Skip to the content

ATKV se Afrikaans vir Almal gaan voort

Die Afrikaans vir Almal-projek gaan ondanks die Covid-19-pandemie weer voort.

Hierdie projek het eers as die Afrikaans-in-Sowetoprojek bekend gestaan. Die fokus is om die deelnemers (van jonk tot oud) op informele manier selfvertroue in Afrikaans te gee. Die deelnemers kom weekliks vir twee uur bymekaar om Afrikaans te praat, te dans en te sing.

Die projek word in samewerking met die Universiteit van Johannesburg aangebied.

“Die Afrikaans vir Almal-klasse het ten doel om Afrikaans as vriendelike en bemagtigingstaal in Soweto te bemark. Daar is ’n groot behoefte vir Afrikaanse lesse in Soweto,” sê Suzie Matlhola, projekorganiseerder.

Tydens die staat van inperking het Suzie lesse opgeneem en via WhatsApp aan die leerlinge gestuur, sê Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof: taal en kultuur by die ATKV.

“Dit is egter nie die ideaal nie, omdat nie almal toegang tot WhatsApp of data het nie. Ouers het by ons gepleit om so gou as moontlik die lesse voort te sit. Ek en Suzie het met skoolhoofde vergader en Covid-19-opleiding aan ouers en leerlinge gegee. Daarna het lesse weer begin,” sê Gerrie.

Die lesse word elke Saterdag tussen 09:00 en 12:00 by skole in Soweto aangebied.

Volgens Suzie het ouers ook die ATKV versoek om met wiskundelesse te begin en dit word ook nou aangebied.

Mense wat hulle wil aansluit, kan Suzie Matlhola by 076 199 1503 bel of ’n e-pos stuur aan Jane Tonie by janet@atkv.org.za.