Skip to the content

VVA bied virtuele leeskonferensie aan

Dit is in hierdie buitengewone tye uiters belangrik vir onderwysers om hulle leerders aan die lees te kry.

Die Vriende van Afrikaans (VVA), ’n divisie van die ATKV, het juis daarom besluit om vir die eerste keer ’n virtuele leeskonferensie op 23 Mei vir die Weskus se opvoeders, ouers en belangstellendes aan te bied.

“Ons glo dat kinders wil lees en dat hulle onafhanklik kan dink, daarom kan ons dit nie meer beklemtoon hoe belangrik lees is nie,” sê Chareldine van der Merwe, projekbestuurder van die VVA.

Die konferensie is vir voorskoolse en laerskoolopvoeders, ouers, belangstellendes en mense wat met kinders werk via Zoom aangebied.

“Ons wil met ons leeskonferensie – veral in hierdie moeilike tye – vir mense leiding, inligting, tegnieke en wenke gee rondom lees-en leeruitdagings. Ons wil ook veral ouers motiveer en aanmoedig om tyd saam met hul kinders te spandeer.”

Die spraakterapeut en skrywer, Christien Neser, en Nicolette van der Heever van die Doen en Leer-leesprogram was die sprekers.

Volgens Chareldine kan kinders nie optimaal leer as hulle nie behoorlik kan lees nie.

“Hulle gaan nie hul take en toetse kan verrig of voltooi as hulle nie kan lees nie, veral noudat hulle in baie gevalle op hul eie moet regkom.

“Die VVA glo lees is aangeleerde gedrag en dat kinders die voorbeeld van volwassenes volg.

“Deur boeke bemagtig jy kinders en leer hulle goeie waardesisteme aan deur hulle aan die regte boeke en stories bloot te stel. Lees lê die grondslag van alle leer.

“Ons wil mense toerus, aanmoedig en in staat stel om kinders/leerders te help veral in hierdie tyd van inperking. Ons wil ook die belangrikheid van veral voorlees beklemtoon.”

Hou gerus die ATKV se webwerf en sosiale media dop vir inligting oor nog leeskonferensie wat beplan word.

Kontak Chareldine van der Merwe by 021 880 1761 of chareldinev@atkv.vva.org.za vir meer inligting