Skip to the content

ATKV vereer vir Dana Snyman

By die ATKV-oorkonde-oorhandiging is van links prof. Marius Ungerer, ATKV-direksielid, dr. Marlene le Roux, voorsitter van die ATKV-direksie, Dana Snyman en Jodi Jantjies, wat die gaste vermaak het. Foto: Izak de Vries

Die skrywer Dana Snyman is Vrydagaand vir sy jare lange bydrae vereer om die stories van mense met deernis en humor in Afrikaans te vertel.

Dana is benoem vir hierdie eer deur die ATKV-tak-Kaapstad, die oudste tak in die land.

Die oorkonde is deur die voorsitter van die ATKV-MSW se direksie, dr. Marlene le Roux, oorhandig. ’n Boodskap van Sonél Brits, besturende direkteur: ATKV-MSW, is ook voorgelees.

In sy bedanking verwys Dana na ’n gesprek wat hy baie jare gelede met dr. Fritz Kok gehad het. Kok was in daardie stadium die besturende direkteur van die ATKV. Dana vertel dat hy aan dr. Kok genoem het hoe belangrik dit vir hom is dat ATKV uit die werknemers van die Suid-Afrikaanse Spoorweë gebore is.

"Daardie spoorwegwerkers se kulturele erfenis bly voortleef in die ATKV," sê hy, maar voeg dadelik by "die ATKV het intussen vernuwe en dit is ewe belangrik".

"Die ATKV doen baie om alle weergawes van Afrikaans ter wille te wees en het ook lank reeds alle rasse en gelowe deel gemaak van die ATKV se hede en toekoms."

Volgens Dana lê Afrikaans se toekoms waarskynlik binne die sprekerskorps, aangesien die staat nie moeite doen om die hoër funksies van die taal ter wille te wees nie. Dit is waar hy weer die ATKV wil gelukwens, want alle vorme van Afrikaans en alles sprekers van Afrikaans is welkom.

Dié storieverteller het ook hulde gebring aan dr. Danny Titus en die groot werk wat hy gedoen het om Afrikaans en versoening te bevorder.

Hy het ook verwys na die werk wat hy en sy geliefde, Ester Oosthuizen, doen om die stigma om depressie teen te werk. “Depressie kan ’n terminale siekte wees.” Daarom verkoop hulle tuisgemaakte honde en hoede wat deur werklose mense gemaak is met die etiket “swart hond” daarop.

Die aand is afgerond met sang, musiek en ’n heerlike maaltyd. Jodi Jantjies, ’n produk van ATKV-Crescendo, het die aand geopen met haar lied “Dit is my storie” en Mario Arnold het ná die formele verrigtinge die saksofoon laat jubel.