Skip to the content

’n Nar in ’n nare wêreld

Wanneer dié onderwyseres en voormalige dramastudent die onderwerp van haar doktorale studie noem, kan mens dalk dink dis ’n grap. Maar Klara van Wyk is doodernstig dat daar meer agter hansworsery steek as net vermaak ...

“Ek is gou in klas, antwoord sodra ek kan.”

Sy hou by haar woord, en net na tienuur die oggend klink daar ’n pieng-geluid op die foon en flits Klara van Wyk se naam op die foonskerm.

“Hoor hier, ek het nou nie al die vrae goed deurdink nie, so ek gaan sommer net gesels,” sê sy terwyl jillende kinderstemme van kinders wat duidelik aan die baljaar en speel is vrolik in die agtergrond opklink. Dis ’n aanduiding dat dit heel moontlik pouse is by Vuleka St Josephs, ’n laerskool in Sophiatown, Johannesburg, waar Klara vir graad vier- tot graad ses-seuns skoolgee.

Dis inderdaad pouse, beaam sy, en daarom kan sy dus gou ’n paar minute afknyp om te gesels. Dis eksamentyd, so dinge gaan maar dol, verál vanjaar.

Die 29-jarige Klara is tans besig om haar nagraadse onderwyssertifikaat te verwerf, en vertel ironies genoeg het sy haarself nooit juis as ’n juffrou gesien nie, veral nie by ’n seunsskool nie. Deesdae kan sy egter nie haar lewe sonder die klomp woelige seunskinders indink nie. Dié spulletjie inspireer haar immers daagliks, al besef hulle dit nie eens nie.

“Vanjaar was nie ’n maklike jaar vir hulle nie, die pandemie het alles omver gegooi, maar ek verwonder myself daaraan dat hulle so aanpasbaar is. Tipies kind, vol hoop en energie. Hulle herinner my dat dit belangrik is om jou sprankel te koester.”

Belê in broosheid
“Juffrou” is nie al titel wat Klara beklee nie. Dié slimkop is ook ’n doktor, die eerste en enigste Suid-Afrikaner tot dusver wat ’n doktorsgraad in clowning, oftewel hansworskunde of narrery, behaal het. Sy het in Maart 2020, tydens die inperking, haar virtuele gradeplegtigheid gevier toe sy haar PhD aan die Universiteit Stellenbosch se dramadepartement behaal het. En sy beplan nie om hier te stop nie.

“Ek sien myself as ’n ewige student en dit was ’n unieke lewensondervinding om deur ’n PhD te worstel. Soms was dit ’n eensame proses en soms moes ek op my tande byt, maar dit was ontsettend lonend,” vertel sy oor dié uitsonderlike mylpaal.

“Ek beoog om verdere navorsing te doen in ’n postdoktorale studie oor hoe clowning-beginsels in die klaskamer as ’n leertegniek toegepas kan word. Die land se toekoms lê by die jeug, dis vir my belangrik om in hulle te belê,” verduidelik Klara.

“Deesdae neem ons onsself hopeloos te ernstig op, en die opkoms van sosiale media, glo ek, skep ’n onrealistiese prentjie van perfekwees wat kinders van jongs af die druk laat voel om dit na te streef. Kinders worstel deesdae met soveel uitdagings. Clowning-beginsels soos kwesbaarheid en om mislukking te omarm is só belangrik om te ondersoek.

“Ek dink die essence van ’n clown, oftewel ’n hanswors, in hierdie konteks, is om broos te wees en om homself sodoende vir die gehoor te ontbloot. Die hanswors is histories ’n betekenisvolle politieke- en protesfiguur, maar die manier waarop hy protes aanteken, is anders as in die algemeen. Dis nie noodwendig deur middel van streng konfrontasie nie, maar eerder deur middel van humor. Hy maak jou bedag op die absurde, hy ‘kul’ basies die gehoor sodat hulle hom as ’n spektakel sien, waarna hy ’n spreekwoordelike spieël na die gehoor draai. Nie net lag jy vir die hanswors nie, maar later ook vir jouself,” verduidelik sy.

“’n Hanswors is beslis nie net die stereotipiese idee van ’n figuur met ’n groot rooi neus, bont klere en helder grimering nie. ’n Hanswors in hierdie konteks verrig ’n spesifieke doel en lewer sosiale kommentaar op ’n unieke manier.”

Hansworsteater
Hansworskunde of narrery is ’n realitiewe nuwe en onbekende konsep in Suid-Afrika. Klara verduidelik haar PhD-navorsing het gefokus op die potensiaal van narrery en hoe om dit spesifiek in ’n Suid Afrikaanse konteks toe te pas.

“In my navorsing fokus ek veral op narrery as ’n tegniek om anders na die wêreld te kyk, ’n veilige ruimte te skep waar ’n mens ‘laf’ en ‘simpel’ kan wees; waar foute, mislukkings en onkonvensioniele gedrag toegelaat en aangemoedig word.”

