Skip to main content

Die afgelope paar jaar skop die Noord-Kaap stof in die oë van die ander provinsies as dit kom by die vak Verbruikerstudie in die matriekeindeksamen. Dié provinsie het die laaste twee jaar die beste uitslae in die land en dit is grotendeels te danke aan ’n ystervrou van Kimberley.

Ronel Henning, provinsiale koördineerder van Verbruiker- en Gasvryheidstudies in die Noord-Kaap, bied gratis opleiding aan onderwysers in dié vakke en help leerders wat nie die handboeke vir hierdie vakke kan bekostig nie.

Daarom het die ATKV-tak Rooiduin besluit om Ronel met ’n Afrikoon-toekenning te vereer vir haar barmhartigheid en onbaatsugtige bydrae tot die gemeenskap.

“Sy doen wonderlike werk in minderbevoorregte gemeenskappe en sy doen dit gratis. Haar resepteboeke wat sy verkoop en die wins daaruit ploeg sy weer in die gemeenskap terug,” sê Beatrix Venter, takvoorsitter.

Volgens haar is daar baie skole in die Noord-Kaap waar die kinders onder baie moeilike omstandighede moet skoolgaan.

“Heelwat ouers het nie die geld om iets soos handboeke te bekostig nie. Ronel staan baie van hierdie kinders by en sorg dat hulle handboeke kry.”

Volgens Ronel is Verbruikerstudie die klein vak met die groot hart in die Noord- Kaap. “Verbruikerstudie-onderwysers is uiters hardwerkende mense, want hulle moet ’n teorie- en praktiese sillabus in een jaar voltooi. Dit is ’n eer en voorreg om saam met elkeen van hulle te werk; hulle inspireer my om altyd net my beste vir hulle te gee. Saam werk ons jaarliks maniere uit om nog meer uit die kinders te kry ter wille van hul toekoms.

“Landwyd was die Noord-Kaap al ’n paar keer eerste met Verbruikerstudie-uitslae. Hierdie jaar het die onderwysers weer hul staal gewys en die vak het 34 A’s behaal teenoor verlede jaar se 12. Dit mag min klink, maar gegewe dis ons ‘klein’ vak met minder as 1 000 leerders, is dit uitstekend. Verbruikerstudie-onderwysers moet gesalueer word aangesien die meerderheid van ons leerders met ’n gemiddeld van bo 40% geslaag het,” sê Ronel.

Beatrix, wat self ’n onderwyser is en eintlik in Geskiedenis en Afrikaans opgelei is, moes noodgedwonge vir graad 10- tot 12-leerders in Upington begin Verbruikerstudie aanbied.

“Ronel het Upington toe gekom en vir my opleiding gegee,” vertel Beatrix.

Die twee het toe ook ’n resepteboek, Klein resepte van die Noord-Kaap, saamgestel wat in die skole as handboek gebruik word.

Al die geld wat met die boek ingesamel is, is in 2019 gebruik vir onderwysersopleiding by die jaarlikse opleidingsessie in Kimberley, en ook vir die aankoop van bestanddele en skoonmaakmiddels vir die Verbruikerstudieklas van die Hoërskool A.J. Ferreira.

“Sy is ’n ystervrou met durf en deursettingsvermoë, maar bowenal deernis en empatie vir dié wat saam met haar werk,” sê Beatrix.

Die Afrikoon is op 5 Februarie aan Ronel oorhandig tydens ’n geleentheid by die Hoërskool Upington.