Woorde is wapens (en vele meer)

Gedink taal is net ’n kommunikasie-middel? Nee, taal beïnvloed hoe jy die wêreld waarneem en selfs hoe ’n mens geld spaar (of nie!)
Nonnie Canham, ’n welvaartsbestuurder, het in ’n artikel in ’n onlangse finweek-uitgawe verwys na hoe taal ons persepsies kan beïnvloed, asook ons gedrag en optrede in reaksie op daardie persepsies.
Dis nie ’n nuwe idee nie, maar navorsing word voortdurend op hierdie terrein gedoen. Daar is immers nagenoeg 7 000 tale wat op ons planeet gepraat word. Filosowe, linguiste en sielkundiges ondersoek al vir jare of taal die sprekers daarvan se denke beïnvloed. Dink mense dieselfde ongeag hul taal of het taal ’n invloed op daardie denke?
Dis die vraag wat Edward Sapir en Benjamin Lee Whorf hulself afgevra het en dis hoe hul Sapir-Whorf-hipotese ontstaan het. Suléne Pilon, ’n taalkundige by die Universiteit van Pretoria, sê daar is twee weergawes van dié hipotese.
“Volgens die eerste weergawe, linguistiese determinisme, vorm taal menslike denke en taalkundige kategorieë as ’t ware ook kognitiewe kategorieë. As dit waar is, dan word ons totale wêrelduitkyk, die manier waarop ons interaksie met die wêreld en met mekaar het, en die gedagtes wat dit vir ons moontlik maak om te dink, deur taal bepaal. Almal is dit deesdae eens dat dit nie die realiteit weerspieël nie.
“Die tweede weergawe is linguistiese relatiwiteit, wat voorstel dat taal ’n beduidende invloed op jou denke en menswees het. Hierdie variant word vandag deur die meeste taalkundiges aanvaar.”
Volgens Suléne beteken dit die taal waarmee jy na iets of iemand verwys beïnvloed die manier waarop jy oor daardie iets of iemand dink.
“Dit is byvoorbeeld moontlik om na presies dieselfde groep mense as ‘terroriste’ of ‘vryheidsvegters’ te verwys, afhangende van jou ideologiese oortuigings. As jy na hulle as ‘terroriste’ verwys, dig jy dadelik negatiewe konnotasies aan die groep toe. Daarteenoor dig jy positiewe konnotasies aan die groep toe as jy hulle ‘vryheidsvegters’ noem. Jy kan dus deur ’n benaming jou eie en ander mense se denke oor iets positief of negatief inkleur.”
Navorsing wat studente by die Universiteit van Pretoria daaroor doen, het te make met die manier waaroor daar in Afrikaans na vroue verwys word.
“Een van ons M [meestersgraad]-studente ondersoek verwysings na vroue in ’n historiese korpus om te sien hoe dit deur die geskiedenis verander het en wat dit ons kan vertel oor die ingesteldheid teenoor vroue deur die jare. ’n Ander student kyk weer na die maniere waarop daar na vroue in verskillende uitgawes van ’n Afrikaanse tydskrif verwys word.
“Sodoende kan ’n mens ook die rol wat die media speel in die vorming van persepsies ondersoek, aangesien dié verwysings die denke van mediaverbruikers inkleur.”
Dink weer oor woorde
Leigh Crymble is ’n doktorale student aan die Universiteit van die Witwatersrand en die stigter van BreadCrumbs, Suid-Afrika se eerste kommunikasiemaatskappy wat in gedragslinguistiek spesialiseer. Sy meen daar is ’n sterk verband tussen taal en ideologie en die impak op die samelewing.
“Ons weet dat woorde saak maak en byvoorbeeld dikwels in politieke ruimtes misbruik word. Dink net hier aan die Tweede Wêreldoorlog, waar Jood ’n skeldnaam geword het en die volk ontmens is. Dink aan die gebruik van voornaamwoorde soos ‘ons’ versus ‘hulle’ en die gebruik van woorde soos ‘hordes’, ‘vloede’ en ‘golwe’ om gemarginaliseerde groepe te beskryf. Ons het dieselfde retoriek in 2008 tydens die xenofobiese geweld in Suid-Afrika beleef wat uiteindelik in fisieke geweld oorgegaan het.”
Volgens Leigh is dit hoekom die manier hoe ons taal inneem, gebruik en verwerk so ’n groot rol daarin speel om ons identiteit, houding en oortuigings te vorm en dit het ’n impak op ons gedrag. Dit kan selfs die manier beïnvloed hoe ons fisiek op dinge reageer.
Sy verwys na die navorsingsdokument “Changing mindsets about side effects” van die Universiteit van Stanford. In dié navorsing is entstofnewe-effekte as “verwag” en “normaal” voorgehou. “Jy kan dalk X ervaar, maar dis normaal omdat die entstof dan werk” is gebruik in plaas van “Jy kan skadelike newe-effekte ervaar”.
