Skip to the content

Meer kleure as die reënboog

Is jy regtig wie, of wat, jou gender sê jy is? Of jy nou ’n gay predikant in die NG Kerk of Caster Semenya is. Of dalk ’n student aan die Universiteit van Kaapstad, wat besluit het jy mag jou gender as “neutraal” aandui. Op Facebook het jy tot 71 gender-opsies wanneer jy jou profiel opstel.

Annemie*, ’n beroepsvrou wat ook lesbies is, was 16 jaar met ’n man getroud. “Ek het selfs ’n kind by hom gehad,” sê sy. “Ons is uiteindelik geskei omdat ons besef het dat ons mekaar moontlik weerhou van meer vervullende verhoudings.

Ek het in die huwelik beland omdat ek geglo het dis die Bybelse ding om te doen en dat ek geen ander opsie het nie.

“Ek het aanvanklik gedink ek is biseksueel, maar nadat ek op universiteit seksueel by ’n vrou betrokke was, het ek geweet ek is lesbies. Ek wou egter aanvaar word deur God en mens en daarom het ek ’n heteroseksuele huwelik betree.

“My man het geweet van my voorkeur, maar ons het baie hard gewerk aan die huwelik en het geglo dit sou kon werk. Dit was egter vergeefs. Ek het aan depressie begin ly en selfdood oorweeg. My man het hom ál meer in sy werk verdiep.

My hunkering na die sagtheid van ’n vrou wou net nie weggaan nie. Nie eens berading kon ons huwelik red nie.”

Gender is nie geslag
Gloria Steinem, Amerikaanse skrywer, feminis en aktivis, het reeds as tiener besef gender is ’n belangrike, maar ook beperkende kwessie. “As ’n vrou verkrag is, was dit háár skuld. As ’n vrou swanger geraak het en moes trou, is sy beskinder.

Ek het algaande besef ’n mens moet baie versigtig met die kwessie van gender omgaan,” sê sy.

Terwyl geslag verwys na die biologiese verskille tussen man en vrou, het gender met die kulturele verwagtinge om hulle rolle te make. Tradisioneel het mense vaste verwagtinge om geslag gehad en enige afwyking is as abnormaal beskou.

Deesdae word gender as ’n kontinuum, of spektrum, gesien waarin mans en vroue uitdrukking aan hulle teenoorgestelde kant kan gee.

Gender het wel ook te make met seksuele oriëntasie. Vossie Goosen, kliniese sielkundige van Johannesburg wat onder meer in gender spesialiseer, sê: “Afrikaans sal dalk nog sy eie woorde moet ontwikkel om die ingewikkelde persoonlike verskeidenheid in seksuele uitlewing te benoem. Gender dui op die delikate beoefeningspatrone wat op ’n kontinu is met wat ons ‘heteronormatiewe heteroseksualiteit’ noem.

“Gender omvang die verskillende vorme van verhoudings- en seksuele uitlewingspatrone in albei geslagte, persone wat die geslagsdele van albei geslagte het of in persone wat die geslagsdele van die ander geslag ontwikkel en oorplant.

“Ongeag daarvan dat ’n eiertjie en ’n sperm lewe moontlik maak, is die verskeidenheid in seksuele uitlewing soveel meer kompleks en nie geskool op net die verwekking van die volgende geslag nie.

Die Franse teoretikus Jean Laplanche het gesê seksualiteit is nie net as ’n ‘instink’ in DNS aanwesig nie, maar word ook in ons vroegste lewenservaringe gevorm.

Ouers, en veral die ouer wat die meeste met die baba te doen het, kommunikeer haar of sy gevoelens oor seksualiteit en begeerte aan die nuweling sonder om enigsins bewus te wees van hoe bepalend daardie oordrag is.

“Vir die res van ons lewe probeer ons dan sin maak uit wat ons vroeg reeds probeer vasvang en nooit ten volle kán vasvang of vir onsself vertaal nie,” sê Vossie. “Die term gender ondervang juis hierdie verskynsel of proses.”

Gesosialiseer en gekondisioneer
Laurie Gaum, gay NG predikant en skrywer, sê mense word grootgemaak om op ’n sekere manier te dink en op te tree. “Seuntjies word geleer om blou aan te trek en met karretjies te speel, terwyl meisietjies pienk klere dra en geleer word om pop te speel.”

Volgens hom is daar ’n wêreldgenderrevolusie aan die gang. “Voorheen is gedink in terme van die binêre opposisies van manlik en vroulik en mense is primêr só gekategoriseer. Nuwe navorsing wys egter dat mense op ’n kontinuum, of spektrum, lê met baie variasies tussenin.

Gender is ’n sosiale konstruk, onafhanklik van biologiese geslag, en daar is baie verskille in hoe mense hul gender-identiteit vind en uitdruk.”

Dis ’n kwessie wat ook wetenskaplikes aan die gons het. Navorsers verskil oor die mate waarin biologiese, neurochemiese en evolusionêre, asook sosiale en kulturele faktore, ’n rol speel. Maar hoekom is dit so ’n sensitiewe saak? Laurie sê gender-“verskuiwings” bedreig die status quo.

“Mense wil sekerheid en voorspelbaarheid hê. Hulle hou nie van verandering en van dit wat anders is nie. Mense is boonop oningelig oor wat presies gender behels.”

