Prikkel jou lagspiere met Grendel-Giggel
2020 het ons lewens onherroeplik verander. Die Covid-19-pandemie het ons tot ons huise beperk. Drank was taboe, om nie eens te praat van die skelm smokkesigarette wat rokers moes koop nie. Boonop is derduisende werkloos gelaat en is ons ekonomie aan flarde.
Maar, nou kan jy vir ’n uur of wat vergeet van die negatiewe en weer jou lagspiere prikkel met Grendel-Giggel.
Grendel-Giggel is Ilne Fourie se eenvrouvertoning waarin sy die draak steek met die grendeltydperk.
Ilne, in samewerking met die ATKV en ATKV-tak Gemeenskapsteater van Bloemfontein, wil met hierdie inisiatief graag weer mense laat lag.
“Die produksie gaan vir mense die geleentheid bied om te ontvlug van die negatiewe en weer menswees te kan ervaar sonder al die ellende waarmee ons op ’n daaglikse basis te doen het,” sê Gertjan Holtzhausen, ATKV-streeksbestuurder.
“Die jaar 2020 was beslis ’n uitdagende jaar vir almal, maar nou is die sluise weer oop, die wynrakke en die skole vol, en kan ons ’n slag asemskep en terugkyk op ’n baie vreemde jaar,” sê Ilne.
Ilne gaan aan verskeie temas in haar produksie raak, soos hoe gemaak om daai lockdown-lyfie weer te reg te kry vir die somer?
Sy ondersoek ook temas soos: Tannies met trollies en ander irritasies; Whatsapp-groepies; tuisskooltantrums; en ’n vals en gefrustreerde has-been operasangeres wat haar nuwe album en enkelsnit bekend stel.
“Kom kuier lekker saam en vergeet ’n slag van 2020 en sy probleme! Skud daai Covid-blues af met ’n glasie geraaswater en Grendel-Giggel,” skerts sy.
Daar gaan 13 vertonings van Grendel-Giggel wees wat na dorpe, soos De Aar, Gariepdam, Somerset-Oos, Middelburg in die Oos-Kaap en Jan Kempdorp, gaan toer.
Vir kaartjies en meer inligting kontak vir Gertjan Holtzhausen, ATKV-streeksbestuurder by 082 563 4457.