
’n Nuwe ontwikkelingsinisiatief vir jong, inspirerende leiers in Suid-Afrika.
Die ATKV (Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging) is ’n moderne pioniersorganisasie wat die ontwikkeling van die Afrikaanse taal by sy eerste-, tweede- en derdetaalsprekers bevorder deur die deel van kultuur, kennis en kreatiwiteit.
Teen 2030 sal Afrika die jongste arbeidsmag ter wêreld hê. Hierdie demografiese skuif bied ongekende moontlikhede om ’n nuwe generasie oplossingsgedrewe, etiese en kreatiewe leiers te vorm. Deur jong mense vroeg te erken en te ondersteun, het ons die geleentheid om hulle nie net toe te rus om die ekonomie en gemeenskappe van vandag te beïnvloed nie, maar ook om hulle as globale rolspelers te posisioneer in ’n wêreld wat honger is vir vars idees en veerkragtige leierskap.
ATKV-Vat Vlam is gebou rondom hierdie visie: om Suid-Afrika se mees inspirerende en invloedryke jong volwassenes op te spoor, te vier en te ondersteun – individue wat reeds beduidende bydraes maak in velde soos kuns en kultuur, entrepreneurskap, tegnologie, sosiale geregtigheid, klimaatsaksie, omgewingsbewustheid en onderwys. Die program is daarop gemik om ’n vonk aan te steek wat duisende ander jongmense sal aanmoedig om aktief tot hul gemeenskappe en die breë samelewing by te dra.
Program- en toekenningskriteria:
- Oop vir Suid-Afrikaanse burgers tussen 19 en 25 jaar oud.
- Genomineerdes moet uitstaande prestasies toon in hul vakgebied of belangstellingsveld.
- Genomineerdes moet ’n tasbare, positiewe impak in hul gemeenskap of die samelewing gemaak het.
- Genomineerdes en hul projekte moet die vermoë hê om ander jongmense te inspireer en te motiveer.
Vir verdere navrae, kontak asseblief vir Magon Mouton by MagonM@atkv.org.za.