Skip to the content

Sakkie Kotze vereer vir sy bydrae

Sakkie Kotze
Sakkie Kotze en sy vrou, Beatrice.

Sakkie Kotze het waarskynlik geen bekendstelling nodig nie. As jare lange voorsitter van die ATKV-tak Centurion en voormalige lid van die ATKV-direksie het hy ’n reusebydrae tot die ATKV-takstruktuur gelewer.

Die ATKV het op 28 Oktober lewenslange erelidmaatskap aan hom toegeken vir sy jare lange onbaatsugtige bydrae tot die ATKV.

Sakkie, wat in Johannesburg gebore en getoë is, se liefde vir die Afrikaanse taal en kultuur het reeds tydens sy skooldae begin. Sy Afrikaans-onderwyser by Helpmekaar, mnr. Louis Malan, se mooi taalgebruik, puik lesaanbieding en toneel- en revueprojekte was ’n groot inspirasie. Sakkie se entoesiasties deelname aan ATKV-aktiwiteite het tydens sy studentejare voortgeduur.  

Ná sy onderwys-opleiding het Sakkie in 1972 begin skoolhou by sy alma mater, en nou was sy eertydse rolmodel sy kollega. Tydens sy onderwysloopbaan was Sakkie vakhoof vir Afrikaans, adjunkhoof, skoolhoof en uiteindelik inspekteur van onderwys. Hy het elke geleentheid aangegryp om sy passie vir Afrikaans uit te leef en oor te dra. As onderwysman het kwessies soos moedertaalonderrig, gehalte-onderwys en leierskap hom nog altyd na aan die hart gelê, en hy was ook die Suid-Afrikaanse adviseur hieroor vir ’n Amerikaanse onderwys-ondersteuningsmaatskappy.

Sakkie praat graag oor Afrikaans, en het deur die jare deelgeneem aan verskeie paneelbesprekings oor Afrikaans op RSG, Radio Namakwaland, Pretoria FM en Radio Rippel. Hy was ook lid van ’n paneel vir ’n reeks praatjies oor taal en kultuur vir Radio 2000. Hy het ook as beoordelaar van verskeie Praatsaamkompetisies in Afrikaans, Engels en ander inheemse tale opgetree.

In 1993 het Sakkie hom by die ATKV-tak Centurion aangesluit. Hy is in 1997 as takvoorsitter verkies, en het die tak daardie jaar by die ATKV-kongres verteenwoordig waar hy as lid van die ATKV-direksie verkies is.

Onder sy leiding het die ATKV-tak Centurion verskeie takprojekte aangepak, soos die stigting van die Centurion Musiekforum wat bestaan uit sangers, saag-, konsertina-, mondfluitjie- en trekklavierspelers. Die groep het onder meer musiek gemaak by ATKV-oorde en -takke, skole, kerke, ouetehuise, die Erfenisfees, Aartappelfees, Willem Prinsloo Landboumuseum en Pretoriaskou. ’n Ander takprojek “Ons passie vir Afrikaanse passies, musiek en liriek” is aangebied by die ATKV-kongres, die Voortrekkermonument en op die SABC-verhoog by die KKNK. Die tak het ook deur die jare verskeie sangkompetisies en werkwinkels vir sangers en liedjieskrywers aangebied.

Die tak se Vlam vir Afrikaans-projek by die Erfenissentrum van die Voortrekkermonument het amptelik op 8 Mei 2016 begin toe die bekende Suid-Afrikaanse operasangeres Mimi Coertse die vlam aangesteek het. Die vlam brand steeds en is al deur honderde belangstellendes besoek. Verskeie gedenkplate is ook onthul om hoogtepunte uit die Afrikaanse geskiedenis, soos die eerste amptelike erkenning van Afrikaans as taal (1925), die eerste Afrikaanse Bybelvertaling (1933), die eerste Afrikaanse radio-uitsending (1937) en die eerste Afrikaanse TV-uitsending (1976) te gedenk. Toppresteerders in Afrikaans word ook jaarliks genooi om ’n groeteboodskap aan Afrikaans namens hul skool langs die vlamstaander te kom plaas. Hierbenewens het die tak ook ’n Vlam vir Afrikaans-webwerf geskep wat in net meer as drie jaar reeds meer as 23 000 besoekers gelok het.

As oud-onderwyser besef Sakkie maar te goed hoe belangrik dit is om leerders en onderwysers te inspireer. Oorkondes aan onderwysers wat langer as 35 jaar Afrikaans as vak gegee het en Mnr. en Mej. Afrikaans-skouerbande vir die toppresteerders van verskillende grade is maar twee maniere waarop die tak poog om te inspireer.  

Die tak het ook inspirerende maniere gevind om Afrikaans na die sportarena te neem met onder meer drie sportliedjies wat spesiaal deur die Musiekforum geskep is en gesing is tydens drie internasionale sportgeleenthede wat in Suid-Afrika aangebied is.

Sakkie het deur die jare al verskeie toekennings ontvang. In 2002 is hy deur die Toastmasterklub aangewys as Kommunikator van die Jaar. Sy bydrae tot taal- en kultuurbevordering is in 2005 beloon met ’n toekenning van die Junior Stadsraad van Pretoria. In 2010 was hy die ontvanger van ’n FAK-toekenning. In 2018 was Sakkie die trotse ontvanger van die Afrikaanse Taalraad se Kokertoekenning vir sy bydrae tot die Afrikaanse taal- en kultuur, en in 2019 het die Afrikanerbond hom vereer vir sy bydrae tot ons moedertaal.

Die lirieke van Sakkie se skepping “Ek praat jou taal” – wat ook in die Graad 4- Afrikaanse leerboek vir laerskole opgeneem is – som sy liefde vir Afrikaans waarskynlik die beste op: “Ek kan praat en skryf, sing en lees, hoor en leer, dink en droom, bid en glo in my eie moedertaal Afrikaans.” 

Dit is vir die ATKV-direksie ’n voorreg om lewenslange erelidmaatskap aan Sakkie Kotze toe te ken.