“Die gevolg was dat pasiënte beter oor hul behandeling gevoel het. Hulle was minder angstig en selfs hul lyf het gunstiger op die entstof gereageer,” sê sy.
Nog ’n voorbeeld is hoe kanker gewoonlik beskryf word. “’n Mens sien dikwels dat militêre metafore gebruik word om behandeling te beskryf. Jy veg daarteen, jy bestry of oorwin dit, jy oorleef dit en dies meer. Nuwe navorsing toon nou dat hierdie militêre begrippe veroorsaak dat mense skrikkerig vir behandeling is en dit laat hulle selfs meer fatalisties oor die siekte voel.”
Leigh verwys na nog ’n studie waarin deelnemers by hul aankoms by ’n gebou tussen ’n hysbak en trappe moes kies. Die meeste het die hysbak geneem. Hulle moes toe ’n reeks woordsoektogte voltooi en die woorde wat hulle gevind het, het almal met fiksheid en gesondheid te make gehad. Ná dié woordsoektogte het al die deelnemers die trappe in plaas van die hysbak gekies.
Taal wat gender beskryf, is nog ’n voorbeeld van hoe ons dinge waarneem. Kyk maar na die gebruik van mansvorms soos Jan en alleman en genderspesifieke begrippe soos sakemanne. Dit kan daartoe lei dat mense uitgesluit voel en sekere beroepe nié kies nie, sê Leigh.
Wat van Afrikaans?
Suléne sê in Afrikaans gebruik ons dikwels konkrete goed om ons te help om oor meer abstrakte kwessies te kan praat.
“Een voorbeeld is die abstrakte konsep tyd. Omdat ons sukkel om tyd te verstaan, gebruik ons die woorde wat ons vir geld gebruik. Ons kan tyd mors en spaar, ons tyd kan opraak of ons kan te min tyd hê. En as ’n mens begin dink oor hoe abstrak tyd is, is dit eintlik ’n bietjie absurd om te sê jy het tyd gemors; wáár is die vermorste tyd?”
Sy sê elke taalgemeenskap het eie konseptuele metafore soos dié wat hulle in staat stel om oor abstrakte dinge te kan gesels.
“’n Tipiese Afrikaanse voorbeeld is die idee dat die taal ’n weerlose meisie is. Daarom wil mense veg vir Afrikaans en Afrikaans beskerm, Afrikaans red, ensovoorts. En daar word ook toenemend van die vroue- persoonlike voornaamwoord gebruik gemaak wanneer na Afrikaans verwys word – ‘Afrikaans en haar gebruikers’, ‘Afrikaans en die stryd wat ons namens haar moet stry’.
“En eintlik is Afrikaans ’n hulpmiddel – dis ’n instrument waarmee jy mense kan motiveer om dieselfde gedagtes te vorm. As ons só oor Afrikaans begin dink, dan hoef ons nie meer vir die taal te veg nie. Dan word dit meteens duidelik dat ons Afrikaans moet gebruik, Afrikaanse ondernemings ondersteun en aanhou om Afrikaans met ons kinders te praat.”
Jou taal en geldsake
Keith Chen, ’n gedragsekonoom, het bevind dat die taal wat mense praat ’n direkte invloed het op hoe hulle spaar. Sprekers van tale waarin die toekoms grammatikaal van die huidige geskei word, spaar glo minder, tree met minder af, rook meer, is meer oorgewig en is selfs meer tot onveilige seks geneig. Dit is sigbaar selfs nadat hul opleiding, inkomste, godsdiens en gesinstruktuur in ag geneem is.
Chen se studie het 39 tale ingesluit en hy het na grammatikale toekomsmerkers gekyk. Hier is ’n voorbeeld: Rain is likely this weekend (teenwoordige tyd); It will likely rain this weekend (toekomstige tyd). In Engels moet jy “will” of “is going to” gebruik, terwyl jy in Duits net kan sê: “Dit reën môre.” In Afrikaans kan ons ook sê “Dit reën môre”, maar meer dikwels hoor jy “Dit gaan môre reën”.
Hoe meer mense toekomsmerkers gebruik hoe minder spaar hulle, sê Keith, want die toekoms lyk te ver weg. Mense wat tale soos Mandaryns of Duits praat, sal meer waarskynlik spaar. Hy het gevind dat Duitsers tien persentasiepunte meer as die Britte spaar, terwyl Estlanders en Chinese 20 persentasiepunte meer as Grieke en Indiërs spaar.
Suléne sê as ons aanvaar dat linguistiese relatiwiteit die waarheid is, het elke sin wat ’n mens sê, skryf, lees of hoor die potensiaal om jou denke te beïnvloed.
“Dit is hoekom dit belangrik is om respek vir woorde te hê. Dit is belangrik om mekaar en die res van die wêreld in ag te neem wanneer ons taal gebruik, want ons is besig om denke in te kleur.”
DEUR ZERELDA ESTERHUIZEN
ILLUSTRASIE: RIKUS FERREIRA
Lees die nuutste uitgawe van Taalgenoot hier.