Skip to the content

ATKV-tak Téhilah woeker op Touwsrivier

Die ATKV-tak Téhilah op Touwsrivier laat nie gras onder sy voete groei nie en maak ’n beduidende verskil in dié dorpie se gemeenskap.

“Vir ons gaan dit daaroor om onmisbaar te wees. Ons tak is ’n tuiste vir mense wat lief is vir taal en kultuur,” sê Clemence Thomas, takvoorsitter.

Dié tak het ’n magdom projekte van stapel gestuur en woeker in Afrikaans en in hulle gemeenskap.

Hulle het vanjaar 55 komberse aan behoeftige gesinne, wat op plase woon, geskenk.

“Daar is ’n groot nood onder ons mense. Baie is seisoenale werkers of is werkloos.”

Die tak het ’n sensus gedoen en van huis tot huis gegaan om te bepaal wat elke gesin se inkomste is.

“Ons kon bepaal wie is behoeftig en enige kospakkies wat uitgedeel word, word dan vir die behoeftigste gesinne gegee. Ons het 3200 kospakkies aan huishoudings tydens die inperking uitgedeel.”

Nadat ’n verwoestende brand op 30 Maart 77 huise in die informele nedersetting van Lubisi in puin gelê het, het die tak besluit om in te gryp.

“Ons het klere, skoene en komberse vir die gesinne ingesamel.”

Benewens die werk wat hulle doen om armoede in die gemeenskap te verlig, probeer hulle ook om die erfenis van hulle dorp te bewaar.

“Ons is een van 21 dorpe in Suid-Afrika wat ’n taalmonument het. Min mense weet van die monument op Touwsrivier. Ons het besluit om as lede elkeen tussen 10 en 15 kinders na die monument te vat en hulle te vertel van die monument. Dit is ’n inligtingsveldtog om inwoners en leerders bewus te maak van die bestaan van die monument.”

Die tak staan ook ouers by wat kopkrap oor hul kinders se huiswerk.

“Ons is as tak al vir geruime tyd betrokke by ekstra wiskunde- en leesklasse vir leerders, veral op Saterdae. Ons het hierdie projek nog groter gemaak om ook saans en op Saterdae wiskundeklasse vir die ouers en voogde van leerders aan te bied.”

Clemence sê hulle beplan nog projekte.

“Ons beoog om nog baie projekte van stapel te stuur. Ons tak se doel is om ’n wesenlike verskil in die gemeenskap te maak.”