Skip to the content

ATKV-takke: Ons naam is ons trots

Baie ATKV-takke wil ’n wesenlike verskil in hul gemeenskap maak. Hulle bied ’n helpende hand waar nodig en woeker met uiteenlopende projekte om Afrikaans te bevorder. Dit is egter baie van hierdie takke se kreatiewe name wat boekdele spreek vir hul goeie dade.

Een so ’n tak is die ATKV-tak Sonneblom.

“Ons het op dié naam besluit om ons altyd te herinner om positief te bly en ons kop soos sonneblomme na die lig te draai,” sê Anette Becker, takvoorsitter.

“Al groei ’n sonneblom op ’n ashoop sal hy steeds sy gesig na die son draai, net so, wil ons taklede en mense in die gemeenskap oortuig om altyd positief te bly, maak nie saak wat die lewe jou kant toe gooi nie.”

Sy sê hulle hoofdoel is om ’n verskil te maak.

“Ons wil ’n verskil in ons gemeenskap maak met die nodige toewyding en lewenslus en dit alles doen tot eer van God. Hy is die lig na wie ons toe draai.”

Volgens Anette het hulle baie ysters in die vuur.

“Ons is die heeltyd besig. Ons het onlangs weer ’n klomp skoolklere aan behoeftige kinders geskenk en kospakkies uitgedeel.”

Nog ’n tak wat in hulle gemeenskap woeker is ATKV-tak Edik van Uitenhage.

Dié tak fokus veral op welsynsprojekte en dit is ook die oorsprong van hulle naam.

“Edik beteken uitroep en vir ons was die naam gepas, want ’n mens roep gewoonlik uit na hulp en ons as tak antwoord,” sê Bruce Koopman, takvoorsitter.

Volgens hom is die plaaslike biblioteek sentraal tot die tak se aktiwiteite.

“Ons bied leesprogramme vir die kinders by die biblioteek aan en help hulle ná skool met hulle skoolwerk.

“Ons het ook ’n pap-projek om in die oggend vir die kinders pap gee. Dis vir ons baie belangrik om op die gemeenskap se welstand te fokus. Daar is ’n groot behoefte in ons gemeenskap.”

ATKV-tak Langsous het ook ’n unieke naam en Claire du Plessis verduidelik dat dit genoem is na ’n eg Mosselbaaise dis.

“Wanneer visserman terugkom van die see af, sal hulle gewoonlik ’n kwota vis vir hulself kry. Baie keer is dit net viskoppe. Hulle sal met hierdie viskoppe ’n langsous maak wat uit rissies, uie en knoffel bestaan. Dit is ’n soort sop.

“Dit is eg aan Mosselbaai. Jy kry dit nêrens anders nie. Elke visserman of gesin het ook sy eie unieke resep met geheime bestanddele. Net so, is ons as tak ook uniek.”

ATKV-tak Langsous woeker in hul gemeenskap – van die uitdeel van skryfbehoeftes en kos, ’n heldeprojek om helde in die gemeenskap te vereer, skryf en leesgeletterdheid tot gemeenskaporkeste.

Een ding is seker, dié takke sit nie stil nie en doen hul naam gestand.