Skip to the content

Vier saam met ons Koop-’n-Afrikaanse-boekdag

Daar is niks so lekker as om agteroor te kan sit met ’n stomende koppie koffie en jou gunsteling- Afrikaanse boek oop te slaan nie.

Of dit nou spanningsbelaaide misdaadfiksie, ’n Romanza of ’n niefiksie boek is, daar is niks so bevrydend soos om verlore te raak in ’n ander wêreld nie.

Op 14 Augustus vier die Vriende van Afrikaans (VVA), ’n divisie van die ATKV, die Afrikaanse geskrewe woord met Koop-’n-Afrikaanse-boekdag.

“Ons wil die lekkerte van boeke en lees in Afrikaans onder almal se aandag bring, veral omdat daar wonderlike Afrikaanse boeke op die mark is,” sê Chareldine van der Merwe, projekbestuurder van die VVA, ’n divisie van die ATKV.

Sy sê verskeie uitgewers en boekhandelaars maak deel uit van dié bewusmakingsveldtog.

“Ons wil die waarde van boeke en lees deur die projek bevorder en help verseker dat daar nog steeds goeie Afrikaanse boeke sal verskyn. Almal kan by hierdie projek baat: lesers, skrywers, boekwinkels en uitgewers.”

Chareldine wil ook hê dat ouers hulle kinders by die dag betrek.

“’n Kind of ’n mens wat lees, verstaan die wêreld beter, weet die wêreld is veel groter as sy leefwêreld, weet ons is nie almal eenders nie en besef ons dink ook nie eenders oor sake nie. Iemand wat lees het ’n geleentheid om ander mense met respek te hanteer.”

Vanjaar se Koop-’n-Afrikaanse-Boekdag word spesiaal opgedra aan wyle oom Nolte Smit (83), ’n spitsraadlid van die VVA. Oom Nolte, ’n oudskoolhoof, is Saterdag 30 Julie oorlede. Die idee om ’n dag af te staan aan die Afrikaanse letterkunde het juis by hom posgevat. 

“Die VVA het groot waardering vir die werk wat hy gedoen het. Hy was ’n besonderse mens en het hard vir die VVA gewerk omdat hy so lief was vir Afrikaans, en teen geen vergoeding nie. Oom Nolte het die VVA se argief behartig en dit is absoluut verstommend as ’n mens deur daardie lêers werk hoe sistematies en netjies hy dié taak voltooi het.”

Oom Nolte word op 14 Augustus – Koop-’n-Afrikaanse-Boekdag – ter ruste gelê.

Vanjaar sal die 17de jaar agtereenvolgens wees wat hierdie dag gevier word.

“Dis in alle opsigte ’n wen-wendag, want lesers, skrywers, uitgewers en boekwinkels word bevoordeel. Lesers kry afslag op boeke waarvoor skrywers tantième verdien. Hoe meer boeke verkoop word, hoe beter vir die totale Afrikaanse boekbedryf, en jy kan deel wees hiervan,” sê Chareldine.

Ondersteun die Afrikaanse boekbedryf en koop ’n Afrikaanse boek vir jouself of skenk dit aan iemand wat nie so bevoorreg is om nuwe boeke te koop nie.

Die volgende boekwinkels en uitgewers vier saam met die Vriende van Afrikaans en die ATKV Koop-’n-Afrikaanse-boekdag en bied afslag tussen 9 en 16 Augustus.

PNA-boekwinkels: 25%-afslag

PNA Strand Square

PNA Somerset Mall

PNA Somerset Square

PNA Eikestad Mall

PNA Stellenbosch Square

PNA The Sanctuary

PNA Whale Coast Mall

PNA Gordonsbaai

PNA Hermanus Station Mall

PNA Swellendam

Exclusive Books: Alle takke; 20%-afslag vanaf 9 tot 15 Augustus.

CUM Books: Alle takke; 20%-afslag op 14, 15 en 16 Augustus.

Protea-boekwinkels: Alle takke; 20%-afslag vanaf 10-14 Augustus.

LAPA Uitgewers: Tussen 10%- tot 75%-afslag op www.lapa.co.za en klaskameraad.co.za op 14 Augustus.