Skip to the content

Webinaar: Gee kinders met leeruitdagings vlerke!

Elke kind in jou klas is uniek, elkeen van hulle anders. Maar wat van dié wat ’n bietjie moeilik-anders is? Wat van die kind wat nie wil luister nie, die kind wat nie kan stilsit nie of die kind wat net nie aandag gee nie? Hoe gemaak met ’n inklusiewe klaskamer?

ATKV se Skitter-in-Afrikaans-webinaar

Die eerste Skitter-in-Afrikaans-webinaar word op Woensdag 27 Mei om 15:00 deur Christien Neser vir hoofsaaklik hoërskoolonderwysers aangebied. Christien gaan gesels oor die inklusiewe klas en onderwysers help om kinders met verskeie leeruitdagings vlerke te gee.

Sy gee ook ’n kykie na haar nuwe boek, Help! My kind is anders. Die boek is ’n praktiese gids waarin ’n span kundiges vrae soos “Wat as my kind dalk aandagafleibaar en hiperaktief is?” en “Wat as my kind op die outismespektrum is?” beantwoord. Hoewel die webinaar spesifiek vir hoërskoolonderwysers is, is dit oop vir enige belangstellendes en selfs ouers. Nadat jy hierdie webinaar bygewoon het, sal jy presies weet hoe om “moeilike” kinders in jou klas te help of waar om vir hulp aan te klop.

Die koste van die webinaar is slegs R50. Maak seker dat jy jou kontakbesonderhede en die bewys van betaling aan karienb@atkv.org.za stuur. Wanneer Karien Brits, bestuurder: taal by die ATKV, laasgenoemde ontvang het, sal sy vir jou ’n Zoom-skakel stuur wat jy kan gebruik om toegang tot die webinaar te verkry.

BANKBESONDERHEDE:

Bank: ABSA
Rekeningnaam: ATKV
Rekeningnommer: 0170166728, Tjekrekening
Takkode: 632005  
Verwysing: Skitter en jou naam

Die webinaar kan ongelukkig net 100 mense akkommodeer, koop dus NOU jou kaartjie om teleurstelling te voorkom.

Kaartjies is tot 27 Mei om 10:00 beskikbaar.

Meer oor Christien

Christien is ’n geregistreerde spraakterapeut en spesialiseer in lees, meertaligheid, breinontwikkeling en outisme. Sy is ook die outeur van Kondensmelk, wat in 2009 by LAPA Uitgewers verskyn, die eerste in die Elle-reeks. Daarna het gevolg: Koshuiskoffie, Blou Sjokolade, Rocksusters, Duinebesies, Franse Vlegsel, Middernagklub, Pienk Bikini en Strikdans. Amper Einstein is in 2013 by Tafelberg en Pienk is nie vir sissies nie in 2018 gepubliseer. Van haar kortverhale is ook al opgeneem in publikasies soos Verlief, Sweef en Galop, asook in Rapport en Huisgenoot.

Haar jongste boek, Help! My kind is anders, is spesifiek gerig op voorskoolse kinders en hulle ouers, onderwysers en naastes. “Hoekom kry soveel kinders deesdae in terapie?” Dit was die vraag wat Christien geïnspireer het om hierdie boek te skryf. “Dit is moeilik genoeg om ’n doodgewone teksboekbaba groot te maak. Des te meer as jou kind ’n nuk of ’n gril het. Maar wat as daar werklik iets ernstig verkeerd is,” sê Christien. Hierdie boek probeer 15 van ouers se mees algemene vrae aan terapeute beantwoord. Lees hier meer oor die boek.

Jy kan jou aanlyn kopie van Help! My kind is anders by LAPA Uitgewers koop.

Daar sal twee harde kopieë tydens die webinaar weggee word.

Die eerste van nog baie webinare

Die Skitter-in-Afrikaanswerkswinkels, wat die afgelope nege jaar landwyd vir Afrikaansonderwysers aangebied is, word nou aanlyn aangebied. Daar sal twee maal per maand kort webinare vir onderwysers aangebied word en die inhoud sal handel oor spesifieke, kurrikulum-gerigte onderwerpe. Die webinare is egter nie net vir Afrikaansonderwysers nie en is oop vir enige belangstellendes. Ons wil veral ook ouers aanmoedig om deel te neem omdat die inhoud ouers ook sal bemagtig om hul kinders met hul skoolwerk te ondersteun.

Die virtuele werkswinkels het ten doel om onderwysers te help om volhoubaar kreatief te dink, om nuwe vaardighede te ontwikkel en om praktiese oplossings te vind vir uitdagings wat hulle tans in die gesig staar.