Skip to the content

ATKV-Entrepreneurs 2020: En die wenners is...

Covid-19 het dalk ’n demper op 2020 geplaas, maar dit het nie jong entrepreneurs gekeer om hulle vir die ATKV-Entrepreneurskompetisie in te skryf nie.

Vir die drie beoordelaars was die proses om ’n wenner te kies beslis nie maklik nie. Die besigheidstories was kreatief en het op die koop toe gewys dat jong mense ’n kop vir besigheid het.

Zené van Heerden, ’n graad 6-leerder aan die Laerskool Goedehoop, se stalletjie “Zené se Qties” het die beoordelaars se oog gevang. Sy is die wenner in die stalletjiekategorie.

Zené hou daarvan om self van die produkte te maak wat sy verkoop.

“Ek het ’n spookasem- en ’n springmieliemasjien. Ek verkoop ook onder meer ’n “Adopt a pet”-pakket – dis ’n teddiebeer, sy geboortesertifikaat, kossies en medisyne (lekkers). Verder het ek ook begin om bababottels aan te koop wat ek met hasiemelk (Nesquik) volmaak.”

As Zené ekstra geld het, sal sy speelgoed of produkte op spesiale aanbieding aankoop en dan weer verkoop.

Marizaan Burger, ’n graad 8-tuisonderrigleerder van Hartenbos, se skuimpies is al deur een van haar kliënte as “engelpiepie” beskryf. Danksy dié lekkerny is sy nou aangewys as die beste deurlopende entrepreneur.

“Ek wou iets doen waarvan ek hou en waarin ek myself kreatief kan uitleef. Skuimpies bak het vir my die geleentheid gegee. Elke bestelling is anders.”

Sy het begin om bestellings op Whatsapp te neem, maar nou word haar skuimpies ook by die plaaslike apteek, Spar, twee slaghuise en ’n tuisnywerheid verkoop.

Die twee wenners wen ’n ontwerppakket van Gazzaroo ter waarde van R12 500 elk.

“Dit is net vir my amazing om te sien hoe die jongmense in ons land steeds daar buite besig is om hulle besighede te bedryf en hoeveel geld hulle maak! Ek dink entrepreneurskap is die belangrikste skill wat jy vir jouself in hierdie tyd kan leer. Dit is noodsaaklik dat jy moet weet hoe om met geld te werk, hoe om jou geld meer te maak en hoe om finansiële sukses vir jouself te bou,” sê Albert van Wyk, een van die beoordelaars.

Volg die ATKV se webwerf en sosiale media vir inligting oor die ATKV-Entrepreneurskompetisie in 2021.

Kontak gerus vir Annemarie Alberts by 011 919 9066 of annemariea@atkv.org.za vir verdere navrae of besoek die ATKV se webwerf.

Marizaan Burger

Marizaan Burger

Zené van Heerden

Zené van Heerden

comments powered by Disqus