Skip to the content

ATKV-tak Centurion reik boeremusiek-CD uit

Wanneer die kitare op dreef kom en die konsertina begin te sing is dit moeilik om nie jou litte te beweeg of ’n bietjie te skoffel nie.

Boeremusiek het die vermoë om enigiemand aan die dans te kry en daarom het die ATKV-tak Centurion besluit om hulle eie boeremusiekalbum uit te reik.

“Boeremusiek is deel van ons kultuur en ons het al baie navrae gehad oor wanneer ons ’n album gaan uitbring,” sê Willie Jooste, takvoorsitter.

Die Centurion Musiekforum se gelyknamige album is onlangs by die Leeupoortfees bekend gestel.

“Die pandemie het veroorsaak dat baie van ons projekte tot stilstand gebring is en daarom het ons besluit om ’n album op te neem.”

Willie het as takvoorsitter uit sy eie sak betaal vir die opname van die album.

“Die mense is gaande oor die album. Ons het by die fees reeds 30 albums verkoop en van ons musiek het onlangs op RSG se Vastrap gespeel.”

Die album kos R100 en R10 van elke album word weer terug in die tak geploeg om ander projekte te finansier. Die orkeslede kry ook tantieme vir elke CD wat verkoop word.

“Boeremusiek is volksbesit. Ons hoop dat hierdie album sal help om die voortbestaan van boeremusiek te verseker.”

Die orkes beplan om in September by die Boeremusiekgilde naby Bela-Bela op te tree.

Om ’n CD te bestel skakel vir Willie by 082 469 680.

comments powered by Disqus