Skip to main content

ATKV-AbbAsorg

Die ATKV se sosiaal-maatskaplike verantwoordelikheidsprogram, AbbAsorg, help om vir ’n kind vlerke te gee. AbbAsorgsentrums regoor die land doen daagliks wonderlike werk onder kinders en het ten doel om ‘n veilige omgewing te skep waar kinders gehalteopvoeding en -versorging kan ontvang. Daar is vyf AbbAsorgsentrums.

Boskabouters  (Hartenbos)
Cloetesville (Stellenbosch)
Estoire  (Bloemfontein)
Pinocchio (Hartenbos)
Promosa (Potchefstroom)

So maak AbbAsorg ’n verskil

Fokus

AbbAsorg fokus op die voorskoolse ontwikkeling van kleuters – spesifiek die geaffekteerde voorskoolse kind in die ouderdom van 3 tot 6 jaar oud. Kinders geaffekteer deur armoede, HIV/VIGS en ander maatskaplike probleme.

Akademie

In AbbAsorg-sentrums word 'n volwaardige akademiese program gevolg om skoolgereedheid en uiteindelike akademiese sukses te verseker. Die program is by die departement van maatskaplike ontwikkeling geregistreer.

Hartsake

By AbbAsorg word daar nie net op akademie gefokus nie, maar daar word hard gewerk om die kleuters se selfbeeld te verbeter. Hulle word ook geleer hoe om gesonde verhoudings met maatjies en volwassenes te hê.

Maaltye

AbbAsorg gee daagliks vir ongeveer 220 kinders ten minste twee gebalanseerde etes. Etes wat bydra tot hul gesonde ontwikkeling en gevolglik beter prestasie op akademiese vlak.

Gemeenskap

Dis nie net die kleingoed wat by ATKV-AbbAsorg baat nie. Ouers word ook met ouerskapsvaardighede toegerus. Praktisyns word teen ’n minimale koste opgelei.

Pret

Die kleuters van ATKV-AbbAsorg leer deur te speel. Of hulle dus buite speel, in die leeshoekies lees, of met skeppende aktiwiteite besig is – een ding is seker: AbbAsorg is pret.

#HelpOnsDroom

Toe Anthony Swanepoel (4) by ATKV-AbbAsorg Estoire in Bloemfontein begin het, was hy ’n teruggetrokke seuntjie. Anthony het as eenjarige ’n beroerte gehad wat die regterkant van sy lyfie aangetas is. Hy is ook met 12 vingertjies gebore. Met sy aankoms by AbbAsorg kon hy nie loop nie, hy moes gevoer en rondgedra word. Hy kon ook nie praat nie en het net ’n geluid gemaak as hy iets wou sê. ’n Jaar later, danksy AbbAsorg se harde werk, kon hy opstaan en loop. Hy het begin om woordjies te sê, soos “speel”, “juffrou”, “ouma” en “mamma”. Hy kon naderhand self op die klimraam klim en by die drommeglybaan afgly. Net voordat klein Anthony weg is by AbbAsorg, kon hy self sy kos by die tafel gaan haal, na sy stoeltjie toe dra en sy lepeltjie vashou om te eet. Anthony is nou ’n leerder aan die Lettie Fouché-skool in Bloemfontein.

Met jou bydrae kan jy help om in kinders soos Anthony se lewe ’n verskil te maak. 

Indien jy 'n skenking aan ATKV-AbbAsorg wil maak, stuur ’n e-pos na woekerfonds@atkv.org.za.

Gebruik jou Woolworths My School-kaart om AbbAsorg as ’n begunstigde by te voeg. AbbAsorg word onder "ATKV" as ’n begunstigde gelys.

Kontak gerus vir Jerome Steenkamp, bestuurder: ATKV-AbbAsorg, as jy meer oor hierdie projek te wete wil kom of om betrokke te raak.