Skip to the content

My waarheid, jou waarheid en dié waarheid

In 2000 sit ek in ’n klas vol studentejoernaliste, saam aan’t skater vir die absurde storie wat voor ons afspeel. Ons kyk Wag the Dog (1997), ’n donker komedie waarin ’n beeldpoetser ’n fiktiewe oorlog in Albanië skep om die aandag van die (fiktiewe) Amerikaanse president se onlangse seksskandaal af te lei.

Skaars ’n maand ná die vrystelling van dié fliek sou die Clinton-Lewinsky-seksskandaal op die lappe kom – gevolg deur ’n bomaanval deur die Clinton-administrasie op ’n fabriek in die Soedan…

In 2016 sit ’n vuisvoos wêreld en kyk in ongeloof hoe die verkiesing van Donald Trump as Amerika se 45ste president ’n werklikheid word. Boris Johnson gooi die Brexit-beloftes onder die (gewraakte) veldtogbus nadat die “Leave”-faksie wen. Dit was ’n jaar vol onmin, geweld en bisarre gerugte, wat as “waar” versprei word.

Die kersie op die 2016-koek? Die gesaghebbende Oxford-woordeboek se internasionale woord van die jaar is “post-truth” (post-waarheid): “Omstandighede waarin objektiewe feite baie minder invloed op die vorming van openbare menings as oproepe tot emosie en persoonlike oortuigings uitoefen.”

In ons post-waarheidwêreld het vals nuus (fake news) ’n wesenlike invloed op ons bestaan. Of, anders gestel: Leuens is aan die orde van die dag. Soos die joernalis en The Guardian-rubriekskrywer Jonathan Freedland dit stel: “Deesdae beskou mense feite as soortgelyk aan menings – jy raak ontslae van dié waarvan jy nié hou nie.”

Vanwaar, Gehasi?
Propaganda, samesweringsteorieë en leuens is so oud soos die berge. Die meeste van ons is nie eens meer verbaas oor hoe gereeld ons politici kreatief met die waarheid omgaan, of dat hulle so gereeld “buite konteks” aangehaal word nie.

Leuens vir politieke gewin mag ’n gegewe wees, maar dit lyk deesdae heelwat “aanvaarbaarder” as ooit tevore. En, belangriker, dit blyk dat mense makliker daarmee wegkom.

Die skrywer Ralph Keyes beskryf reeds in 2004 dié verskynsel as “alt.ethics” in sy boek The Post Truth Era: Dishonesty & Deception in Real Life. Die term verwys na “etiese stelsels waarin geveinsdheid as aanvaarbaar beskou word; nie noodwendig as verkeerd nie, en gevolglik nie regtig as ‘oneerlik’ in die negatiewe sin van die woord nie”.

Ons houding is dat almal lieg, veral ons leiers, so waarom ’n ophef daarvan maak? Dit het op amper elke vlak van ons samelewing alledaagse praktyk geword om iemand ’n rat voor die oë te draai.

“Nie net het ons leuens en om te lieg as algemeen begin aanvaar nie; ons het ook vernuftige maniere ontwikkel om onsself van etiese vraagstukke kwyt te skeld,” aldus Keyes.

Volgens Freedman is dit nie net ’n geval van Trump, en mense soos Trump, wat bloot net lieg nie, maar ook dat hulle daarop sinspeel “dat die waarheid nie saak maak nie en ’n nonchalante houding [daaroor] het”.

Die Amerikaanse presidentsverkiesing is net een voorbeeld van hoe verdraaide feite en woorde handgemeen kan raak. Dit was nie net die geval met Hillary Clinton en Trump, en hul onderskeie spanne nie, maar “gewone” mense het op webwerwe en in sosiale netwerke slaags geraak met vriende, familie en vreemdelinge – in baie gevalle met verreikende gevolge.

Valse voorwendsels
’n Verskynsel wat deels blameer word vir Trump se uiteindelike oorwinning en wat die “debatte” aangevuur het, is webwerwe met vals en misleidende nuus.

Maar die skeppers van dié webwerwe doen dit nie noodwendig om politieke redes nie; hul fokus val eerder op advertensie-inkomste en die getal kliks op hul skakels.

In die hitte van die Amerikaanse verkiesingstryd is verreweg die meeste misleidende nuus (oor Trump én Clinton) deur ’n groep tieners van die dorpie Veles in Masedonië geskep.

In November 2016 het die webwerf BuzzFeed News in ’n diepte-ondersoek meer as 100 pro-Trump-webwerwe geïdentifiseer wat in Veles gesetel is.

Dié webwerwe word vermom om te lyk soos betroubare bronne (soos The New York Times) of gebruik name wat betroubaar klink, soos “USA Daily News 24”.

