Skip to the content

Die wetenskap van bespiegeling

Aardbewoners kan hulle solank gereed maak: Nasa reken hy gaan binne die volgende 20 jaar onweerlegbare bewyse van buiteaardse lewe vind.

Nie dat die idee van moontlike lewe op ander planete nuut is of opslae maak nie. Die mensdom se fassinasie met buiteruimtelike wesens is ouer as die beskawing self.

Orson Welles het reeds in 1938 ’n langverwagte buiteaardse besoek bederf toe sy omstrede radiodrama van War of the Worlds tot in die popkultuur-geskiedenisboeke gevloei het. Welles het opdrag ontvang om die oorspronklike 1898-wetenskapsfiksieroman deur H.G. Wells te verwerk.

Dié veelbesproke radiouitsending was moontlik een van die eerste voorbeelde van ’n mocumentary, hoewel dit nie Welles se bedoeling was nie.

Met ’n manjifieke mengsel van drama en fiksie – tesame met die tegnologie van radio, die destydse “nuwe media” – het Well(e)s se skepping paniek in Amerikaanse huishoudings gesaai.

Die radiodrama is as net nog ’n vermaakprogram aangebied; totdat die beangste “omroeper” die uitsending onderbreek om luisteraars te waarsku teen gewapende Marsmannetjies wat Amerika binneval.

Meer as ’n miljoen mense het vas geglo dat ’n ware buitewêreldse oorlog uitgebreek het en duisende het uit hul huise gevlug.

Die mensdom kan net nie die idee van ’n interplanetêre, antagonistiese weermag afskud nie. Hollywood en die popkultuur wys ons gelukkig voortydig op die modus operandi van die buiteruimtelike vyand.

Sommige werk strategies en in georganiseerde groepe. Ander gebruik guerrilla-tegnieke om toe te slaan wanneer onskuldige ruimtevaarders dit die minste verwag. Party doen makabere eksperimente op verlamde slagoffers (en plaasdiere!).

Op eie bodem het die destydse SAUK die gevaar van vreemdelinge van ’n verre sterrestelsel in Interster vergestalt. Daar is darem voorbeelde van ’n “vriendeliker” weergawe ook: E.T. wou net huis toe bel en Mannemarak se naïewe ekspedisies het ligte voetspore gelos.

Behep met die onbekende
“Verskeie samelewings regoor die wêreld is geïnteresseerd in die vreemde of die ‘ander’,” verduidelik dr. Thomas Cousins, lektor in sosiale antropologie aan die Universiteit Stellenbosch. “Die kern van alle mites, volksverhale en spookstories is om ons eie bestaansvrae te reflekteer.

Ons fassinasie met buiteaardse lewe ontspring uit ons worsteling met ons eie menslikheid en die human condition. Oor hoe om die vreemde medemens te verstaan en ook ’n plek van behoort vir onsself te identifiseer.”

Thomas sê die moderne idee van buiteaardse lewe het in die popkultuur gestalte ná die bekendstelling van die ruimteprogram tydens die Koue Oorlog gekry.

Dit was ’n tyd van onsekerheid, paranoia en ’n dreigende kernoorlog. “Hollywood het hierdie vrese verpak tot dit wat die algemene publiek vandag as Vreemde Vlieënde Voorwerpe en antropomorfiese wesens van ander planete bestempel.”

In die beste wetenskapsfiksie, meen Thomas, word besin oor die menslike toestand en die vraag hoe om verskille op ’n kollektiewe vlak te hanteer. “Alle groot sosiale vraagstukke word vermom en herformuleer of dit van ’n ander, soms fiktiewe, plek afkomstig is.” Die TV-reeks Star Trek is ’n goeie voorbeeld.

Waar die geesteswetenskappe ’n loergaatjie na die mensdom se psige boor, bied ruimtewetenskaplikes die harde, meetbare moontlikhede. Hierdie wetenskappe werk van verskillende uitgangspunte, maar stem saam oor één aspek: Daar ís lewe daarbuite!

Bewoonbare planete
“Daar moet beslis lewe op ander planete wees,” sê Case Rijsdijk, bekroonde sterrekundige en visepresident van Assa, oftewel die Astronomievereniging van Suider-Afrika. “Ek is gemaklik om te sê dat daar lewe in oorvloedigheid elders in ons eie sterrestelsel bestaan – en dus ook in die res van die heelal.”

Ons Melkweg is die tuiste van ongeveer 300 miljard sterre en daar is meer as 100 miljard sterrestelsels in die waarneembare heelal. “Ons kan slegs sowat 10% van bestaande planete opspoor,” sê Case. “Dit is statisties waarskynlik dat feitlik elke ster in die kosmos deur minstens een planeet omwentel word. Elk van hierdie ‘sonnestelsels’ bied die potensiaal van ’n planeet in die bewoonbare sone.”

Nasa se lugvaart- en ruimteslimkoppe gryp hul voorspellings allermins uit die lug. Hul jongste ramings is gegrond op die getal bevestigde eksoplanete (planete wat om ’n ster wentel) wat deur die Kepler-ruimteteleskoop opgemerk is.

