Skip to the content

Vandag se normaal; môre se bisar

’n Handvol dekades gelede het die mens vreemde dinge aangevang. Vroue het strykysters gebruik om hul hare mee reguit te maak en daar is na hartelus op vliegtuie gerook.

Vandag lyk sulke gedrag vir ons ondenkbaar.

Tegnologie vorder vinniger as wat ons kan bybly en die verlede lyk in sy stomme eenvoud al hoe meer bisar. Vyftig jaar gelede was koffiemaak sonder kinkels; die hoogtepunt van ‘aanlyn’ jou huistelefoon; hula hoops die bron van ure se vermaak; en televisie nog relatief skadeloos (Loveboat en Dallas teenoor deesdae se Game of Thrones en The Walking Dead).

Kinders moes gesien en nie gehoor word nie (en verál nie obsessief oor ge-post word nie). My ma en haar makkers het in matriek nog boomklimkompetisies in Onseepkans gehou. Klink dit effe ongemaklik? Ongemak was deel van ons bestaan – oorlog, geboorte gee, hongersnood – en om taai te wees was ons oorlewing.

Om te kla met die witbrood onder die arm was ’n koddige idioom; vandag is dit ’n ernstige stelling. Brood van enige kleur is deesdae die vyand. “Mense in Los Angeles is dodelik bang vir gluten… jy kan ’n drankwinkel in hierdie stad met ’n bagel beroof,” skerts die akteur Ryan Reynolds op Twitter.

Gemak en kieskeurigheid is aan die orde van die dag. Deesdae maak jongmense nie meer staat op hul pelle nie – hulle kies eerder die naaste toestel vir tydelike verligting en kitsbevrediging.

Só leer hulle nooit die sosiale vaardighede en die geduld wat dieper, betekenisvolle dinge meebring nie, verduidelik die skrywer en motiveringspreker Simon Sinek in ’n YouTube-video. “Dit werk soos ’n dopamien-inspuiting; dis oombliklik en dit voel goed… Liefde, werkvervulling, vreugde, selfvertroue, vermoëns… al hierdie dinge vat tyd,” sê hy.

Brendon Smith, ’n sosiale aktivis van Kaapstad, voeg by: “In die verlede was gemeenskap baie belangriker; ons moes saamwerk om te oorleef. Nou is ons slegs bereid om iets op te offer mits dit ’n persoonlike ervaring waarborg.”

Lisa Barret, ’n sielkundeprofessor aan die Northeastern-universiteit in die VSA en skrywer van How Emotions are Made: The secret life of the brain, stem saam en meen dat ons beheptheid met gemak juis ons ondergang kan beteken.

In Amerika veral, skryf sy in ’n blog vir The New York Times, is hulle obsessief oor gelukkig wees en dus om onplesierige situasies te vermy. “Dis soms ’n goeie ding, soos om ’n onbeskofte buurman te vermy, maar as mense altyd ongemak of fisieke inspanning systap, sal dit fataal vir die brein wees. Breinweefsel raak dunner as jy dit nie gebruik nie.”

Leunstoel-aktivisme is “uit”
Die toekoms geniet meer aandag as ooit tevore, juis omdat die hede baie soos wetenskapsfiksie begin voel. Jou kleuter se brein lyk reeds anders as ouboet s’n, sê die navorsers.

Dion Chang, een van Suid-Afrika se voorste neigingvoorspellers, praat van die “vreesaanjaende vertikale kurwe” as hy die spoed beskryf waarteen die wêreld verander.
Slacktivism (leunstoel-aktivisme) en Woke is van die woorde wat ons hierdie jaar die meeste gaan hoor. Eersgenoemde is die geneigdheid om ’n luiaard-aktivis op Facebook te wees deur artikels te deel en te kef oor onregverdigheid, maar dit nooit verder te voer nie.

Die Woke-beweging sal egter hoogty vier.

Woke is as’t ware ’n wakkerskrik en ’n bewuswording van sosiale leuens en onderdrukking.
In die verlede het Suid-Afrika ’n tweejaar-agterstand gehad wat nuwe neigings betref, maar dit is besig om na ses tot agt maande te verkort, meen Dion.

Om die môre en al sy ongemak te omarm blyk die antwoord te wees. Amper soos om ’n robot ’n drukkie te gee.

Robotromanse
Vlerksleep gaan in 2017 nuwe, ondenkbare hoogtes bereik. Die Kissinger-app is geskep vir langafstandverhoudings en vir wanneer die verlange te veel raak.

