
Die ATKV-Kletskring is ’n jaarlikse ATKV-projek wat vir oopkopdenkers in graad 10 en 11 aangebied word. Die byeenkoms gee leerders die kans om saam te kom gesels oor die politiek, die ekonomie, die onderwys, tegnologie en die samelewing – sake wat hul lewens beïnvloed. Dit is die ideale geleentheid om nie net leerders se horisonne te verbreed nie, maar om sommer ook vet pret te hê.
Kundige sprekers kom gesels met die leerders en bied ’n breër beeld van die omgewing en die wêreld waarin jongmense leef. Sprekers soos Albert van Wyk (How to Become a Millionaire at 22), Dawie Roodt (Efficient Group), Pieter du Toit (News24) en prof. Edwin Theron (Universiteit Stellenbosch) was al aanbieders by die ATKV-Kletskring.
Daar is ook tyd vir speel en om die ATKV-oord se fasiliteite te geniet. Sterk vriendskapsbande word met maats van die ander skole gesmee en hulle hou steeds kontak met mekaar lank ná die Kletskring verby is. Kletskring-kursusgangers ontvang ’n ATKV-bywoningsertifikaat.
Vir meer inligting oor die ATKV-Kletskring, kontak Annemarie Alberts by annemariea@atkv.org.za, of skakel 011 919 9066.