maar weens die grendeltydperk, skole – wat alle buitemuurse aktiwiteite moes staak – en teaters, wat se deure toe moet bly, kon dié nasionale teaterkompetisie nie in sy huidige formaat voortgaan nie.
“Die ATKV het tot die besef gekom dat die ontwikkeling van kreatiwiteit en die stimulasie van ’n sterk psige sentraal staan met die verandering van gedragspatrone en aanpassing van denkwyses.”
Dít het die ATKV genoop om met ’n innoverende konsep vorendag te kom om steeds binne hierdie beperkings aan al sy deelnemers dieselfde geleentheid te bied.
“ATKV-Tienertoneel gaan hierdeur weer in sy doel slaag om die liefde vir toneelskepping en teater-kyk te bevorder, deur vanjaar te fokus op spel en die skryf van tekste voordat ons die planke tref einde 2020 met die vervaardiging van ’n professionele produksie, wat ’n uitgebreide speelvak vir nasionale finaliste in 2021 sal bied,” sê JJ.
Volgens hom gaan die kompetisieformaat plaasvind deur middel van ’n kreatiewe proses waaraan ATKV-Tienertoneelspelers deelneem en dan digitaal indien om ten einde hul pad oop te speel na die nasionale finaal in Desember.
Deelnemers moet ’n monoloog van tussen drie en vyf minute aan die hand van die voorgeskrewe tema “wolk” op kamera opneem. Leerders laai dan die monoloog op die ATKV se webtuiste en die beoordelaars beoordeel die inskrywings en gee individuele en pasgemaakte repliek deur ’n stemnota aan die leerders te stuur.
Die ATKV akkrediteer dan die beoordelaarstoekenning wat aan die speler vir spel en die nuutgeskrewe teks gemaak word. Die deelnemer se brons-, silwer- of goue sertifikaat word aan die individu, of die skool ge-e-pos.
Tekste wat vir die finaal gebruik gaan word, word geïdentifiseer.
“Die Top 40-leerders word gekies en hulle dring deur na die nasionale semi-finaal. Hierdie semi-finaliste sal ’n tweede opdrag ontvang. Elkeen van die semi-finaliste ontvang ook ’n deelnamesertifikaat vir die nasionale semi-finaal wat gelykstaande is aan provinsiale deelname.”
Die Top 20-deelnemers word dan geïdentifiseer en hulle sal in Desember in die finaal saam met professionele teaterlui optree.
Vanjaar se akteurs wat deel vorm van die produksie sluit in: Henrietta Gryffenberg, Cintaine Schutte, Jacques Bessenger, Amalia Uys, Wilhelm van der Walt, Ira Blanckenberg en Waldemar Schultz.
“Hierdie produksie word vervaardig in Desember 2020 na afloop van die beoordeling van alle ATKV-Tienertoneelinskrywings deur reeds genoemde beroepsteaterlui wat ook die beoordelaarspaneel vorm,” sê JJ.
Die amptelike opening van inskrywings is 1 Junie en die sluitingsdatum is 31 Julie.
“Ons doen ons grootste beroep op leerders en skole om al die toneelspelers en toneelliefhebbers in hulle skoolgemeenskappe te motiveer om steeds vanjaar aan ATKV-Tienertoneel deel te neem. So kan ons keer dat die impak van die virus ons stroop van belangrike karakterbougeleenthede.”
Laai jou deelnemersgids, inskrywingsvorms vir skole en individue nou af.