Skip to the content

ATKV-tak Peaat se lede nou TV-sterre

Emercia de Lange is te sien in die komedie-reeks "Kniediep in die warm water".

ATKV-tak Peaat in Port Elizabeth spog met ’n handjie vol van hulle lede wat op die kassie te sien is.

Mariana Lourens, Anton Steyn, Marelize Barnard en Emercia de Lange verskyn in die komedie-reeks, Kniediep in die warm water, op SABC2.

“Dit is vir ons in Port Elizabeth ’n reuse-deurbraak,” sê Emercia, wat ook die ATKV-tak Peaat se voorsitter is.

“Die 13 episodes is in Port Elizabeth verfilm en daar is baie plaaslike akteurs in die reeks gebruik.”

Die storie is gesentreer om Wonderwaters, ’n boetiekhotel en spa aan Port Elizabeth se strandfront, waar die personeel hul bes doen om gaste te laat glo die hotel is so luuks as wat hy voorgee om te wees.

Die plaaslike akteurs het die geleentheid gekry om langs ervare akteurs soos Jacques Gombault, Chanelle de Jager en Carla Joubert van den Bergh te speel.

“Daar is nie baie geleenthede vir akteurs in Port Elizabeth nie en daarom was hierdie vir ons almal ’n wonderlike geleentheid,” sê Emercia.

Sy speel die rol van Alta, ’n kleptomaan, wat op soek is na haar verlore dogter.

Volgens Emercia was die verfilming vir haar iets nuuts en ook ’n uitdaging.

“Ek is gewoond aan teaterwerk waar jy vir drie maande op ’n slag repeteer. Hier het dit baie vinnig gebeur. Jy verskyn op die stel. Doen jou ding en dan is jy klaar.”

Sy meen sy sal dit weer wil doen.

“Ek hoop dat daar ’n tweede seisoen sal wees. Ek sal dit graag weer wil doen.”

ATKV-tak Peaat vier volgende jaar sy 70ste bestaansjaar en hulle beplan om groot makietie te hou.

Dié tak beywer homself met die kunste en het jaarliks ’n produksie wat hulle op die planke bring.

“Hierdie jaar is ons planne ’n bietjie in die wiele gery weens die pandemie en het ons besluit om nie voort te gaan met die produksie nie, maar ons gaan beslis volgende jaar dit vier,” sê sy.

  • Kniediep in die warm water word Woensdag om 19:30 op SABC2 (DStv-kanaal 192) uitgesaai.