Ons brein verkies eintlik voorspelbaarheid, skryf die Amerikaner dr. David Rock, ’n denkleier op die gebied van neurowetenskap.

“Enige afwyking van die normale en enigiets wat anders en onseker is, word deur die limbiese sisteem van die brein as ’n bedreiging ervaar.”

Sorika de Swardt, kliniese maatskaplike werker van Gauteng, sê gender is ten diepste ’n menseregtekwessie.

“Diskriminasie teen iemand op grond van gender is ’n skending van menseregte en in Suid-Afrika word mense se regte in die Handves van Menseregte beskerm.

Die hele kwessie van vroueregte het ook die fokus op gender-ongelykheid en diskriminasie, veral in die werkplek, geplaas.”

Meer begrip, asseblief!
Laurie bepleit ’n groter bewussyn om gender. “Dis belangrik om na mekaar se stories en pyn te luister,” sê hy.

“Ek is betrokke by ’n organisasie wat groter bewustheid en sensitiwiteit om gender fasiliteer, asook om diverse gemeenskappe in hierdie verband met mekaar te verbind en ’n veilige ruimte te skep waar mense hulle stories kan deel en in gesprek met die gemeenskap kan tree.”

Die lewens- of seksdrang kan nie vasgevang of beheer word nie, sê Vossie. “Dit laat ons weerloos. Ons voel uitgelewer. Daarom is dit belangrik om hierdie sake nie bloot te probeer vereenvoudig nie.

“ ’n Groter begrip daarvan help om die individu in sy of haar uitlewing van sy of haar seksualiteit en behoefte aan intimiteit te steun.

’n Groter bereidwilligheid om te erken dat seksualiteit kompleks is en nie onder ons beheer is nie, kan groter respek vir verskille moontlik maak sodat ons dié tussen ons wat anders is as onsself kan ontdek, begin verstaan en gesonde verhoudings met hulle kan bedryf.”

Die Amerikaanse opvoedingspesialis Aya Kibesaki van die Global Partnership for Education skryf ’n genderbewustheid moet reeds op skool gevestig word. Genderstereotipes in skoolhandboeke moet vermy en meisies geleer word wat hul regte is en om standpunt daaroor in te neem.

Steinem sê die eintlike mikpunt moet wees om ontslae te raak van die idee van gender. “Toe ek in Indië gewoon het, het ek ontdek daar is tale waarin ‘hy’ en ‘sy’ glad nie voorkom nie.

Ouers moet hul kinders grootmaak sodat meisies hulself nie as minderwaardige burgers sien nie. Seuns, daarenteen, moet hulself ook nie as beter beskou nie.”

Die kerk en die wetenskap
In godsdienskringe is daar besware teen liberale teologie en argumente wat nie Skrifgefundeerd is nie. Die NG gemeente Moreletapark in Pretoria het byvoorbeeld sterk standpunt ingeneem teen die algemene sinode se besluit oor gays.

Volgens Pieter Breytenbach, bedryfs-hoof van Moreletapark, “is ons oortuig dat die Skrif ons leer ’n huwelik is die lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou wat mekaar met die liefde van Christus versorg.

Ons glo dat die Skrif daaroor duidelik is dat alle seksuele verhoudinge buite die huwelik teen God se wil en plan is. Ons glo die beoefening van enige seksuele aktiwiteit buite die raamwerk van die huwelik is teen God se wil en plan soos alle ander sondes waaroor die Skrif praat.

Die gemeente se deure staan met die liefde en deernis van Christus oop vir alle mense. Wanneer ’n persoon egter in enige sonde volhard kan hy of sy nie in ’n leiersposisie in ons gemeente dien nie.

Ons wil steeds die oop arms van Jesus wees wat vir alle mense genade, vergifnis en heling bied.” Oor die argument dat gender ’n sosiale konstruk is, sê Pieter die kerk glo man en vrou is deur God geskep en God bepaal die geslag. “Die sosiale omgewing kan mense se optredes bepaal en beïnvloed, maar nie hul geslag nie.”

Ook in wetenskapgeledere is daar onenigheid. Volgens die webwerwe simplypsychology.org en nature.com is studies na genetiese en hormonale faktore se rol in gay-wees onvoldoende.

Daar is ook besware teen die feit dat sulke toetse in laboratoriums op diere uitgevoer is. Daar word aangevoer die resultate kan nie sonder meer op mense van toepassing gemaak word nie.

‘Kom ons praat’
Die joernalis Lourensa Eckard het verlede jaar op Aardklop ’n gesprek oor die woke-debat gelei en sy gaan vanjaar op die Woordfees oor feminisme praat.

“Daar heers baie onsekerheid om gender en ’n swart-wit-benadering is gevaarlik,” sê sy.
“Dis gevaarlik om bloot tradisie uit te daag. Aan die ander kant is dit ook gevaarlik om té versigtig met dié debat om te gaan.

Polarisasie is nie die antwoord nie en ook nie uiterste politieke korrektheid nie. Ons kort meer feite.

Om bloot te sê gender is ’n sosiale konstruk en biologie by die agterdeur uit te gooi, is ook nie gewens nie.”

DEUR ANNE MARAIS
ILLUSTRASIE: CHRIS VALENTINE
*Skuilnaam

Die nuutste uitgawe van Taalgenoot is nou beskikbaar by https://adobe.ly/2Q46QbE of https://atkv.org.za/taalgenoot.