In haar tesis gebruik sy die term “hansworsteater” as ’n vertrekpunt, vanwaar die kompleksiteit van die hanswors se teenwoordigheid in kontemporêre teater ondersoek word, met die uiteindelike doel om gesprekke te stimuleer en verdere vernuwing in die praktyk te ondersteun. Klara verduidelik hansworskunde word histories as ’n Eurosentriese medium beskou, wat daar sy oorprong in die ou sirkustradisies gehad het. Meer onlangs is dit deur teaterpraktisyns soos Jacques Lecoq en Phillipe Gaulier na vore gebring en word dit soms as elitist beskou, en is akademiese navorsing nog redelik beperk in Suid Afrika.

“Ek dink dat narrery dikwels onderskat en misverstaan word. Narrery word as naïef beskou en sonder enige strukturele en analiseerbare beginsels. Deur dit op PhD-vlak te kon studeer, het dit my uitgedaag om ’n meer kritiese benadering te ontgin, terwyl ek steeds gepoog het om die ligter toon daarvan te behou.”

Dit was in haar derdejaar as dramastudent aan die Witwatersrand Universiteit in Johannesburg waar sy die eerste keer met die beginsels van hansworskunde kennis gemaak het.

“Die regisseur Jemma Khan het my gevra om as ’n verhoogbestuurder in ’n produksie van haar te help. Die verhoogbestuurderposisie word toe later basies in ’n karakter omskep, ’n verhoogbestuurder op die verhoog. Ek moes my pligte op die verhoog toe as ’n cheeky hanswors-tipe karakter uitvoer. Die produksie het Edinburgh en Amsterdam toe getoer, en ek het baie geleer deur die verskillende gehore dop te hou. Van die verhoog af kon ek oplet waarvoor lag hulle, al die klein details.”

Sy het tydens haar voorgraadse studie hansworskunde onder Gerard Bester studeer. Hierna het sy voortgegaan om ’n meestersgraad in teaterskepping by die Universiteit van Kaapstad aan te pak, en daaruit is die toneelstuk You Suck! (and other inescapable truths) wat vir ’n Fleur du Cap-teatertoekenning benoem is, gebore. Dié toneelstuk, wat ook die rol van die hanswors in teater ondersoek het, is later as ’n Engelse en Afrikaanse produksie landswyd by feeste en skole opgevoer as deel van ’n anti-boelie projek.

“Ek het glad nie verwag dat die produksie so suksesvol sou wees nie, en dit het toe my PhD geïnspireer. Ek glo werklik clowning is van onskatbare waarde in die teater en ook ’n magtige opvoedingsmiddel. Dis daarom dat ek wil voortgaan om myself toe te spits om te kyk hoe ek nuwe raakpunte tussen opvoedkunde en hansworskunde kan identifiseer en ontwikkel,” beklemtoon Klara. Sy het al verskeie kursusse oorsee by die pedagoog Phillipe Gaulier in Frankryk, en Jon Davison en Mick Barnfather in London bygewoon om haar vaardighede op te skerp.

“Ek glo werklik dat clowning, en om weer te leer lag, ’n ongelooflike helende effek kan hê en ek is opgewonde om die medium verder te ondersoek en daarin te skep.”

Wie’s nou eintlik die nar?

Klara van Wyk verduidelik: “Die term clown is ’n relatiewe onlangse term wat nie voor die 1570’s in Engels gebruik is nie. Die term kom van die Deutse woord ‘colonus’ wat verwys na ’n ‘grondbewerker’ of ‘landgenoot’. Die nar is gesien as ’n buitestander wat van vêr af kom en nie die etiket of reëls van die gemeenskap goed verstaan nie.

“Die nar se eerste rol in die sirkus was as akrobatiese perderuiter en hy moes aan die begin ’n klomp, klein tegniese take uitvoer soos om die sirkus in die dorp waar hulle arriveer te gaan adverteer. Later het die nar so gewild geword dat hy sinoniem met die sirkus-ervaring was.

“Mens kan onderskei tussen die Auguste-nar en die Whiteface-nar. DIe Auguste is gewoonlik die een wat buitengewoon simpel is en in die moeilikheid kom en die Whiteface-nar speel die ‘straight man’, die nar wat die struktuur behou teenoor die Auguste wat ‘misluk’. Dit is hul verhouding en die spanning wat die spel so interessant en snaaks maak.

“Mens kan in meeste kulture die argetipe narfigure kry en hulle speel baie keer ook ’n belangrike rol in die kultuur se politieke- of geloofstrukture. Hulle keer gewoonlik die normale orde van dinge om deur die waarheid te vertel en chaos te veroorsaak.

“Vroue is meestal uit die geskiedenis van narre uitgelaat en daar is ’n ernstige tekort aan materiaal van vroue as narfigure. My opinie is dat narre ’n sekere vryheid het om te kan maak en sê wat hulle wil, iets wat nie deur die loop van die geskiedenis vir vroue gegin is nie.”

Meer lagstof