Blik op ’n vergange tyd
Die Anglo-Boereoorlog (1899-1901) laat baie mense onwillekeurig dink aan greinerige, monotone beelde van die Boere en die Kakies; veldslae in skakerings van grys. Dit is grootliks te danke aan die swart-en-wit foto’s wat met stereoskopiese kameras geneem is.
’n Nuwe koffietafelboek, uitgegee deur Jonathan Ball, verander dié persepsie ten goede. Die Anglo-Boereoorlog in kleur, Vol. 1, Konvensionele oorlog 1899-1900 deur Tinus le Roux is ’n waardevolle toevoeging tot die oorlogliteratuur. Van die voorblad, op 264 bladsye en tot die agterblad is elke foto in volkleur. Of eerder, ingekleur.
Die resultaat laat jou regop sit, eerstens omdat dit nuwe lewe in ’n deurtrapte onderwerp blaas, en tweedens omdat dit ’n stuk bekende geskiedenis laat herleef met skerpheid en visuele flair.
Besonderse stokperdjie
Die man wat die inkleurwerk doen is al sowat ’n dekade besig met sy selfopgelegde taak. Tinus le Roux (62), ’n ingenieur en meuelenaar van Somerset-Wes, het sy stokperdjie ontwikkel tot ’n soort “vergrootglas” wat ons ’n dieper blik op ’n vergange tydperk gee.
“As kind het ek gaan kuier op my oupa se plaas by Wonderfontein wat in die oorlog afgebrand is,” onthou Tinus. “Daar kon jy nog koeëldoppies en artefakte optel.”
Sy oupa is in ’n konsentrasiekamp gebore.
“My pa was ’n offisier in die kommando’s en het my saamgevat wanneer hy gaan skiet het. Tipies jong seun was ek gefassineer deur die wapens en uniforms. In 1978 en ’79 was ek tydens my diensplig in ’n pantsereenheid. Dit was ’n vreemde ervaring. Ek wou nie ’n loopbaan van die weermag maak nie, maar ek het goeie vriendskappe daar gesmee wat al 40 jaar hou.”
Sy eerste inkleurpoging was die portret van drie generasies stryders wat op bl. 132 verskyn. Dit is geneem deur die fotograaf Jan van Hoepen. Hoewel nie verwant nie was al drie soldate gereed om te gaan veg. Hulle dra hoede en bandoliers oor die bors en hou gewere vas. Die ouer mans het welige baarde. Die seun lyk nog bitter jonk om soldaat te wees; ’n ware penkop.
Daar was duisende foto’s om van te kies en Tinus se kriteria was om net die beste uit te soek. Dit moes skerp en helder wees. Die antieke foto’s is dan ingeskandeer op sy rekenaar en in digitale lêers gesorteer.
Elke kleur op sy plek
In 2011 het hy op die internet gesien daar verskyn foto’s van die wêreldoorloë wat ingekleur is.
“Dit het my gefassineer. Ek het kenners soos Douglas Banks op Facebook begin volg. Ek wou die tegniek aanleer en het met hom kontak gemaak. Hy het my baie geleer oor die materiale, kwassies en Photoshop. My eerste pogings was primitief, trial and error. Skakerings en deursigtigheid moes aangepas word. Ek het my eerste foto op my Facebook-blad geplaas. Dit was lang ure by die werkstasie wat ek vir my rekenaar gebou het ... ’n trollie waarop ek saans saam met my vrou voor die TV kon werk, so dit was steeds sosiaal.
“Elke kleurtjie moes met die muis ingekleur word – ’n tydrowende proses, maar baie bevredigend. Een foto neem drie uur. As daar een kop is neem dit ’n anderhalfuur. ’n Dubbelbladfoto met baie gesigte en detail soos hare, lippe en oë kan twee tot drie dae neem. Daarna karring ek nog lank daaraan. Die klippe lyk nie reg nie; die gras se kleur is moeilik, veral groen gras; diepgroen met geel strepe en rooi sade, of witgeel in die winter. Mettertyd het dit makliker en vinniger geraak soos ek kortpaaie ontdek.”
Tinus het heelwat gereis en na landskappe gekyk. “Kleure in die natuur raak ’n ingesteldheid. Bome is blouerig. Ek het aanlyn gaan kyk na hoe die gras by Spioenkop lyk.”
Die uniforms van die Britte was maklik omdat daar baie internetfoto’s is wat die kleure vertoon: rooi, blou, goud en die kleurlinte van medaljes. “Dis goed gedokumenteer. Eenhede is baie gesteld op die Skotse rokkies se tartan-kleure. Die museums was behulpsaam met siviele uitrustings. Daar was baie grys skakerings. Vroue het dikwels swart gedra, mans weer bruin. Daar was verskeie geweefde materiale, koordfluweel, plooie en hoede.”
Reg vir publikasie
Tinus kleur sedert 2013 oorlogfoto’s in. Die idee van ’n boek het eers later posgevat. Mense wat sy foto’s op die Facebook-blad gesien het, het gevra dat hy ’n bundel publiseer. In 2018 was daar genoeg vir ’n boek en hy het dit oorweeg om dit self uit te gee.
Die uitgewer Annie Olivier van Jonathan Ball vertel: “My en Tinus se paaie het ’n paar jaar gelede gekruis toe hy ingekleurde foto’s verskaf het vir Nico Moolman se boek Dankie Generaal. Ek het dadelik my hart verloor op sy manjifiek ingekleurde foto’s van die Anglo-Boereoorlog. Dit was so vars en anders.
“Tinus het my net meer as ’n jaar gelede gekontak om meer uit te vind oor die uitgeeproses, want hy wou die boek self uitgee. Ek het amper begin huil! Gelukkig kon ek hom oortuig om by Jonathan Ball uit te gee en toe het ons dadelik weggespring om die manuskrip verder te ontwikkel.
“Die foto’s was meestal reeds gereed, maar ons het dit meer kronologies georden en ook hier en daar foto’s en teks van kernmomente in die oorlog bygewerk sodat die boek ’n goeie oorsig oor die konvensionele fase van die oorlog sou gee. Later in die proses het Tinus ook ure en ure gespandeer om die nodige kleurkorreksies op die foto’s te doen sodat dit reg sou druk. Ons is baie trots op die eindproduk!”
Aanvanklik wou Tinus net een boek doen, maar die aanbod van bruikbare foto’s was te veel en hy het besluit om dit in twee dele aan te pak. Die eerste boek handel oor die konvensionele oorlogvoering se formele veldslae aan twee fronte. Die tweede deel, wat binne twee jaar uitgereik word, sal fokus op die guerrilla-fase, die konsentrasiekampe, krygsgevangenes en die vredesluiting.
“Daar is nog heelwat goeie en roerende foto’s van ná die oorlog van soldate se reünies en foto’s wat wys wat van die generaals geword het. Ek beplan ’n padreis na die museums om te gaan snuffel of ek nog skatte kan opdiep.”
- Die boek se aanbevole verkoopprys is R350 en is beskikbaar by alle goeie boekwinkels, asook aanlyn. Tinus verkoop self ’n beperkte oplaag hardebandboeke deur die aanlyn winkel op sy Facebookblad, “Boer War Colourised Photographs”.
Deur Schalk Schoombie