Skip to the content

Laat jou kinders lees!

In hierdie ongewone tye het ons almal meer tyd op hande. Die staat van inperking weens die gevreesde Covid-19-virus het veroorsaak dat ons almal in ons huise ingekerker is.

Die skole is steeds nie oop nie en hoe nou met jou kinders gemaak? Hoe verseker jy dat hulle konstruktief besig bly?

Die antwoord is maklik. Laat hulle lees.

Die ATKV vier vanjaar sy 90ste verjaardag en in hierdie feesjaar plaas ons spesiale klem op lees.

Volgens Chareldine van der Merwe, projekbestuurder van die Vriende van Afrikaans (VVA), is dit belangrik dat ouers van vroeg af ’n leeskultuur by kinders kweek.

“Die VVA, ’n divisie van die ATKV, kan nie die belangrikheid van lees en boeke meer beklemtoon soos in dié tyd waarin die wêreld hom tans bevind nie,” sê Chareldine.

Sy sê dit is belangrik dat ouers lees deel van hulle kinders se daaglikse roetine maak en byvoorbeeld die dag met ’n lekker storie afsluit.

“Weet wat jou kind se voorkeure is en lees boeke wat vir hulle lekker of interessant is.

“Boeke met mooi illustrasies trek ook kinders se aandag. Indien ouers tyd maak vir lees, sal kinders verstaan dat dit belangrik is.

“Wees laf en maak gesigsuitdrukkings en stembuigings as jy vir hulle lees. Ouers kan letterlik hul kinders slim lees!”

Volgens haar sal jy so verseker dat jou kind ’n lewenslange leser word.

“As kinders met begrip kan lees, sal hulle optimaal kan leer. Lees is soos enige sportsoort, hoe meer jy oefen hoe beter word jy. Jy moet lees om ’n goeie leser te word.”

Chareldine meen daar is verskeie voordele vir ’n kind wat lees.

“Lees help kinders om onafhanklik te dink en brei hulle woordeskat uit, dit help met doeltreffende kommunikasie.

“Lees leer ’n kind om te voorspel, dit is vaardighede wat jy nodig het om wiskunde te doen. Dit sluit ’n hele nuwe wêreld vir kinders oop. Hulle leer van goed wat om hulle gebeur. Lees lê die grondslag van alle leer.”

Ongelukkig is die wonderwêreld van lees en boeke nie vir almal vrylik beskikbaar nie, maar die VVA poog om boeke deur sy boektrommelprojek aan almal beskikbaar te maak.

“Die VVA se vlagskipprojek is sy boektrommels vol heerlike boeke wat by verdienstelike en skole en goed bestuurde kleuterskole besorg word en ook sy voorleesprojek wat die belangrikheid van voorlees in elke huis wil onderstreep,” sê Chareldine.

Met hierdie uitgebreide boektrommelprojek wil die VVA jaarliks probeer om ’n groter impak te maak tot die ontwikkeling van ’n leeskultuur in gemeenskappe landwyd sodat kinders – eerste-, tweede- en derdetaalsprekers van Afrikaans – in woordryke omgewings met toegang tot die regte boeke kan grootword en die vreugde en bemagtiging van lewenslange lees en leer kan ervaar en benut.

“Danksy verskeie donasies, borge en vennootskappe kan die VVA jaarliks meer as 50 trommels nasionaal versprei. Nieteenstaande ons ywer en die vordering met die projek, is 50 boektrommels ’n druppel in die emmer gegewe ons Suid-Afrikaanse omstandighede.”

Nietemin gaan die VVA steeds met sy boektrommelprojek probeer om van Suid-Afrika ’n lees-nasie te maak.

“Daar moet ’n leeskultuur geskep word en kinders moet in ’n woordryke omgewing grootword.”

Vir meer inligting kontak Chareldine van der Merwe by 021 880 1761 of per e-pos by chareldinev@vva.atkv.org.za.