Skip to the content

Uittreksel: Aanspreeklikheid deur Jaco Fouché

Aanspreeklikheid is die naaswenner van die Groot Afrikaanse Romanwedstryd vir 2018. Dit is Jaco Fouché se eerste roman in sewe jaar, 'n fassinerende ondersoek na die betekenis van aandadigheid, maar ook die rol van die skrywer.

Ek skat ek is aanspreeklik. Dis ’n lastige vermoede, die soort wat ’n mens voortydig met verwagtinge van verpligting opsaal, en tog ook die soort gedagte wat nie vreemd behoort te wees vir ’n vyftigjarige man nie. Met die jare stapel die slegte gevoelens immers op, saam met die slegte herinneringe.

Eers het ek nie so gedink nie. Ek was maar net ’n getuie van die lewe, ’n gemaklike omstander, spesifiek in hierdie geval bloot iemand in die omgewing van die tipe gebeurtenis waarmee die wêreld redelik bekend is, niks meer nie. Maar nou word ek meer en meer onseker oor my rol. Om tot bedaring te kom lees ek Spreuke. En sien uit na koeler dae en dan die winter.

Die vrou bly hier in die woonstelblok, die oorlewende. Soms wanneer ek met die motor in die parkeerterrein inry, sien ek haar en dan lig ek my hand en klim uit om die motorhuisdeur oop te maak. Sy groet terug en loop na haar woonstel wat skuins onder myne geleë is. Ek verbeel my sy is langer as wat sy was; sy is reeds amper ’n kop langer as ek. Haar hare is ligter: die raafswart is getint met vele grys drade, wat goed lyk teen haar donker gesig. Haar gelaatstrekke bly vir my wit, onkundige oog adellik lyk. Ek het nog min vir haar gesê, net “Môre” of “Middag”. Oor die voorval het ons beslis nie gepraat nie, hoewel ek my verbeel sy kyk nadenkend na my, net ’n oomblik, asof sy eendag die onderwerp gaan aanroer, gaan probeer uitvind wat ek opgemerk het, wat ek gehoor het, wat ek dink van die dood van haar man. Ás dit haar man was. Soveel omtrent die saak is onduidelik vir my, wat swak is vir ’n skrywer, maar ek het nie die moed om ondersoek in te stel nie en tot dusver ook nie die drang om betrokke te raak nie. 

Ek hoor haar wel met ander mense praat. Vir die opsigter het sy vertel:
“Ek is nou hard-core.” Dit moet oor die koeël wees wat haar getref het, in die skouer, onder die sleutelbeen, of so het ek gehoor. Op die dag self kon ek hulle natuurlik nie sien nie, net hoor rusie maak in die woonstel terwyl die tuindeur oopstaan. “Vat jou goed en gaan weg,” het sy driftig gesê. Daarna was dit stil. Toe die slag, verstommend hard. Ek kon nie dink wat maak so nie, maar toe klaar sy die misterie op: “Jy het my geskiet!”

My oordeel het my geheel en al verlaat. Ek het geweet ek moet iets doen, toe kyk ek maar hoe laat dit is. Kwart voor drie. Ek het geweet ek moet iemand bel en nie geweet wie nie. Die telefoongids was in my hande en ek kon nie onthou wie se nommer ek wou naslaan nie. Paniek het my lamgelê. Gou egter het ek ander stemme gehoor, in die vierkant voor die woonstel. Harde, gesaghebbende stemme. Iemand met gesag het dus opgedaag en my van iets verlos, indien nie die verpligting nie, dan die verwarring.

Ek het by die balkondeur uitgekyk na die woonstel se tuin. Daar het die man gestaan, hangskouer, van berou miskien, ’n groot pistool in een hand, sy ander hand oor sy gesig. Hy het om hom rondgekyk. Ek het teruggekoes, bedag daarop dat hy in my rigting kon skiet. Toe hoor ek weer ’n slag en die man het uitgeroep en toe ek weer uitkyk, het hy reeds geval en daar was ’n bloedsmeersel soos ’n teken van die tyd teen die tuinmuur en hy het op die gras gelê en dit was sewe minute nadat ek die eerste skoot gehoor het. Hy sou ure daar lê terwyl mense in uniform deur die blok en die woonstel en die tuin beweeg. Teen donker is hy na ’n bakkie met ’n silwer kap gedra. 

Veral die man was gereeld in daardie tuin. Hy het met hout gewerk en die geduldige gesaag of ritmiese gekap sou opstyg na my woonstel. Hy was verby die fleur van sy lewe en het vir my tevrede met homself voorgekom. Weg was besorgdheid oor hoe hy lyk, want sy gryserige hare was altyd
te lank en dikwels het sy gesig in die sonlig soos ’n sterrestelsel gegloei van die baardstoppels. Sy klere was oud, sy hemp soms nie heeltemal toegeknoop nie. Hy was iemand wat in die woonstelblok tuisgehoort het. Sy opinies was nooit sterk nie en hy het sy kop geskud oor hoe ’n mens deesdae ’n vyfrandstuk moet knyp tot sy oë traan.

Hy het iets van motorwerktuigkunde geweet, want eendag het hy ’n probleem met my motor geëien as ’n fout met die aansitter, en hy was reg. Hy wou nie die geldnoot aanvaar wat ek hom vir sy raad aangebied het nie, maar ons het daarna meer gedoen as net groet in die verbyloop; ons het gaan staan en vinnig iets gesê oor die tuin of remmerke op die plaveisel of daardie stoute kind in nommer 29 wat oumense koggel. 

Daar was ’n bedaardheid aan hom wanneer ek hom met die vrou hoor praat, iets soos berusting of goeie maniere. Hulle het ’n hondjie aangehou wat nou weer in die tuin is, ’n dier wat, wanneer dit stil is, op die grasperkie verskyn en wanneer ek uitgaan buitentoe, onder die struike teen die muur inskarrel. Dis die een wese in die woonstelblok wat skugterder is as ek. Ek sou by ander inwoners hoor dat die man ’n oudsoldaat was met verskeie wapens: haelgeweer, Uzi, handwapens.

Die vrou is weggeneem hospitaal toe.

Weke lank was sy nie hier nie. Dit is wat ek weet en ek is seker ’n swak buurman om nie meer uit te gevind het nie. 

Maar ek het hier in Sandbaai, vier kilometer van Hermanus af, kom bly om alleen te wees, sover moontlik. Voorheen was daar ander plekke in my lewe; hierna sal daar sekerlik ook wees. Dis hoe dit dan ook meestal is, die alleenheid wat geen eensaamheid is nie, danksy kort ontmoetings, vinnige interaksie, vlugtige kyke in die verbygaan. ’n Stukkie raad wat my pa my gegee het wat my nog altyd bybly, is dat ’n volwasse man nie sy vriendskappe bedryf asof hy nege jaar oud is nie. 

Aanspreeklikheid is by NB-uitgewers beskikbaar.

comments powered by Disqus