Skip to the content

Deel jou môres

Christine Barkhuizen le Roux, outeur van romans soos Padmaker, Drieklawerblaar en Getuie, skryf oor die versengende droogte in die Klein-Karoo en die dag toe die reën kom …

Die Suidwestelike Distrikte, en veral die Klein-Karoo, se droogte duur al jare. Die rivier op Kleindoornrivier het vyf jaar laas geloop. Die aarde huil; boervroue huil met trane; die boere huil in hul hart. Niemand wil werkers afdank nie, maar dit têre, soos ons mense sê.

Môre – Deel 1
13 Januarie. Ons ry kerk toe. Die pad is poeierstof. Al wat aan die lewe bly is renosterbosse – die veld lyk swart. Die melkery is twee jaar terug al verkoop. Dis die droogste in 200 jaar, sê die boere wat in die anale nageslaan het.

Die appelkoos- en perskebome word gelos om te verdroog; daar is nie water in die damme nie. Daar is ’n boorgat, ’n genade, want die groentesaad oorleef daarop. Maar wanneer dit bewolk is, loop die boorgat nie; ook nie in die nag nie. Dit werk met sonkrag.

Vir die eerste keer in 36 jaar is ek bang. Die dominee bid en sê dankie vir die reën aan die ander kant van die dorp. By ons was daar 2 mm. Stofnat. Ek soek na ’n tissue in my handsak, probeer ongemerk my gesig droogvee.

Ons kyk na die “tekens”. As die miere só loop kom reën dit, sê ons vir mekaar. Maar die reën steur hom niks aan miere nie. As die skilpaaie uit die berg veld toe loop, gaan dit definitief reën, het die oumense gesê. Maar daar is ook ’n kring om die maan – en dit beteken droogte. As die wolke smiddae karosmaak oor die Langeberg bly die reën lank weg. Só het die oumense ook gesê.

“Ons praat vandag daaroor om goeie dinge te doen in slegte tye,” sê Dominee van die kansel af. Iewers vandaan skep ek ’n bietjie moed. Want dis nogal die klaagprofeet Jeremia wat ’n brief aan die Israeliete in Babilon skryf:

“Bou vir julle huise en bewoon dit, lê tuine aan en eet die opbrengs daarvan, trou en bring kinders in die wêreld, en laat hulle trou en kinders in die wêreld bring. Julle moet daar in Babel baie word, nie min nie. Bevorder die belange van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, bid tot My vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange ... Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting!”

Ons ry terug plaas toe. Die kar gly in die uitgeryde sandpad. Ek onthou van ons kleinkind wat laas week ’n jaar geword het. Die grootste vreugde wat enige mens kan ervaar. Ek oordink die woorde van Jeremia “lê tuine aan” en ek wil boontoe roep: “Maar waarmee moet ons dit natmaak?” Want die tuin en gras is verdor. Net die vetplanttuin hou uit. Die spekbosse blom pienk – spekbosse blom wanneer die droogte op sy ergste is.

Die drie veldloopperde se ribbebene steek uit. Daar’s nie kos nie, daar’s nie water nie, daar’s nie meer droogtehulp vir die boere in die Klein-Karoo nie. Soms dink ek: God het ons vergeet. ’n Vriendin wat altyd ’n pragtige tuin het, het Oujaarsaand vir my ’n enkele geel roos gebring. “Verder het ek niks nie,” sê sy.

Ons braai Sondag laatmiddag ’n paar skaaptjoppies, “maar ek gaan maar die paar skapies moet slag en verkoop”, sê my man. “Hier is niks meer wat hulle aan die lewe kan hou nie.” Tussen die spekboompies groei ’n aantal tamatiestoele wat ons suinig water gee – opgekom uit die komposhoop se bydrae tot die spekboomsteggies se groei. So, ons het tamaties by die tjoppie. En ons het brood. Ek dink: Eintlik het ons baie. Selfs ’n glas wyn.

Maar teen skemeraand, toe ons tussen die verdorde appelkoosbome loop wat nooit weer sal dra nie, sien ek die groot bergskilpad; ek onthou die onvervulde beloftes.

Voordat ek aan die slaap raak, dink ek aan die goeie dinge wat ons in die slegte tye moet doen. Soos wat, wonder ek. Ons kan geen tuine  regtig aanlê nie; daar is geen manier waarop ons aan die woonhuis of die buitegeboue wat dreig om inmekaar te val herstelwerk kan doen nie. ’n Groot deel van die uie wat vir saad geplant is, is ’n mislukking. Dele van die wortelsaad lyk sleg. Hoe hou ’n mens kop bo water? En ek lag – want hoe is dit moontlik dat ons dáárdie uitdrukking van die Nederlanders net so oorgeneem het? By ons is dit koppe wat deur die stof beur.

Met die herinnering van bietou wat in goeie jare so geel langs die paaie en in die veld geblom het, probeer ek die droewe, dor gedagtes wegdruk.
In die nag word ek wakker vir iets “mensliks”, soos Carmiggelt dit noem. Ek loop uit op die langstoep. Die maan is rond en donkergeel soos die dooier van ’n skrophoender se eier. Ek bly staan. Iewers hoor ek iets wat ek in baie maande nie gehoor het nie. By die rooidam se wal kwaak die kikvorse.
Dalk reën dit môre. 

Môre – deel 2
Datum: 10 Julie. Ek word wakker. Dit kletter op die sinkdak. My man kom die volgende oggend by die deur in: “26,3 mm.” Die meeste in jare op een slag. ’n Sprankie hoop.

Twee weke daarna reën dit weer: 31,4 mm. Die bossies begin groen raak. 18 Augustus reën dit 21,5 mm. Die vinke dink die lente is al hier en kwinkeleer terwyl hulle neste bou. Die prieëlwingerd loop uit.

My hart sing. Daar is ’n dodelike virus en mense gaan dood, maar óns het hoop. Die boere se oë glimlag bo die maskers. Die inperkings word gelig; ons vier ’n boervrou-vriendin se verjaardag. Die gras is glinstergroen, die azaleas straal, die gesiggies dans pers en blou.

3 tot 4 Oktober is daar 14,5mm. Laas Sondag, 11 Oktober, kom wys my man ’n foto: Die water begin uit die berg oor die klippe loop. Dis te min om die rivier te haal – maar wanneer laas het ons dít gesien? Dit reën uit my oë van blydskap.

Die Kleindoornrivier loop nog nie en die damme is nog droog, maar die Brandrivier van die bure loop wel, en met die boor van nog ’n boorgat loop die water bo by die gat uit. ’n Fontein is raak geboor.

Al die veld is vygies. Bottergeel blom die bietou, blou in die blom. Môre is híér.

And let your best be for your friend
If he must know the ebb of your tide, let him know it’s flood also.
For what is your friend that you should seek him with hours to kill?
Seek him always with hours to live
For it is his to fill your need, but not your emptiness. – Khalil Gibran

* Christine Barkhuizen le Roux is November 2020 in die ouderdom van 61 oorlede. Rus in vrede.

Taalgenoot is vir jonk en oud; vir mense wat in Afrikaans leef, liefhet en werk. Besoek http://bit.ly/Taalgenoot2021 of https://atkv.org.za/taalgenoot en lees die tydskrif nou aanlyn of laai die PDF-weergawe af.