Jy heg eenvoudig ’n toestel aan jou foon wat jou lippe “lees” en siedaar! Nou kan jy passievolle soene digitaal stuur.

Robotromanse wink so vroeg as later vanjaar reeds. Kafoefel met ’n robot is nie meer vergesog nie. Jy kan die ware Jakob vir jul wittebrood hou as dit teen jou waardes indruis. “Seks met robotte is net om die draai… hierdie jaar nog,” sê die kunsmatige-intelligensie (KI)-kenner David Levy.

Om getroud te wees met een is bloot die “volgende logiese stap”, meen hy, en dít sal teen 2050 glad nie meer vreemd wees nie. Jou robot sal soos ’n wafferse Robert Redford aan ál die vereistes voldoen, want hy sal “geduldig, gaaf, beskermend en liefdevol wees en nooit jaloers, windmakerig, arrogant of ongeskik nie”.

“Behalwe as jy wil hê hy moet wees,” voeg David haastig by.

Slim vang sy baas
As ’n robot kan vry, kan hy seker ook jou werk vat. Ouwêreldse pilare word een vir een afgebreek soos nuwe werkwyses gevorm word, meen Dion.

“Nege tot vyf [op kantoor] is nie deel van die toekoms nie en robotte gaan massas mense se werkrolle vervang.”

Dit blyk baie slegte nuus te wees, veral in ’n land soos Suid-Afrika. “Die oplossing hiervoor is dat werkgewers wyer dink en hul werkers toerus met bykomende vaardighede wat nie sommer sal wegval nie.”

Wat ook taboe gaan wees, is kontant. En dit sal ondenkbaar wees dat mense eens op ’n tyd motors besit het. Dienste soos Uber en drywerlose voertuie sal koning kraai.
Deon Maas voeg moraliteit, diere as kos en swak higiëne op die taboe-lysie by. “Ek dink ons gaan terugkyk na morele waardes en daaroor lag.

Navorsing toon dat hoe meer mense leer oor ander kulture, hoe meer sien hulle moraliteit as relatief eerder as absoluut. Moraliteit gaan aanpasbaar word vir die situasie met geen swart-wit-skeidslyn nie. Die doodmaak van diere vir kos gaan nie meer bestaan in die ontwikkelde wêreld nie. En ons obsessie met higiëne gaan vererger,” sê hy.

Gaan ons nog boeke lees? “Wel ons het ná al die jare nog nie opgehou om gedrukte weergawes te koop nie. Daar is iets daarin om ’n boek se papier onder jou vingers te voel en die ink te ruik. Daardie gevoel word net nie deur elektroniese letterkunde vasgevang nie,” sê Mizan van der Merwe, ’n 23-jarige millennial en joernalis.

Dalk sal sekere dinge dieselfde bly en ander net geïntensifiseer sal word. In die TV-satire Black Mirror word ’n nagmerrieprentjie vir die digitale era geskep. In “Nosedive”, die eerste episode wat verlede jaar Oktober vrygestel is, leef die karakter Lacie Pound in ’n wêreld waar vriend en vreemdeling mekaar se gewildheid voortdurend ’n punt uit vyf gee, danksy tegnologie in slimkontaklense wat almal se naam, huidige punt en profiel lys.

Hierdie vyf sterretjies beïnvloed haar sosiale stand en selfs huurkoste. Lacy trek na ’n duurder area waar sy 20%-afslag kry danksy haar 4,5-telling, maar haar wêreld rafel uit soos sy haar punt probeer hoog hou. Verregaande? Dalk. Maar het jy nog nooit in afwagting gaan loer hoeveel likes jy vir daai selfie kry nie?

Charlie Brooker, skrywer van “Nosedive”, sê: “Die vraag is, maak tegnologie ons mal of versterk tegnologie slegs ons waansin? Ons kan nog nie ons kop óm die mag van sosiale media kry nie.”

Tye is aan die verander, maar twee dinge blyk dieselfde te bly – robotte sal nooit kan boeklees nie, en daar sal nooit ’n app wees wat die bevrediging van boomklim kan vervang nie.

DEUR CHERÉNE PIENAAR
FOTO’S: ANDRÉ BADENHORST

Die nuutste uitgawe van Taalgenoot is nou beskikbaar by https://atkv.org.za/taalgenoot.