Skip to main content

Die uitvoerende kunste bied belangrike sleutels om weer menswaardigheid te ontsluit in ’n postpandemiese Suid-Afrika. Só het Marlene le Roux, uitvoerende hoof: Kunstekaap en voorsitter van die ATKV-MSW-direksie tydens die 18de Johan Combrink-gedenklesing in Stellenbosch gesê. Die tema van vanjaar se lesing was “ ’n Nuwe plek in die kuns- en kultuurwêreld”. Die lesing, wat elke jaar deur die Vriende van Afrikaans, ’n divisie van die ATKV, aangebied word, is vanjaar vir die eerste keer ook virtueel in die buiteland uitgesaai. Vanjaar het die klem op menswaardigheid geval. Etienne Basson (33) van Pniël het die geleentheid vir die derde keer bygewoon vanjaar. Hy het opgemerk dat die lesing elke jaar vir hom iets beteken.

Self diep betrokke by gemeenskapswerk, het hy aanklank gevind by die fokus van vanjaar se lesing. Sy twee projekte, Enviro Love en die Idas Valley Community Trails-projek, het onderliggend ten doel om aan kinders en mense uit die betrokke gemeenskappe hul menswaardigheid terug te gee.

Die Enviro Love-projek gee kinders van Lavender Hill, op die Kaapse Vlakte, geleentheid om maandeliks saam voetslaanroetes in die Kaapstadse omgewing te ontdek. Etienne bied ook werkswinkels vir die kinders aan, waarin hulle waardevolle kennis oor die natuur opdoen. Maar, sê Etienne, vir die kinders beteken hierdie projek veel, veel meer as net stap en natuurpraatjies.

“Die kinders geniet die uitkomkans, om bymekaar te wees, saam te wees en te gesels. Dit is vir hulle ’n tyd waarin hulle absoluut hulself kan wees sonder om oordeel van ander te ervaar. Dit is vir my ook baie waardevol om te kan sien hoe hulle groei. Van skaam, teruggetrokke kinders tot waar ek kan sien hoe sommiges se leierskapeienskappe ontwikkel het; hul kommunikasievaardighede, sosiale vaardighede, die vermoë om hulself in hul eie taal te kan uitdruk.”

Etienne sê toe Quinton Adams, ’n opvoedkundige sielkundige, verlede jaar by die gedenklesing opgetree het, het hy hom gevra hoe hy die kinders in sy projek kan leer om meer uitdrukkingsvolle taal te gebruik. Quinton se antwoord was “léér hulle hoe”. Hierna het Etienne besluit om velle papier uit te druk met byvoeglike naamwoorde vir die natuur, asook dié wat emosie beskryf. Voor elke staptog blaai die kinders deur die velle papier en skryf dan drie sinne om die natuur te beskryf, asook drie sinne om te sê hoe hulle daardie dag voel. “Vandat ek dit doen, gebruik die kinders al meer uitdrukkingsvolle taal. Dis nie meer net ‘die boom is groen’ nie, nou is die boom lowergroen,” sê hy.

Dit is ook vir Etienne uiters belangrik dat die kinders besef dat hulle nooit iemand anders moet probeer wees om by ander in te pas nie. Dit is veral belangrik as dit by taalgebruik kom. “My boodskap is, wees net jouself. Altyd. Moenie voel jy moet aanpas om iets te wees wat jy nie is nie. Praat die taal waarmee jy gemaklik is. Die grense van ’n taal kan ’n mens baie keer onderdruk. As jy op ’n sekere manier en met ’n sekere aksent praat, kyk mense snaaks na jou. Maar ek sê nee, dit is wie jy is. Neem eienaarskap.”

Deur die Idas Valley Community Trails-projek wat Etienne en twee vriende twee jaar terug begin het, het hulle bewys dat wanneer jy eienaarskap neem van iets – of dit jou taal of ’n gemeenskaplike oop ruimte soos ’n park is – groei en ontwikkel dit tot iets waarop almal trots voel. Die Idas Valley-natuurarea (230 ha) was vir baie jare dié plek waar die plaaslike gemeenskap gaan stap, fietsry en selfs swem het. Oor die laaste jare is dit egter afgeskeep en het in ’n vullishoop ontaard. In die pandemie het Etienne en ’n paar vriende besluit om eienaarskap te neem.

“Ons het besef hoe belangrik dit is om ’n plek van rekreasie te hê. Veiligheid was ’n groot probleem en ons het dit ook getakel.”

Deur befondsing uit die openbare en private sektor kon hulle 11 gidse aanstel wat besoekers op begeleide toere neem. Op dié manier vind opheffing op verskeie vlakke plaas. Plantegroei word herstel, skoolkinders leer oor die unieke plantegroei van die omgewing en stories oor die omgewing word met mekaar en besoekers gedeel.

Deur platforms soos die Johan Combrink-gedenklesing word geleentheid geskep vir gesprekvoering en groei. “Dit is die gesprekvoering met ons eie mense, in ons eie taal, wat belangrik is en wat ons aanspoor om vrae te vra en oplossings te soek. Dit is ook gesprekke soos dié wat my aangespoor het om ’n positiewe impak op die samelewing te maak, om ’n verskil te maak,” sê Etienne.