“Die afgelope 20 jaar het ons kennis van die kosmos met rasse skrede verbreed,” sê dr. Sarah Blyth, senior lektor en adjunkhoof van die sterrekundedepartement aan die Universiteit van Kaapstad.

“Ons het gevorder van inligting oor ’n enkele ander sonnestelsel, benewens ons eie, tot die ontdekking van meer as 3 500 eksoplanete in ons sterrestelsel. Data van die Kepler-ruimteteleskoop weerspieël dat ongeveer 1 uit 3 son-agtige sterre in ons sterrestelsel moontlik ’n planeet soortgelyk aan die aarde huisves.”

Na raming is daar omstreeks 100 miljard van hierdie sonagtige sterre in die Melkweg en ongeveer 30 miljard planete wat soortgelyk is aan die aarde. “Selfs al is net 1% van hulle geskik om lewe te huisves word die totale getal bewoonbare planete as ’n baie groot getal geraam! Ek dink dus die kanse om buiteaardse lewe te vind is baie, baie goed.”

Waar is hulle dan?
Hoekom kan ons dan nie onbetwisbare bewyse van buiteaardse lewe vind nie? Gegewe die uitgestrekte oneindigheid van die heelal en die ontelbare getal (moontlik) bewoonbare planete in die kosmos – baie daarvan veel ouer as die aarde – waar is die “Marsmannetjies” dan?

Wanneer mense verwys na buiteaardse of buiteruimtelike lewe, het hulle soms die kat aan die stert beet, meen Sarah. Navorsers fokus op twee afsonderlike gebiede: biologiese lewe en intelligente lewe.

Astrobioloë is op soek na tekens van lewe op planete wat om nabygeleë sterre wentel. Lewe, in hierdie geval, verwys na mikrobiese organismes, chemiese boublokke van die lewe en gasse wat op biologiese lewe dui (soos suurstof, osoon, metaan en koolstofdioksied), asook tekens van waterdamp en plantlewe.

Ander ruimtewetenskaplikes spits hulle toe op leidrade na intelligente, buiteaardse lewe en bewyse van hul – moontlik hoogs gevorderde – tegnologie.

Die Seti (Search for Extra Terrestrial Intelligence)-instituut in Amerika bestaan uitsluitlik vir hierdie rede, sê Sarah. “Seti word baie ernstig in die sterrekundegemeenskap opgeneem en sy wetenskaplikes sal uiteindelik toegang hê tot die SKA (Square Kilometre Array)-teleskoop [in die Karoo] as deel van hul projekte.”

Ons begrip van die oorsprong van lewe op aarde dui daarop dat, gegewe ’n geskikte omgewing en genoeg tyd, daar lewe op ander planete sou ontwikkel, verduidelik Case. “Die wetenskap van evolusie sal hom weerspreek as daar nié lewe op ander planete is nie.

Maar daar moet duidelik tussen eensellige organismes en intelligente wesens onderskei word.”

In die konteks van ruimtewetenskap verwys die term “lewe” ook na mikrobiologiese bewyse. “Om die waarheid te sê, slegs ’n klein persentasie wetenskaplikes fokus op buiteaardse lewe,” bars Case ons borrel. “Hierdie soort navorsing kry gewoonlik net meer publisiteit in die media.”

Of evolusie tot ’n intelligente, tegnologiese beskawing sal lei, kan niemand sê nie. Daar is tóg ’n kans dat so ’n beskawing mettertyd opgespoor kan word, meen Seti, en dat die vinnige en voortdurende verfyning van moderne tegnologie dit moontlik maak.

Die geykte idee van ’n vyandige en mensagtige buiteruimtelike figuur is egter minder waarskynlik. “Ons het geen idee hoe buiteaardse, intelligente lewe sal lyk nie,” sê Case. “Die gravitasieveld van die planeet waarvandaan hulle kom, sal die wesens se molekulêre struktuur en liggaamsbou bepaal.

En wie sê hulle sal suurstof nodig hê? Dalk sal hulle fisiologie heeltemal anders wees as hoe ons die idee van lewe definieer.”

Nietemin, vir eers is die gedagte van intelligente, buiteaardse lewe op bespiegeling gegrond. “Ons het nog ’n lang pad voor ons – letterlik en figuurlik!” waarsku Case. “Ons kon nog nie eens ’n bemande tuig Mars toe stuur nie.

“Om te reis tussen verskillende sterrestelsels is ons nog nie beskore nie, nie met ons huidige tegnologie nie, in elk geval. Ons praat hier van reuse-afstande.

“Vir al wat ons weet, wag ’n ander, afgeleë beskawing in vrees vir die dag dat die wrede aardbewoners húl planeet inval.”

DEUR ANJA VAN DEN BERG
ILLUSTRASIE: WILLEM SAMUEL

Die nuutste uitgawe van Taalgenoot is nou beskikbaar by https://atkv.org.za/taalgenoot.