ATKV borg nuwe en boeiende radioteaterreeks
Elke dorp het ’n karakter – die eksentrieke oom of tannie, die kluisenaar of die dorp se skinderbek.
Dít is juis hierdie buitengewone mense se unieke stories in ’n doodgewone dorp wat die skrywer en aktrise Ilne Fourie met haar radioteaterreeks wil vasvang.
Sonderlinge Siele is ’n reeks episodes wat op Radio Rosestad 100.6 FM gehoor kan word. Jy kan ook Radio Rosestad stroom op https://rosestad.co.za/.
Die reeks is moontlik gemaak deur die ATKV wat as hoofborg optree.
“Daar is wonderlike radioteater op RSG en ons plaaslike radiostasies het nie regtig enige radiodramas waarna Bloemfonteiners kan luister nie,” sê Ilne.
Die radioteaterreeks was die komponis-pianis Anton Esterhuyse se geesteskind.
“Ek het verlede jaar ’n YouTube-reeks, Anton en Vriende, gehad. Ilne was een van my gaste en ons het ’n soortgelyke radiodrama gedoen en ek het musiek oor dit gespeel en dit het wonderlik uitgedraai. Ek het toe besluit ons moet weer kragte saamspan en ’n behoorlike radioteaterreeks doen,” sê Anton.
Volgens Ilne is van die episodes nuutskeppings en ander was bestaande kortverhale wat sy vir radio omgeskep het.
“Dit is wonderlike stories wat mense gaan boei. Sommige van die stories gaan mense laat lag en ander gaan jou ’n traan laat pink. Dit is baie moeilik om mense te laat lag of huil, maar met hierdie reeks gaan dit ’n lag met ’n traan wees.”
Anton verskaf die musiek vir die reeks en hy sê hy moes vooraf na die stories gaan luister om die gepaste musiek vir die stories te skryf.
“Ek wou nie gehad het die musiek moet oordonderend wees nie. Dit moes die storielyn komplementeer. Ek dink ek het daarin geslaag.”
Ilne sê hulle is baie dankbaar dat die ATKV as hoofborg optree.
“Die ATKV was die dryfveer agter hierdie reeks. Sonder hulle sou dit nie moontlik gewees het nie.”
Volgens Johan Esterhuizen, bestuurder: ATKV-Jeugprojekte, is dit vir die organisasie belangrik om projekte te ondersteun wat die taal en kultuur bevorder.
“ATKV-Jeugprojekte is voortdurend op die uitkyk vir nuwe geleenthede en nuwe markte en hierdie inisiatief het na die ideale geleentheid gelyk om betrokke te raak by mense wat die ATKV en spesifiek ATKV-Jeugprojekte in die verlede ondersteun het en steeds ondersteun.”
Die volgende episodes word elke Dinsdag net ná 19:00 op Radio Rosestad uitgesaai:
14 September: Lolita se tango
21 September: Somme
28 September: Die dag toe Iris opgestyg het
5 Oktober: Bernina rafel uit
12 Oktober: Bottels
19 Oktober: Pappa Mia – Deel 1
26 Oktober: Pappa Mia – Deel 2