Skip to main content

Lees is van kardinale belang. ’n Kind wat lees, ontdek nuwe wêrelde, ontmoet nuwe mense tussen die blaaie van ’n boek en verbreed sy wêreldkennis en woordeskat.

Lees is ook die grondslag van ’n suksesvolle skoolloopbaan, want kinders wat lees, leer makliker. Maar Suid-Afrika se kinders het ’n kommerwekkende lees- en leeragterstand.

Meeste kinders kan nie met begrip lees nie en die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) en die ATKV wil iets hieromtrent doen deur die aanbied van ’n  leesgereedmakingsprogram vir grondslagfase-onderwysers. Die leesgereedmakingsprogram is deur die neuro-ontwikkelingskenner, dr. Melodie de Jager van Mind Moves, ontwikkel.

“Leesbevordering is een van die ATKV se prioriteite en die AON se leesgereedmakingsprogram skakel in by ons doelwitte,” sê Elda Kruger, streeksbestuurder van die ATKV.

Die program word op 15, 16 en 17 November deur ATKV-takke in Kirkwood, Port-Elizabeth en Despatch aangebied.

Dié omvattende program bied opleiding aan graad 1-onderwysers en stel hulle in staat om leerders leesgereed te kry.

“Die program is opwindend én maklik om te implementeer. Daarby kan dit ook met groot vrug vir graad 2- en 3-onderwysers aangebied word sodat hulle leerders wat op hierdie vlak met lees sukkel, kan help om met gemak te leer lees,” sê Wilna van Rooyen, ’n spesialis in vroeëkinderontwikkeling by die AON.

“Die program vir leerders word oor dertig dae aangebied waartydens hulle  voorvaardighede ontwikkel wat hulle tot leesgereedheid lei. Terselfdertyd word die letters een vir een korrek, maar spelenderwys, bemeester,” verduidelik Wilna.

Die program sal onderwysers onder meer help om ’n einde te maak aan omkerings by leerders wat byvoorbeeld die “d” en “b” met mekaar verwar.

Ná afloop van die kursus sal elke onderwyser ’n onderwysersgids en 39 plakkate ontvang, asook genoeg leermateriaal vir 30 leerders.

Volgens Elda wil die ATKV hierdie program volgende jaar by meer skole aanbied.

“Ons kinders het ’n leesagterstand, en ons hoop om volgende jaar nog meer onderwysers in die Oos-Kaap en dalk landswyd te kan oplei met hierdie fantastiese program.”