ATKV-Redenaars gee leerders die platform om hul sê met selfvertroue in Afrikaans te sê – ’n vaardigheid wat hulle in die toekoms aan die voorpunt van hul veld sal plaas.
Hierdie kompetisie is een van die ATKV se oudstes en word landswyd, sowel as in Namibië, aangebied vir laerskool- en hoërskoolleerders, so, as jy ’n raakprater in graad 1 tot graad 12 is en nie huiwer om jou sê te sê nie, bring jou beste oorredende toespraak en kom wys jou slag.
Nie nét kry deelnemers die geleentheid om hul standpunt in te neem en ’n gehoor daarvan te oortuig nie, maar ook om vaardighede soos die volgende te ontwikkel:
* Onderwerpsformulering;
* Hoe om ’n toespraak en sy struktuur op ’n oorredende manier te organiseer;
* Hoe om oorredende inhoud te ontwikkel;
* Hoe om ’n oorredende aanbieding te lewer;
* Hoe om oorredende taalgebruik te ontwikkel; asook
* Die ontwikkeling van emosionele vaardighede, soos selfvertroue, geestelike krag en karakter.
Deelnemers word aangemoedig om hul eie toesprake voor te berei en daarom kan die lewering van gekoopte of gedupliseerde toesprake daartoe lei dat ’n deelnemer gepenaliseer word. Om dié rede word skryfwerkswinkels vir graad 6- tot graad 12-leerders, onderwysers, ouers en afrigters aangebied én word die sprekershandleiding, met riglyne vir die skryf en lewering van ’n toespraak, aan belangstellendes beskikbaar gestel.
Kontak Jacqueline Göttert by jacquelineg@atkv.org.za of 011 919 9038 vir meer inligting oor die ATKV-Redenaars.