Hulle skep hul eie nuus of pleeg plagiaat deur ander nuusbronne se inhoud te gebruik, maar dit te verdraai en onder sensasionele opskrifte te plaas.

BuzzFeed News het bevind dat vier van die vyf topstories wat in die aanloop tot die verkiesing deur dié webwerwe versprei is, vals was.

Soos die “storie” dat die pous aangekondig het hy steun Trump. Die vier vals topartikels is saam meer as ’n miljoen keer op Facebook gedeel en het net soveel kommentaar en reaksie ontlok. (Die advertensie-inkomste só ingewin was beslis nie te versmaai nie.)

Volgens prof. Filippo Menczer, ’n dosent aan die Indiana-universiteit in Amerika wat die verspreiding van vals nuus in sosiale media bestudeer, is dit “goedkoper” om inligting te versin en as feitlik weer te gee as wat dit is om die waarheid te rapporteer.

Daar is dus goeie rede vir die bestaan van organisasies soos Africa Check, Politifact, Snopes en Poynter se International Fact-Checking Network. Annamarie van Wyk, Africa Check-redakteur, meen hul werk is om twee redes belangrik: “Mense sukkel om tussen die swetterjoel inligting wat deesdae beskikbaar is te onderskei wat waar of vals is. En omdat ’n mens inligting nodig het om daagliks besluite te kan neem is dit belangrik dat dit op feite gegrond is.”

Suid-Afrika het sy eie vals-nuus-“entrepreneurs”. Volgens Annamarie het sulke webwerwe veral in die afgelope ses maande ’n wesenlike probleem begin raak.

In September 2016 het die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum én die regering verklarings uitgereik oor die verontrustende neiging van webwerwe wat vals en misleidende nuus versprei en die negatiewe uitwerking daarvan. (Tog ironies, dan, dat die ANC-regering aan die begin van vanjaar verstrengel geraak het in die sogenaamde “black ops”-mediaskandaal, waar die party na bewering met die hulp van advertensiemaatskappy Ogilvy & Mather ’n mediaveldtog van stapel sou stuur wat onder meer op verdraaide inligting en nagemaakte verkiesingsplakkate, in aanloop tot die 2016-verkiesing sou steun.)

“Dit is in hierdie tyd dat webwerwe wat daarop uit is om vals stories te skryf begin opduik het,” sê Van Wyk. “Ek het byvoorbeeld pas Mzansi Live se webregistrasie nagegaan en dit wys hulle is in Mei 2016 geregistreer.”

Skakels na “nuus” soos “Desmond Tutu is dood”, “Aaron Motsoaledi sê jy kan jouself besny” en “Twee meerminne in Zuma se vuurpoel gevind” is gereeld op Facebook te sien en fokus tipies op ’n skokkende of sensasionele “storie”.

Klik jy op die skakel, sit jy dadelik geld in die skeppers van dié webwerwe se gatsak.

Jy wil hoor wat jy glo
Daar is verskeie kwessies wat ons keuses beïnvloed. Veral twee is besonder relevant vir die digitale ruim waarin ons beweeg: Die “eggokamer-effek” en ons elkeen se inherente bevestigingsvooroordele (confirmation bias).

Die eggokamer-effek is ’n metaforiese beskrywing van ’n situasie waarin inligting, idees en menings vermeerder en versterk word deur kommunikasie en herhaling in ’n bepaalde stelsel. Dié effek word goed deur Facebook geïllustreer.

Teen dié tyd het jy dalk agtergekom dat jy nie al jou Facebook-vriende se inhoud elke dag op jou tydlyn sien nie, maar eerder dieselfde groep mense s’n, dieselfde soort nuus en soortgelyke skakels.

Facebook se algoritmes mik om aan elke gebruiker die “beste” ervaring te gee, gegrond op dinge waarop jy voorheen geklik of gereageer het.

Mettertyd word menings, nuus en mense waarin jy nie belangstel nie, heeltemal uitgeskakel, veral as jy diegene van wie jy verskil unfollow of unfriend.

Jou Facebook-blad word dus ’n eggokamer: Jy “hoor” en “sien” net dit wat jou eie menings, vooroordele en waardes weerspieël.

As ’n skakel na ’n vals nuusartikel strook met iets waarin jy voorheen belangstelling getoon het of kom van ’n vriend wat jy weet jou menings deel, sal jy meer geneig wees om daarop te klik. En hoe meer gebruikers op ’n skakel klik hoe belangriker dink Facebook is dit vir jou. Soos Annamarie dit stel: “Facebook se algoritme interpreteer die storie as gewild of belangrik en wys dit aan nog mense – en só kan dit viral raak.”

