Skip to main content

ATKV-takke – jou kultuurtuiste in elke dorp en stad.

By die ATKV se takafdeling word Afrikaans nie net beleef nie – hier word dit gelééf! Van die oggend tot die aand, van biltong tot beskuit, van Ingrid Jonker tot Koos Kombuis, van Otjiworongo tot Oos-Londen, van Prieska tot Pacaltsdorp.

Hier is kultuur ’n passie wat nie net by ’n hartsding bly nie, maar vinnig in doen-dinge verander. Elke dag voeg ATKV-takke die daad by die woord met ’n program propvol landswye aktiwiteite en projekte.

Natuurlik word dit gedoen vir die pure toonkrul-lekkerte, maar ewe belangrik gaan dit oor die gebruik van kultuur om mense wyd en syd toe te rus met die vaardighede en kultuurdiepte om die land van rugby en sonskyn uit te bou tot die land van hoop en geleenthede!

Ons weet dat Afrikaanssprekendes plesierig is en daarvan hou om te kuier en dinge saam te doen – nie net binne gesin- of skoolverband nie, maar ook as vriende. Die ATKV-takke bestaan uit vrywillige ATKV-lede vir wie kultuurbeoefening so lekker is soos ’n yskoue gemmerbier op ’n snikhete dag! Terwyl jy in Afrikaans kuier, leef en sommer alles doen, ontmoet jy boonop wonderlike mense wat ’n positiewe verskil in jou lewe en in gemeenskappe kan maak.

Sluit aan by ’n ATKV-tak naby jou en word deel van meer as 4 000 vrywillige ATKV-lede wat ’n positiewe verandering in lewens en in gemeenskappe maak.

ATKV-takke arbei daagliks met verskeie projekte wat fokus op die bevordering van Afrikaans, die viering van die kunste, leesbevordering, omgewingsbewustheid, sosiaal-maatskaplike projekte en nog vele meer!

Deur aan te sluit by ’n ATKV-tak verryk jy jouself nie net nie, maar kwalifiseer ook vir ’n addisionele lidvoordeel – TJIENGELIENG. Tjiengelieng kan aangewend word as ekstra korting by ’n ATKV-oord, of jy kan jou boekrak aanvul deur boeke aan te koop by Exclusive Books.

Lees hieronder om te sien watter wonderlike werk ons takke doen in ons gemeenskappe of klik hier om te lees van die WAT en HOEKOM van ATKV-temaprojekte.

Voedselnood en selfonderhoudendheid is ’n kritieke realiteit in Suid-Afrika. Daar lê soveel wysheid opgesluit in die gesegde wat ons leer dat wanneer jy vir iemand ’n vis gee, hy kos het vir daardie dag, maar wanneer jy hom leer om vis te vang, hou jy sy maag vir ’n leeftyd vol.

Dieselfde beginsel was die inspirasie vir die ATKV se groentetuinprojek wat vanjaar reeds sy vyfde jaar vier. Die groentetuinprojek bied ondersteuning met hulpbronne, maar veral met opleiding deur kundige vennote aan takke en individue. Met behulp hiervan kan ’n volhoubare organiese groentetuin aangeplant word.

Intensiewe praktiese en teoretiese opleiding word aangebied, asook opleiding om as fasiliteerder ander in jou gemeenskap te bemagtig in die aanplant van organiese groentetuine.

Hierdie opleiding is van onskatbare waarde vir diegene wat beoog om groentetuine van die grond af te kry. Takke dien as die ATKV se vennote om die tuine se implementering, instandhouding en volhoubaarheid te verseker.

Groentetuine word meestal aangeplant en oeste word onder andere by ouetehuise, huishoudings en hul bure, sopkombuise, skole se voedselskemas, koshuiskombuise en plaaslike gemeenskapsinstansies gebruik.

Takke word versoek om deurlopend terugvoer te gee oor die tuine se vordering, uitdagings asook enige verdere terugvoer wat die projek in die toekoms kan verfyn. In Augustus 2025 spog ATKV-takke met 217 volhoubare groentetuine, en 36 intensiewe opleidingsessies wat reeds regoor die land plaasgevind het.

Om meer uit te vind, kontak gerus u streeksbestuurder.

Met hierdie temaprojek word ATKV-takke voorsien van ’n propvol gereedskapskis waarby die volgende onder andere ingesluit is:

  • Teks en video-opname van produksie
  • Kostuum, grimering en karakteriseringbeskrywings
  • Regisseurkommentaar l Bemarkingsmateriaal, kunswerke en ontwerpe
  • Liedjies
  • Klankeffekte
  • Tegniese hulpmiddels.

Hierdie projek stel dus die kleinspan bloot aan prettige teater, en bied ook vir skole/plaaslike teatergroepe die geleentheid om hul akteursvernuf op te skerp. Verskillende relevante temas word aangespreek deur die verskillende tekste en opvoerings.

Kontak gerus u streeksbestuurder vir meer inligting hieroor.

PIRLS (Progress in International Reading Literacy Study) se skokkende statistieke wat op 16 Mei 2023 gepubliseer is, is nog vars in almal se geheue. Daarvolgens kan 81% van graad 4-leerders in SuidAfrika nie in enige taal met begrip lees nie, insluitend hul huistaal!

Leesvaardigheid is ’n kritiese probleem in SuidAfrika. Kinders wat nie met begrip kan lees nie, kan op geen vlak van die lewe presteer of floreer nie. ATKV-EkKanLees is ’n leesbemagtigingsprojek wat onder andere ten doel het om takke en strategiese vennote uit gemeenskappe op ’n nasionale vlak by leesgeletterdheid en -ontwikkeling betrokke te kry. Takke identifiseer individue in gemeenskappe wat graag ’n bydrae wil lewer om hierdie kritiese uitdaging aan te spreek.

Die ATKV bemagtig hierdie individue met ondersteuning, opleiding en hulpbronne ten einde ’n wesenlike verskil te maak ten opsigte van leesgeletterdheid in hulle gemeenskappe. Hierdie leesfasiliteerders bied dan ondersteuning aan leerders in die grondslagfase (grade 1 tot 3) wat leesagterstande ervaar.

Takke met leesfasiliteerders in hul gemeenskap speel ’n oorsigrol en help fasiliteerders om halfjaarliks terugvoer te gee sodat effektiewe evaluering en impakmeting ten opsigte van die projek kan geskied. In Augustus 2025 spog ATKV-EkKanLees met meer as 300 individue wat ’n lewenslange bydrae tot die leesvaardigheid van talle jongmense maak.

Die ATKV-EkKanLees-projek is egter meer as net ondersteuning vir onderwysers en die bemagtiging van leesfasiliteerders.

Die projek sluit alle tak- en streeksprojekte wat ’n bydrae lewer ten opsigte van leesondersteuning en –bemagtiging in. Dit sluit in:

  • Die opknapping van biblioteke by skole en in gemeenskappe;
  • Die insameling en skenking van boeke vir leeshoekies, biblioteke en prysuitdelings;
  • Voorlesings by skole en tehuise vir bejaardes;
  • Die aanbied van leesmarathons en l Ondersteuning met die aanbied van skryfskole en -werkswinkels.

Om meer oor enige van die temaprojekte uit te vind, kontak gerus u streeksbestuurder. Belê in jouself, belê in jou toekoms – wees die verskil!