
Gewortel in ’n doel – ’n generasie wat groei.
Die ATKV-Boomfees is meer as net ’n viering van bome – dit is ’n lewende, groeiende beweging wat ingebed is in die werk van die ATKV se afdeling vir jong volwassene-ontwikkeling en innovasie. Die Boomfees loop soos ’n goue draad deur al ons programme: die ATKV-Jeugberaad, ATKV-Jeugleiersimposium, ATKV x Global Changemakers-wêreldjeugberaad, en ATKV-Vat Vlam.
Aan die einde van elke beraad, simposium of projek plant ons ’n boom. Hierdie eenvoudige, maar diep simboliese daad eer die groei, potensiaal en impak van ons jong leiers – en merk hul bydrae nie net in woorde of idees nie, maar in iets lewendig wat wortel skiet en vir generasies sal bly staan.
Elke boom vorm deel van ’n groter visie: om teen die jaar 2030 altesaam 30 000 bome te plant. Dit is ons verbintenis tot omgewingsvolhoubaarheid én ’n tasbare nalatenskap wat die langtermynimpak van jeugleierskap reflekteer. Die Boomfees gaan nie net oor ekologie nie – dit gaan oor identiteit, verbondenheid, verantwoordelikheid en die besef dat ware leierskap altyd aan die toekoms moet dink.
Aan die einde van elke jaar word ons boomtelling bygewerk – ’n herinnering dat transformasie tyd neem, maar ook aksie vereis. Met elke geleentheid plant ons meer as net ’n boom – ons saai hoop, verantwoordelikheid en ’n toekoms wat diep gewortel is in groei.
Vir meer inligting oor die ATKV-Boomfees, kontak asseblief vir Magon Mouton by magonm@atkv.org.za.