Middelburg leef #weesdieverskil
Die ATKV se #Weesdieverskil-veldtog het oor die afgelope jaar groot traksie onder ATKV-takke en hulle gemeenskappe gekry, maar nou is dié boodskap lewensgroot en sigbaar vir almal wat Middelburg, in die Oos-Kaap, binnery.
Die ATKV-tak Rhenosterberg het onlangs met behulp van die plaaslike toerismeforum drie #Weesdieverskil-plakkaatborde laat maak.
Volgens Gerrit Coetzee, takvoorsitter, is een van hulle reeds by die ingang van die dorp, in die rigting van Bloemfontein, opgerig.
Die ander twee sal onderskeidelik by die Steynsburgpad en langs die Cradockpad opgerig word.
“Ons is vreeslik bly en opgewonde oor hierdie borde,” sê Gerrit.
“Nou kry die ATKV en ons tak die nodige blootstelling wat hom toekom.”
ATKV-tak Rhenosterberg het die afgelope tyd hulle eie #weesdieverskil-jeugprojekte geloods om die jeug in hulle gemeenskap by te staan en te bemagtig.
“Ons het onsself veral toegespits op die hoërskoolleerders van die dorp,” sê Donald Smiles, ondervoorsitter van die tak.
“Ons het met ons #weesdieverskil-projekte probeer om leerders se matriekjaar vir hulle makliker te maak deur om mentors aan te stel om hulle te help as hulle vasbrand met hulle skoolwerk.
“Ons het ook gefokus op die geestesgesteldheid van die leerders en hulle in kontak gebring met kundiges in die gemeenskap, soos geestesleiers wat hulle kan aanmoedig en raad kan gee.”
Die tak het ook vir die leerders loopbaanvoorligtingsklasse aangebied.
“Dit is vir ons verblydend om ons harde werk nou op advertensieborde te sien waar mense kennis kan neem van wat ons doen,” sê Donald.