18de ATKV-Suidoosterfees-koorkompetisie eersdaags aangebied
Inskrywings vir die 2024 ATKV-Suidoosterfees-koorkompetisie is reeds oop en plaaslike gemeenskapskore van die Wes-Kaap word genooi om uit volle bors te kom saamsing. Dié kompetisie is geskep vir plaaslike gemeenskapskore in die Wes-Kaap om hul talent ten toon te stel. Hierdie kore is van oraloor, onder andere die Karoo, die Swartland, die Suid-Kaap, die Boland en die Kaapse Vlakte. Die ATKV-Suidoosterfees-koorkompetisie is gemik op die ontwikkeling van koormusiek, veral vir diegene wat nie altyd toegang het tot professionele koorleiding en -sang nie. Werkswinkels word aangebied om die kore voor te berei vir die allerbelangrike kompetisie wat tydens die Suidoosterfees ’n hoogtepunt bereik. Dit bied aan al hierdie gemengde kore, sanggroepe, dameskore, mannekore, jeugkore en plaaskore die geleentheid om opleidingsessies by te woon wat deur kundiges gelei word.
Die kompetisie is in die lewe geroep deur dr. Niël le Roux, voormalige uitvoerende hoof van die Suidoosterfees. In 2024 vind die 18de kompetisie plaas – die eerste is in 2006 aangebied. Jana Hattingh, die huidige uitvoerende hoof van Suidoosterfees, sê, “Die koorkompetisie is al ’n instelling by die Suidoosterfees. Danksy die ATKV se ondersteuning bereik die fees amateurgroepe, wat plaasgemeenskappe in afgeleë gemeenskappe van die Wes-Kaap insluit, met opwindende geleenthede om hul talent te verfyn en dit aan ’n waarderende feesgehoor te bring. Die projek is ’n uitstekende voorbeeld van hoe die kunste mense se lewens kan verryk in omgewings waar toegang tot geleenthede nie altyd geredelik beskikbaar is nie.”
Braam de Kock, die ATKV se projekorganiseerder: jeugprojekte, sê, “Die ATKV bied al die afgelope 46 jaar die oudste skoolkoorkompetisie in die land, ATKV-Applous, aan. Dit is vir die ATKV belangrik om ons koorvoetspoor te vergroot en die Suidoosterfees-koorkompetisie is die ideale platform.
Daar is talle koorkompetisies, maar baie min of geen kompetisies spesifiek vir amateurkore nie. Amateurkoorleiers het ’n passie vir koormusiek, maar nie noodwendig die opleiding nie. Daarom is die ATKV deel van hierdie kompetisie om ons kennis te deel. Hierdie is ook die enigste kompetisie wat ’n afdeling het vir plaaskore.”
Die sluitingsdatum vir inskrywings is 29 Maart 2024. Indien jy meer inligting oor die koorkompetisie verlang, kan jy vir Braam de Kock kontak by braamd@atkv.org.za, of na die inskrywingsblad gaan by https://view.forms.app/atkv-kultuur/atkvsuidoosterfeeskoorkompetisie.