Volgens Menczer skep ons uiters gepolariseerde eggokamers deur ons vriende na te aap en almal met wie ons nie saamstem nie, uit te skop.

Ons gee ook meer oor onsself weg as wat ons besef, sê hy. “Navorsers kan met hoë akkuraatheid sê of jy liberaal of konserwatief is deur bloot na jou vriende te kyk.

Die netwerkstruktuur is so dig dat enige misleidende inligting amper onmiddellik binne ’n spesifieke groep versprei word en terselfdertyd só afgesonder dat dit geen ander groep bereik nie.”
Bevestigingsvooroordeel kom weer daarop neer dat elkeen van ons nuwe inligting wat tot ons beskikking is, gebruik om ons eie, bestaande teorieë of vooroordele te versterk.

As jy byvoorbeeld glo dat die maan van kaas gemaak is, sal jy meer geneig wees om op skakels te klik wat jou teorie staaf. Die probleem daarmee is dat ons net dié inligting gebruik wat strook met dit wat ons reeds glo, en dus belangrike, strydige inligting sal ignoreer of as vals sien.

Soos Menczer verduidelik: “Binne ons borrel word ons selektief blootgestel aan inligting wat met ons bestaande menings strook. Dit is die ideale scenario om betrokkenheid te bevorder, maar ’n skadelike een as jy gesonde skeptisisme wil bevorder.

Bevestigingsvooroordeel is dit wat jou ’n storie laat deel bloot oor die opskrif; sonder dat jy die storie gelees het.”

Hoe raak dit jou?
Onthou jy nog die Ebola-epidemie in 2014? In Afrika was daar ongeveer 30 000 gevalle en 11 000 mense is dood.

Volgens Annamarie was een van die stories wat Africa Check in dié tyd moes ondersoek, die gerug wat in Nigerië ontstaan het dat ’n bad in warm soutwater of die middel “nanosilver” jou teen die virus beskerm. Dit was onwaar – en het tot sterftes gelei.

Misleidende inligting beïnvloed wie ons politieke leiers is, hoe ons geldmarkte presteer en ons samelewings funksioneer.

Dit versterk vooroordele en stereotipes en maak dit maklik om rassisme, seksisme en al die ander “-ismes” te verskans of te verskoon.

Volgens Menczer dra elke stukkie vals nuus by tot die vorming van ons menings. “Die skade kan wesenlik wees: As mense so gebluf kan word dat hulle tot hul kinders se lewe in gevaar stel, soos hulle doen wanneer hulle kies om nie hul kinders te laat inent nie, hoekom nie ook ons demokrasie nie?”

Dit blyk dat die post-waarheidera word deur die seëvier van emosie bo feite gekenmerk. Dit is heelwat makliker om emosioneel te debatteer oor sake soos aborsie of immigrante as om beredeneerd te werk te gaan. Ons neem dus oningeligte, dikwels vreesgebaseerde besluite en vorm ons menings deur halfwaarhede en sensasie ernstig op te neem.

Uiteindelik ondermyn vals nuus en die idee van ’n post-waarheidsamelewing die basiese idee van feite, die geskiedenis en die aard van waarheid. Soos Freedland dit stel: “Bewyse, feite en redelikheid is die boustene van ’n samelewing. Daarsonder verval ons in die duisternis.”

Wees waaksaam
Die komediant Joey Rasdien en hiphop-kunstenaar HHP het in hul liedjie “Make the Circle Bigger” ’n punt beet vir dié wat uit hul eggokamer wil ontsnap: Begin aktief na uiteenlopende nuusbronne soek, lees wyd en moet juis nié mense van wie jy verskil uit jou sirkel stamp nie.

Maak gebruik van hulpbronne soos Africa Check om inligting na te gaan en vir raad oor hoe om vals nuus en webwerwe uit te ken. Hulle bied ’n lys van webwerwe wat vals nuus versprei.

Volgens Sam Wineburg, ’n professor in opvoeding en geskiedenis aan die Universiteit van Stanford, val die mantel van redakteur of bibliotekaresse nou ook op die skouers van enigiemand wat voor ’n rekenaarskerm inskuif. Dit is uiters belangrik om veral jongmense op te voed oor hoe om versigtig en denkende met inligting om te gaan en hoe om dit in ons “luidrugtige demokrasie” te weeg.

Jy’t ’n werkende brein vir ’n rede: Dink voordat jy deel!

DEUR DONNAY TORR
ILLUSTRASIE DEUR RIKUS FERREIRA

Die nuutste uitgawe van Taalgenoot is nou beskikbaar by  https://atkv.org.za/taalgenoot.