Skip to the content

Rubriek: Om te doop met oorgawe

Dominee, hoekom doop jy so suutjiespoep? Die kind se kop was skaars nat!” sê-vra die oom toe hy my by die trappies van die preekstoel voorkeer. Ek wou nog noem dat die doopbak te vlak is om ’n behoorlike handvol te kan skep toe word ons in die rede geval deur ’n tannie wat wil weet hoekom ons so min verse van elke lied sing. “En waar is die blomme dan vandag?” sê sy in dieselfde asem.

Ek probeer verduidelik dis ’n gewone Sondag en wat die verse betref, in grendeltyd moet ’n mens maar die tyd dophou. “Wat meen jy gewoon?” kap die tannie terug. “Hier is dan gedoop, gebid en gepreek! Nee, Dominee, g’n Sondag is sommer maar net nie.”

Daardie einste aand, nadat ek ’n vriend vertel het van die terugvoering op my dooptegniek, stuur hy vir my ’n YouTube-skakel van ’n Grieks-Ortodokse priester wat ’n kind doop of hy die erfsonde met seep probeer afwas. Die baba word herhaaldelik, met kop en boude om die beurt, in ’n diep doopbak onderdompel.

“Horses for courses,” mompel ek, maar in my hart het ek geweet ek sal moet terug na die tekenbord. Dit was nie net my dooptegniek waaraan daar geskaaf moes word nie, maar my uitkyk op alles wat kerk betref. Ek is skaam om dit te erken, maar ek het een van daardie opdaag-en-preek-dominees geword wat die trefkrag van kuns, skoonheid, musiek en simboliek verruil het vir slimpraatjies en flou grappies.

Daardie dag het die oom en die tannie by die preekstoel se trappies my uit ’n eng gereformeerde groef kom pluk. Ek het vergeet my taak is nie die bediening van woorde nie, maar die bediening van die Woord, wat vlees word en onder ons kom woon.

En die Een wat onder ons kom woon, is allermins gewoon. Waar Hy tuisgekom het, word kerkwater verander in pryswennerwyn, bly mandjies vol vis en brood agter, hang die reuk van duur parfuum vir weke in die lug, verander uitspattige dade van gasvryheid ’n boomklimmende taksman in iemand met burgemeesterpotensiaal en kry vreesbevange dissipels vatkans aan sy wonde wat vrede bring.

Die tannie was reg, niks van Hom is sommer maar net nie. So, waarom sal ek dan bid sonder kerse, preek sonder blomme, sing sonder verse of doop sonder dat die kind se kop behoorlik nat word?

Die ander Maandag kom ek by die kerkkantoor aan. Ek stap deur die konsistorie en af in die gang, verby die lang ry van oorlede leraars in swart en wit geklee en netjies geraam. Jare se stoere gereformeerdheid hou ’n wakende oog oor elke nuwe dominee wat moedig poog om verandering te bring. By die liturgiese ruimte vind ek die koster met ’n lap en ’n bottel politoer.

Hy poleer die doopvont verwoed, terwyl hy onderlangs mompel. Ek vra hom wat is fout en hy wys my die wit vlekke op die mooi houtafwerking.

“Dominee moet tog versigtiger doop,” sê hy. “Dis elke Maandag ’n vreeslike gesukkel om die doopvont weer te laat blink. En kyk hoe het die kerse op die mat gemors.”

Stert tussen die bene stap ek terug na my kantoor. Die oorlede dominees gluur my vir oulaas aan terwyl ek die konsistoriedeur agter my toemaak. Terug by my rekenaar kom die een e-pos ná die ander deur. Elkeen sê dieselfde ding: “Dankie vir gister se diens.”

Deur Fourie Rossouw

Taalgenoot is vir jonk en oud; vir mense wat in Afrikaans leef, liefhet en werk. Besoek http://bit.ly/Taalgenoot2021 of https://atkv.org.za/taalgenoot en lees die tydskrif nou aanlyn of laai die PDF-weergawe af.